Varkvleiskerrie met bakpoeier-roti

Deur Arina du Plessis
10 Julie 2017
Dek die tafel vir nog ware winterkos.

■ 1 ui, gekap
■ 45 ml olyfolie
■ 30 ml vars gerasperde gemmer
■ 3 knoffelhuisies, fyn gekap
■ 1 groen brandrissie, fyn gekap
■ 5 ml gemaalde koljander
■ 15 ml komyn
■ 2 ml borrie
■ 15 ml kerriepoeier
■ 1 blik (410 g) gekapte tamaties
■ 125 ml water
■ Sout, swartpeper en knippie suiker
■ 30 ml olyfolie
■ 750 g varkfilet, in dun repies gesny
■ 100 ml dik, natuurlike jogurt
■ Sap van een suurlemoen
■ Geroosterde kasjoeneute en vars koljander, om mee voor te sit

Braai die ui in die olie tot sag. Voeg die gemmer, knoffel, brandrissie, speserye en kerriepoeier by en braai tot geurig. Voeg die tamaties en water by en verhit tot kookpunt. Prut vir ongeveer 10 minute. Geur na smaak met sout, peper en suiker.

Terwyl die sous prut, verhit die olyfolie in ’n pan en braai die varkfiletrepies daarin tot net-net goudbruin. Skep die vleis in die geurige kerriesous en prut vir ongeveer 10 minute. Verwyder van die hitte, roer ’n paar lepels jogurt deur en geur die res van die jogurt met suurlemoensap om saam met die kerrie voor te sit.

Rond af met grof gekapte, geroosterde kasjoeneute en vars koljanderblare. Sit die kerrie voor in roti (sien resep hieronder) of op rys. Lewer 6 porsies.

Bakpoeier-roti
Sif 1 kg koekmeel, 5 ml bakpoeier en 7-10 ml sout saam. Vryf 100 g botter (in blokkies gesny) daarby in. Voeg ongeveer 250 ml warm water bietjie vir bietjie by en meng tot ’n gladde deeg vorm (jy sal dalk ’n bietjie meer as 250 ml water nodig kry).

Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en knie liggies. Verdeel in 10 ewe groot dele. Rol elke deel deeg in ’n balletjie. Rol elke balletjie deeg so dun as moontlik uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Hou 250 ml ghee gereed. Smeer elke deegsirkel met 10 ml ghee en rol soos ’n konfytrol op om ’n deegworsie te vorm. Draai die deegworsie dan om jou vinger om ’n spiraal te vorm en druk die punt deur die gat waar jou vinger was.

Bedek met kleefplastiek. Doen dieselfde met elke balletjie deeg. Druk die deegspirale plat en rol elkeen weer dun uit (tot ongeveer sirkels van 20 cm). Verhit van die orige ghee en braai elke roti in ’n bietjie ghee tot goudbruin, deurgaar en vlokkig.

Plaas die warm roti in ’n teedoek en klap dit heen en weer tussen jou handpalms om dit ekstra vlokkig te maak. Lewer 10 groot roti’s.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Teeskons met vrugte

    Hierdie klein skons het al die geure van Kersfeesgebak. Sit dit voor met botter […]

  • Okkerneut-en-heuning-skonwiel

    ’n Louwarm botterbroodjie met saggeklopte room en aarbeikonfyt is ’n immerge[…]

  • Volgraan-driekaas-panskons

    Propvol geur en vesel. Hier hoef jy nie eens skons uit te druk nie; jy bak eenvo[…]