Post Toastie-tert

Deur Arina du Plessis
18 April 2017
Hier’s ’n voorsmakie uit Callie Maritz en Mari-Louis Guys se nuwe resepteboek - Die Suid-Afrikaanse Melktert-versameling.

Post Toasties was ’n bekende en gewilde soort ontbytgraan in Suid-Afrika voordat Kellogg’s die maatskappy in 1982 oorgekoop het. Maar die naam het vasgesteek, en dis hoe ons vandag nog in die volksmond na graanvlokkies verwys.

Kors
■ 4 x 250 ml (4 k) ontbytgraanvlokkies
■ 50 g botter, gesmelt
■ 30 ml suiker

Vulsel
■ 250 ml suiker
■ 160 ml koekmeel
■ 6 eiergele, liggies geklits
■ 1,25 liter melk

Meringue-bolaag
■ 6 eierwitte
■ Knippie kremetart
■ 125 ml strooisuiker

Kors:
Voorverhit die oond tot 180°C. Meng die graanvlokkies, botter en suiker in ’n groot mengbak. Voer die boom en ’n entjie teen die kante van ’n oondvaste 35 cm x 25 cm-oondbak uit met die mengsel. Bak vir 10 minute. Hou eenkant terwyl jy die vulsel berei.

Vulsel:
Plaas die suiker, meel, eiergele en 1 koppie (250 ml) van die melk in die mengbak van ’n elektriese menger en gebruik die klitserhegstuk om dit te meng. Verhit die res van die melk in ’n kastrol tot net onder kookpunt.

Verwyder van die hitte, hou aan klits en giet die warm melk in ’n egalige straaltjie by die meel-en-eierpasta. Giet die mengsel terug in die kastrol, verhit verder oor matige hitte en klits vir ongeveer 2 minute tot die mengsel verdik en kookpunt bereik. Verwyder van die hitte en skep die vla versigtig in die kors.

Meringue-bolaag:
Plaas die eierwitte en knippie kremetart in die mengbak van die elektriese menger, gebruik die klitserhegstuk en klits tot skuimerig. Hou aan klits en voeg die suiker geleidelik by. Klits tot stywe punte vorm. Gebruik ’n versiersak en spuit of skep hopies meringue oor die vlavulsel. Bak vir ongeveer 10 minute of tot goudbruin. Lewer 1 groot tert.

Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling
Vir die boet-en-sus-kosspan Callie Maritz en Mari-Louis Guy was ’n boek oor melktert ’n droom wat waar geword het.

Vir albei is dit die bekendheid, daardie smaak-na-huis kosherinnering wat dié tert by ons almal wakker maak, wat hulle so passievol oor die onderwerp laat skryf. In hul nuutste boek, Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling, verskyn resepte vir melktert in menige gedaante – van spoggerige skilferkraagskeppings tot in-’n-kits-lagies wat blitsig in die yskas stol.

Daar is melkpoedings, piepklein melkterthappies en selfs melktert-shooters. Hulle het ook geleer dat daar op omtrent elke dorp ’n kinkel te vinde is – van Kenhardt tot in Doringbaai. En tussendeur pryk ’n paar bekendes se beste melktertresepte (want almal glo mos hul familie se melktertresep is die heel beste . . .).

Ja, daar is nie minder nie as 60 variasies op die tradisionele boere-tert in hierdie boek. As jy ’n sagte plekkie vir melktert het (en wie het dan nie?), skaf ’n eksemplaar aan vir jou boekrak. Die boek kos R280 en word deur Human & Rousseau uitgegee.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Driekaas-macaroni

    Die beste trooskos is sonder twyfel ’n bak romerige pasta met hope gesmelte ka[…]

  • Plaaskombuis 2: Beesfilet-carpaccio

    In episode 3 van Plaaskombuis 2 kuier Elma Postma by Stephan en Maretha De Kock,[…]

  • Gestopte hoenderdye

    Ek maak graag hoender op dié manier gaar. Deur vulsel onder die vel te stop, so[…]