Piesang-jogurtkoek met klapperstrooisel

Deur Arina du Plessis
4 Januarie 2017
Hierdie koek is ’n lekker manier om die oorryp vrugte te gebruik.

Veral in die somer raak piesangs baie vinnig ryp. Hoe ryper die piesangs, hoe lekkerder is die koek se geur.

Klapperstrooisel
■ 125 ml klapper
■ 60 ml bruinsuiker
■ 5 ml kaneel
■ 3 ml gemmer

Beslag
■ 120 g sagte botter
■ 125 ml suiker
■ 3 ekstragroot eiers
■ 4 groot, oorryp piesangs, goed fyngedruk
■ 125 ml natuurlike jogurt
■ 30 ml suurlemoensap
■ 560 ml koekmeel
■ 5 ml bakpoeier
■ 5 ml koeksoda
■ Knippie sout

Meng alles vir die klappermengsel saam in ’n bakkie en hou eenkant. Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ’n ringkoekpan baie goed met kleefwerende kossproei.

Verroom die botter en suiker baie goed en klits die eiers een vir een by. Voeg die fyngedrukte piesang, jogurt en suurlemoensap by en meng liggies. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout oor en vou in, tot goed gemeng. Skep die helfte van die beslag in die voorbereide pan.

Sprinkel die helfte van die klappermengsel egalig oor en skep dan die res van die beslag bo-op. Smeer liggies gelyk en sprinkel die orige klappermengsel oor. Bak vir 40-55 minute, tot die koek deurgaar is.

Laat ’n paar minute in die pan afkoel en keer dan versigtig op ’n draadrak uit om af te koel tot kamertemperatuur. Bêre in ’n lugdigte houer. Lewer 12-14 porsies.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Lemoenbloeisels

    As ’n mens se botter opraak terwyl jy besig is om te bak vir ’n fotosessie, […]

  • Veselryke sjokoladekoekies

    Hierdie koekies is propvol vesel en hawermout. Ek plak dit graag met gesmelte sj[…]

  • Klapperkoekies

    Die perfekte koekies om in ’n beker rooibostee te doop.