Sjokoladekoek met brandewynstroop

Deur Arina du Plessis
30 Desember 2016
Hierdie donker, klam en stroopdeurdrenkte koek word net lekkerder hoe langer dit staan.

Ek sit dit maklik ook as nagereg voor met ’n skeppie goeie vanielje- of koffieroomys daarby.

Koek
■ 250 ml koekmeel
■ 60 ml kakao
■ 250 ml suiker
■ 2 ml sout
■ 10 ml bakpoeier
■ 125 ml kookwater
■ 125 ml olie
■ 4 eiers, geskei

Stroop
■ 180 ml ingedampte melk
■ 125 ml suiker
■ 60 ml brandewyn

Versiersel
■ 80 g donker- of melksjokolade, gekap
■ 80 ml ingedampte melk

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n ringkoekpan van 25 cm met olie.

Sif die meel en kakao en meng met suiker, sout en bakpoeier. Klits die kookwater en olie saam. Skei die eiers. Voeg die eiergele by die olie-en-watermengsel en klits goed. Hou die eierwitte eenkant.

Voeg die vloeistofmengsel by die droë bestanddele en meng deur. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou by die beslag in. Skep in die pan en bak vir 25-30 minute tot deurgaar.

Terwyl die koek bak, verhit die ingedampte melk en suiker tot kookpunt. Roer die brandewyn by, laat een keer vinnig opkook en verwyder van die hitte. Sodra die koek uit die oond kom, prik gaatjies daarin en giet die warm stroop oor. (Dit sal lyk asof die stroop te veel is, maar alles sal intrek.)

Laat die koek afkoel en keer uit. Smelt die sjokolade en ingedampte melk saam tot glad en smeer oor die koek. Versier met vars kersies of sjokoladekrulle. Lewer 1 middelslagkoek.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels