Plaaskombuis 2: ’n Span wat saamstaan

Deur Arina du Plessis
14 Junie 2017
Die Plaaskombuis-span kuier diè week by Margery en Japie van Reenen by Harrismith. Kyk op Woensdae om 18:30 op Via (kanaal 147 op DStv).

Japie en Margery van Reenen glo aan uithou en vorentoe kyk. Daarvan getuig hul lewe en die plaasbakkery en koffiewinkel by Harrismith wat hulle ondanks groot uitdagings op die been gebring het.

Lasagne

Vleissous
1 ui, fyn gekap
2 wortels, geskraap en gerasper
2 knoffelhuisies, fyngekap
30 ml botter of margarien
125 g (halwe pakkie) sampioene, gesnipper
1 kg maalvleis
1 hoenderaftrekselblokkie, fyn gekrummel
60 ml blatjang
60 ml Spur Grill Basting
60 ml Spur Hickory Basting
100 ml tamatiepuree
Sout en vars gemaalde swartpeper

Witsous
250 g botter of margarien
190 ml koekmeel
1 liter melk
125 ml gerasperde cheddarkaas

1 pak (500 g) lasagnevelle
250 ml gerasperde cheddarkaas

Vir die vleissous:
Braai die ui, wortels en knoffel in die botter (of margarien) tot sag. Voeg die sampioene by en braai tot gaar. Voeg die maalvleis by en braai tot gaar. Voeg die aftrekselblokkie, blatjang, twee soorte braaisous en tamatiepuree by. Geur na smaak met sout en peper en verhit tot kookpunt.

Laat prut die sous tot geurig en gaar, maar nog lekker souserig. Maak intussen ’n witsous met die botter (of margarien), koekmeel en melk. Geur na smaak met sout en peper. Verwyder van die hitte en roer die 125 ml gerasperde kaas by.

Voorverhit die oond tot 180°C. Skep ’n groot lepel van die vleissous in ’n oondbak en versprei egalig. Pak ’n laag lasagnevelle bo-op en skep dan weer ’n lagie vleissous, gevolg deur ’n lagie witsous en ’n klein bietjie gerasperde kaas. Dan weer ’n laag lasagnevelle, vleissous, witsous en ’n lagie kaas. Herhaal die lae en eindig met ’n laag witsous en die orige gerasperde kaas bo-op. Laat staan die lasagne vir ’n rukkie voor jy dit in die oond sit. Bak vir ongeveer 30 minute tot goudbruin en deurgaar. Lewer 6 porsies.

Malvapoeding

Beslag
2 eiers
250 ml suiker
45 ml asyn
30 ml appelkooskonfyt
500 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
Knippie sout
10 ml koeksoda
500 ml melk

Sous
500 ml suiker
500 ml melk
125 g botter
250 ml water
5 ml vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n oondbak (of 6-8 individuele bakkies) met botter of spuit met kleefwerende kossproei. Klits die eiers en suiker goed saam tot lig en dik. Voeg die asyn en appelkooskonfyt by, meng deur en voeg daarna die koekmeel, bakpoeier en sout by. Los die koeksoda in die melk op en voeg die took by.

Klits tot ’n gladde beslag. Giet die beslag in die voorbereide oondbak (of bakkies) en bak vir ongeveer 30 minute (’n bietjie korter vir individuele poedings) tot deurgaar. Verhit intussen al die bestanddele vir die stroop saam tot kookpunt. Giet die kokende stroop oor die poeding(s) sodra dit uit die oond kom. Sit warm voor met vla en roomys. Lewer 6-8 porsies.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels