Skaapvleis-en-sampioenpastei

Deur Arina du Plessis
11 Julie 2017
Dek jou tafel vir nog ’n ware wintersdis...

■ 30 ml olyfolie
■ 2 rooi uie, in dun wiggies gesny
■ 1 kg stoweskaapvleis, in stukkies gesny
■ ’n Paar takkies vars roosmaryn
■ Sout en peper na smaak
■ 250 ml rooiwyn
■ 250 ml sjerrie
■ 2 beesvleisaftrekselblokkies, gekrummel
■ Koekmeel
■ 30 ml botter
■ 2 knoffelhuisies, fyn gekap
■ 250 g bruin sampioene, fyn gesnipper
■ ’n Rol (300 g) skilferkorsdeeg

Voorverhit die oond tot 180°C. Giet die olie in ’n diep oondbak en pak die uie in ’n enkellaag daarin. Skep die vleis bo-op sodat dit ook in ’n enkellaag lê. Sprinkel die roosmaryn, sout en peper oor.

Giet die rooiwyn en sjerrie oor en sprinkel die gekrummelde aftrekselblokkies oor. Roer deur, bedek met ’n dubbele laag foelie en bak vir ongeveer vier uur tot die vleis baie sag is. Haal die vleis uit die oond en skakel die oond af.

Skep die vleisblokkies in ’n pasteibak en giet die pansouse in ’n kastrol. As dit genoeg is vir vleissous, verdik dit met ’n bietjie koekmeel of roux (uitgekookte meel-en-botterpasta) en geur na smaak met sout en peper.

As die pansouse te min is, voeg gelyke hoeveelhede rooiwyn, sjerrie en water by en verdik dit. Giet die verdikte, gaar sous oor die vleisblokkies.

Verhit die botter in ’n pan en braai die knoffel en sampioene stadig daarin tot gaar. Roer die sampioene en pansouse deur die vleisvulsel. Laat staan om af te koel.

Voorverhit die oond tot 200°C. Sny ’n stuk skilferkorsdeeg wat groot genoeg is om die pastei te bedek. Gebruik enige afvalstukkies om bo-op te versier. Sodra die vleisvulsel koud genoeg is, sit die deeg bo-op.

Bak tot goudbruin en gepof, verlaag die temperatuur tot 180°C en bak tot die vulsel kokend is. Sit voor met groente of slaai. Lewer 8 porsies.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Lemoenbloeisels

    As ’n mens se botter opraak terwyl jy besig is om te bak vir ’n fotosessie, […]

  • Veselryke sjokoladekoekies

    Hierdie koekies is propvol vesel en hawermout. Ek plak dit graag met gesmelte sj[…]

  • Klapperkoekies

    Die perfekte koekies om in ’n beker rooibostee te doop.