Broccoli pas uitstekend by gerookte varkvleis en hoender. Ons het gou ’n lekker gesinsete daarmee geprakseer.
Bestanddele
1 x 500 g pak pasta van jou keuse
60 ml botter
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, gekap
1 x 250 g sampioene, gesnipper
60 ml koekmeel
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
625 ml melk
2 groot, gerookte hoenderborsies, fyn gesny
1 groot kop broccoli, fyn gesny
Krummelkors:
3 snye volgraanbrood
15 ml olyfolie
30 g (1/3 wiggie) bloukaas, gekrummel (opsioneel)
Kook die pasta in ’n groot pot vinnig kokende soutwater tot gaar, maar steeds ferm. Terwyl die pasta kook, smelt die botter in ’n groot pan en braai die uie en knoffel stadig tot sag. Voeg die sampioene by en braai tot gaar. Sprinkel die koekmeel, sout en peper oor en verhit, terwyl jy roer, tot dit borrel. Voeg die melk by en verhit, terwyl jy roer, tot kookpunt. Prut vir twee minute. Verwyder van die hitte en roer die hoender by. Voeg die broccoli vyf minute voor die einde van die pasta se kooktyd by die pasta in die pot. Kook tot die pasta en broccoli net-net gaar is en dreineer goed. Meng die pasta en broccoli met die sous en skep in ’n groot oondbak. Pols die brood, olie en kaas vinnig in ’n voedselverwerker tot krummelrig en sprinkel oor die pasta. Bak vir 20 minute tot die pasta deurwarm en die bolaag bros is. Lewer 6-8 porsies.