Pekanneut-en-karamellaagkoek

Deur Arina du Plessis
10 Januarie 2017
Die pekanneute word in botter gebraai voor dit by die beslag gevoeg word.

Dit gee ’n ongelooflike lekker smaak aan die koek. Laat staan die koek vir ’n dag in ’n lugdigte houer voor jy dit voorsit. Dit gee al die geure kans om te ontwikkel.

Beslag
■ 45 ml sagte botter
■ 310 ml pekanneute, fyn gekap
■ 150 g sagte botter
■ 280 ml suiker
■ 2 ekstragroot eiers
■ 500 ml koekmeel
■ 8 ml bakpoeier
■ 2 ml sout
■ 160 ml melk
■ 10 ml vanieljegeursel

Versiersel
■ 100 g sagte botter
■ 500 ml versiersuiker
■ 125 ml geroosterde pekanneute, fyn gekap
■ 1 blik (360 g) karamelkondensmelk
■ Ekstra pekanneute vir versiering (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer twee koekpanne van 20 cm. Voer uit met bakpapier en smeer weer.

Smelt die 45 ml botter in ’n swaarboompan en braai die pekanneute stadig oor lae hitte tot goudbruin. Laat afkoel en kap grof. Hou eenkant.

Verroom die 150 g botter en suiker in ’n groot mengbak tot donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg die meel, bakpoeier en sout by, gee die mengsel ’n roer of twee en voeg dan die melk, vanieljegeursel en gebraaide pekanneute by. Meng verder tot ’n gladde, dik beslag.

Verdeel die beslag tussen die voorbereide panne en smeer gelyk. Bak vir sowat 25-30 minute tot deurgaar. Laat vir 5 minute in die panne afkoel en keer dan uit op draadrakke om verder af te koel tot kamertemperatuur. Sny nou elke koeklaag in die helfte deur om 2 dunner lagies te kry.

Klits die botter en versiersuiker saam tot romerig. Voeg die neute by en klits deur. Voeg ’n paar druppels melk by (indien nodig) om ’n smeerbare, maar nie te sagte, versiersel te kry. Skep op elke koeklaag ’n lepel van die pekanneutbotterversiersel en ’n lepel karamelkondensmelk.

Meng dit terwyl jy dit gelyk smeer. Stapel die koeklae op mekaar en versier die koek ook rondom en bo-op met ’n mengsel van die botterversiersel en karamelkondensmelk. Versier met ekstra pekanneute, indien verkies. Lewer 16-18 porsies.


Kommentaar

Een kommentaar op “Pekanneut-en-karamellaagkoek

  1. Miggie Pelser
    Miggie Pelser

    Heerlike Pekanneut-en-karamellaagkoek


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Boerewors-en-bonekerrie. Foto: Myburgh du Plessis

    Boerewors-en-bonekerrie

    Ek is besonder lief vir hierdie resep.

  • Koue kerriehoender. Foto: Berna Coetzee/Myburgh du Plessis

    Koue kerriehoender

    Wees slim met ’n halfleë spens dié Januarie. Die sakpasresepte in Boerekos 9[…]

  • Gevulde boerewors. Foto: Myburgh du Plessis

    Gevulde boerewors

    Kikker boerewors in ’n japtrap só op. Kinders en grootmense sal ewe veel van […]