Spinasie-en-fetapastei

Deur Arina du Plessis
12 Julie 2017
Theresa de Vries, ’n boervrou van die Boesmanland, is SA se deeg-ghoeroe. Haar eerste boek, waarin sy al haar geheime en slim truuks vir sukses verklap, het pas verskyn. Hier’s ’n voorsmakie uit DEEG.

Kaasbroskors
■ 600 g koekmeel
■ 10 ml sout
■ 5 ml rooipeper
■ 5 ml paprika
■ 10 ml mosterdpoeier
■ 360 g botter of margarien
■ 100 g cheddarkaas, gerasper
■ 100 g goudakaas, gerasper
■ 50 ml fyngekapte pietersielie
■ 2 eiers, geklits
■ Sowat 140 ml koue water
■ Geklitste eier vir bo-op verf

Vulsel
■ Bietjie kookwater vir week
■ 125 ml goue sultanas
■ 1 ui, fyn gekap
■ 60 ml olyfolie
■ 500 g spinasie, opgesny
■ Hand vol pietersielie, fyn gekap
■ 10 ml basiliepesto
■ 15 ml fyngekapte koljanderblare
■ 100 g fetakaas, gekrummel
■ 150 g roomkaas of maaskaas
■ 5 ml sout
■ Swartpeper na smaak
■ 1 eier, geklits

Deeg: Sif die koekmeel, sout, rooipeper, paprika en mosterdpoeier saam in ’n mengbak. Vryf die botter of margarien in die meelmengsel in tot dit soos broodkrummels lyk.

Voeg die kaas en pietersielie by. Gebruik jou vingerpunte en meng goed deur. Meng die eier en die helfte (omtrent 65 ml) van die water saam. Voeg by die meelmengsel en meng tot ’n sagte deeg.

Voeg nog water by, indien nodig. Draai die deeg toe in kleefplastiek en plaas in die yskas vir minstens 30 minute. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer of bespuit ’n 22 cm-losboomkoekpan.

Vulsel: Gooi kookwater oor die sultanas en laat week tot uitgeswel. Dreineer en hou eenkant. Braai die ui in die olie tot sag. Voeg die spinasie by en roerbraai tot die spinasie verwelk het. Verwyder van die hitte en voeg die sultanas en die res van die vulselbestanddele by, die eier heel laaste.

Deeg: Haal die deeg uit die yskas. Sny een derde van die deeg af en hou eenkant. Rol die res van die deeg uit tot 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer die pan daarmee uit en laat die deeg oor die rand hang.

Skep die vulsel in die kors en verf die deegrand met water. Rol die orige een derde deeg in ’n reghoek uit, effens groter as die pan. Sny die deegreghoek in repe van 1 cm breed. Vleg ’n traliewerk van die deegrepe op ’n stuk waspapier en plaas in die vrieskas om styf te word.

Haal uit die yskas en plaas die traliewerk bo-op die vulsel. Gebruik ’n skerp mes en sny die deeg wat oorhang, netjies af. Verf die traliewerk met eier en bak vir 25-30 minute of tot goudbruin en gaar. Lewer 8 porsies.

Meer oor broskorsdeeg
Vir broskorsdeeg word daar basies 250 g smeer — soos botter, margarien, vet of olie — vir 500 g meel gebruik. Die smeer word in die droë bestanddele ingesny of met die vingerpunte ingevryf. Net genoeg vloeistof word gebruik om die deeg mee aan te maak sodat dit maklik uitgerol kan word.

Laat rus die deeg in die yskas, maar laat dit 20-30 minute teen kamertemperatuur staan om dit hanteerbaar te maak — anders kraak dit as dit uitgerol word.

DEEG


In Theresa de Vries se eerste boek, DEEG, word alle soorte deeg bespreek om terte of pasteie mee te maak.

Dit is ’n besonderse boek wat al die kunsies van deeg fynkam: bestanddele, toerusting, basiese beginsels en puik resepte. Dit dek ook algemene foute wat by deeg kan voorkom en die oorsake daarvan. Word ’n bobaasbakker met hierdie boek wat selfs intimiderende deegresepte maklik maak.

Oor die skrywer: Theresa de Vries was een van die deelnemers aan Kokkedoor 1. Sedertdien bied sy landwyd kursusse aan oor deeg — met al die kunsies en wenke. As boervrou staan haar hande vir niks verkeerd nie. DEEG is by alle goeie boekwinkels beskikbaar en kos R285.


Kommentaar

Een kommentaar op “Spinasie-en-fetapastei

  1. Henry
    Henry

    Soek resep vir regte boere brood.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels