Piesang-en-wortel-volgraanmuffins

Deur Arina du Plessis
20 Maart 2017
Hier’s ’n uitstekende manier om oorryp piesangs te gebruik!

In die hitte van die somer hou vars piesangs nie lank in die vrugtebak nie. As daar een of twee is wat oorryp geword het, bak hierdie muffins vir ontbyt of om in te pak skool toe of werk toe.

■ 500 ml volgraanmeel
■ 5 ml elk koeksoda en bakpoeier
■ 7 ml kaneel
■ 1 ml sout
■ 250 ml suiker
■ 125 ml pekanneute, fyn gekap
■ 2 groot wortels, fyn gerasper
■ 1 groot of 2 klein oorryp piesangs, goed fyngedruk
■ 60 ml klapper
■ 3 eiers, geklits
■ 250 ml olie
■ 10 ml vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180°C en voer ’n muffinpan uit met papiervormpies.

Meng die meel, koeksoda, bakpoeier, kaneel, sout en suiker in ’n groot bak en maak ’n holte in die middel. Meng die res van die bestanddele in ’n ander bak en voeg dit by die droë bestanddele.

Roer ’n paar keer met ’n houtlepel tot die mengsel net-net deurgemeng is. Verdeel die beslag tussen die voorbereide papierkoppies. (As jy wil, kan jy ’n skyfie vars piesang bo-op elke porsie beslag sit, soos op die foto.)

Bak vir 15-20 minute tot uitgerys en goudbruin. Lewer 12 muffins.

Kombuiswenk
As jy die muffins wil versier soos op die foto, meng 150 ml gesifte versiersuiker met ’n paar druppels melk, tot jy ’n slap (maar nie loperige) versiersel verkry. Drup ’n klein bietjie oor elke muffin en laat staan om hard te word.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels