Worshonde kry maklik koud en jassies help om hulle te beskerm teen die koue. Foto: GERDA LE GRANGE
Met temperature wat tans baie laag daal, moet ’n mens seker maak jou troeteldiere is genoeg beskerm teen die koue.
Dit is belangrik om te onthou dat jou troeteldiere nie hulself kan voorberei op ysige koue nie – dus moet jy ’n hand bysit. Probeer die volgende raad om te verseker dat jou vierpotige vriende nie te koud kry in die winter nie.
Moet nie jou hond of kat buite laat sonder behoorlike, warm skuiling nie. Jou troeteldier het miskien langer hare om hom te pantser teen die koue, maar dit is in baie koue weer nie genoeg om hom warm te hou nie. Gee jou troeteldier die opsie om binnenshuis te bly in ysige weer. Indien dit nie ’n opsie is nie, maak seker dat hy ’n knus plekkie het om van die koue weg te kruip.
Sommige honde of katte het ’n lekker dik pels, maar talle het min hare om hul warm te hou. Vir dié sonder die voordeel van ’n lekker dik pels kan jy ’n jassie of truitjie aantrek vir ekstra beskerming. Honderasse wat in dié kategorie val, is Chihuahuas, Whippets, Windhonde en worshonde.
Probeer kos en water in ’n omgewing hou waar dit nie sal vries nie. Diere moet daagliks toegang hê tot veral vars water – wat natuurlik ’n probleem is as hul kosbakke vries weens baie koue toestande.
As sneeu of ys op die grond in die winter ’n gereelde verskynsel in jou omgewing is, wees bedag daarop dat jou diere se pote skade kan kry en dat dit baie onaangenaam vir hulle kan wees om buite te loop.
Probeer hul toegang tot sneeu beperk of maak gebruik van “skoentjies” as jou dier jou sal toelaat om dit vir hom aan te trek!
Party honde sal amper enigiets probeer eet en hulle kan dalk ’n groot belangstelling in sneeu ontwikkel. Dit kan lei tot maagprobleme of hulle kan gevaarlike voorwerpe saam met die sneeu inkry. Keer jou hond as jy sien dat hy weglê aan ’n happie sneeu.
Teenvriesmiddel (antifreeze) het ’n aangename smaak vir diere, maar is hoogs giftig. Dit is een van die middels wat die meeste lei tot die vergiftiging van troeteldiere. Maak seker die middel is buite die bereik van jou diere. Indien jy vermoed jou troeteldier het teenvriesmiddel ingekry, vat hom onmiddellik na ’n veearts.
Bron:
About.com