Toffieroomys met pralien

Deur Arina du Plessis
22 Desember 2016
Dit is moelik om ’n gunsteling-roomysresep te kies. Daar is so baie wat vir my onweerstaanbaar is, maar hierdie dekadente dubbeltoffie- lekkerte is na aan bo-aan my lysie.

Ek karamelliseer die suiker tot dit donker is – byna té ver. Dit balanseer die soet en gee ’n diep, donker toffiesmaak wat jy eenvoudig nie kan namaak of ooit in winkelroomys sal proe nie. Eet die roomys op sy eie of sit ’n skeppie by nagereg, soos appeltert, sjokoladefondant of gebakte kaaskoek, voor.

■ 8 eiergele (sien “Kombuiswenk”)
■ 375 ml warm melk
■ 200 ml suiker
■ 250 ml louwarm room
■ 180 ml ekstra suiker
■ 250 ml gekapte, geroosterde neute van jou keuse

In ’n groot mengbak, klits die eiergele goed tot lig. Voeg die warm melk in ’n dun straaltjie by die eiergele terwyl jy klits. Klits vir ongeveer 3 minute. Hou die mengsel dan eenkant.

Gooi die suiker in ’n swaarboompan en skud die pan sodat die suiker ’n egalige lagie vorm. Verhit, terwyl jy die pan kantel en skud, maar nie roer nie. Sodra ál die suiker gesmelt is, verhoog die hitte en laat die suiker tot ’n diep karamelkleur kook. Voeg nou die louwarm room in ’n dun straaltjie by die karamel (wees versigtig, dit sal verwoed opborrel). Roer aanhoudend oor lae hitte tot die mengsel glad is.

Voeg nou die karamelsous in ’n dun straaltjie by die eiermengsel terwyl jy klits. Verkoel die karamelvla tot koud en karring dit dan in ’n roomysmaker tot byna gevries. As jy nie ’n roomysmaker het nie, giet die koue karamelvla in ’n geskikte bak en vries dit tot die buitekante begin vries. Klits die mengsel goed deur (om die yskristalle op te breek en die roomys ’n gladde tekstuur te gee). Vries weer en herhaal die klits-en-vriesproses nog een keer.

Gooi die 180 ml ekstra suiker in ’n swaarboompan en verhit, terwyl jy die pan liggies skud en kantel, sodat die suiker egalig smelt. Sodra ál die suiker gesmelt is, verhoog die hitte en kook tot ’n donker karamelkleur. Voeg die neute by en giet die kokende karamel-en-neute op ’n bakplaat wat liggies met kleefwerende kossproei gespuit is. Laat staan om hard te word.

Kap die harde pralien met ’n sjefsmes in kleiner stukkies (of gebruik ’n koekroller of ’n ander swaar voorwerp om dit grof te breek)en sit dit met die toffieroomys voor. Lewer 6-8 porsies.

Kombuiswenk
Gebruik die eierwitte om meringue te maak. Jy hoef dit nie dadelik te doen nie – eierwitte kan suksesvol gevries word.


Kommentaar

Een kommentaar op “Toffieroomys met pralien

  1. trudiehg@gmail.com
    trudiehg@gmail.com

    Geniet die roomys


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Driekaas-macaroni

    Die beste trooskos is sonder twyfel ’n bak romerige pasta met hope gesmelte ka[…]

  • Plaaskombuis 2: Beesfilet-carpaccio

    In episode 3 van Plaaskombuis 2 kuier Elma Postma by Stephan en Maretha De Kock,[…]

  • Gestopte hoenderdye

    Ek maak graag hoender op dié manier gaar. Deur vulsel onder die vel te stop, so[…]