Spaanse hoender met rys

Deur Arina du Plessis
12 Junie 2017
Dié gereg se naam is Arroz con pollo en is ’n gewilde ete in Spanje, waar dit onstaan het.

Die geure van komyn, oreganum, rooi soetrissie en knoffel trek heerlik deur die hoendervleis en rys. Arroz con pollo is nie duur om te maak nie en al wat saam met dit op tafel nodig is, is ’n groot bak groenslaai en yskoue witwyn.

■ 10 hoenderstukke, met vel

Marinade
■ 5 ml droë oreganum
■ 5 ml droë, gemengde kruie
■ 10 ml komyn
■ 3 ml witpeper
■ 45 ml rooiwynasyn
■ 30 ml olyfolie
■ 1 ui, gekap
■ 1 rooi soetrissie, in repies gesny
■ 5 ml fyngekapte, vars knoffel
■ 1 tamatie, ontpit en gekap
■ 750 ml water
■ 250 ml droë witwyn
■ 1 blikkie (340 ml) ligte bier
■ 4 ml borrie
■ 15 ml tamatiepasta
■ 450 g witrys
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Druk die hoender goed droog. Meng die bestanddele vir die marinade saam en giet oor die hoender. Vryf die hoender goed met die marinade in en laat staan vir 15-30 minute.

Verhit die olyfolie in ’n groot swaarboomkastrol en braai die ui en soetrissie stadig oor matige hitte daarin. Voeg die knoffel en tamatie by en braai verder tot die knoffel gaar is. Verwyder van die hitte en hou eenkant.

Verhit nog ’n bietjie olyfolie in ’n swaarboompan. Geur die hoenderstukke met sout en braai dit in lotte in die olie bruin. Skep die bruingebraaide hoender uit die pan by die ui-en-soetrissiemengsel in die kastrol. Giet ’n bietjie van die water in die pan en verhit terwyl jy die pan se boom skraap. Giet dit oor die hoender in die kastrol.

Voeg die res van die water saam met die wyn, bier, borrie en tamatiepasta by die hoender in die kastrol. Verhit tot kookpunt en prut oor lae hitte vir ongeveer 30 minute. Voeg die rys by, roer liggies deur en prut vir nog 30 minute tot gaar.

Bedek die kastrol en laat staan vir 10 minute sodat die rys kan stoom. Meng deur, geur met sout en peper en sit voor met slaai. Lewer 8 porsies.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels