Deur JOHAN COETSEE
21 Junie 2012
3766
keer gelees |
kommentaar
Donkies maak goeie troeteldiere. Foto: STEPHEN COLLETT
Wat gemaak as jy ’n donkie as Kersgeskenk ontvang? As jy Gerrit van Tonder is begin jy alles van die dier oplees wat jy kan.
En dis nie lank voordat jy waardering kry vir dié besondere dier. Vroeër was donkies ’n algemene gesig oral op die Suid-Afrikaanse platteland. Vandag moet ’n mens redelik ver soek om donkies te sien. Dit is gewoonlik in ietwat afgeleë dele, soos die Karoo en Namakwaland, waar hulle nog in groter getalle voorkom. Tog gryp iets in die donkie die meeste Suid-Afrikaners steeds aan.
Prof. Gerrit van Tonder, ’n hidrogeoloog aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het vier donkies as Kersgeskenk van sy vrou, Fransie, ontvang. En soos professors en die meeste ander geleerdes maar is, het hy dadelik begin om ’n studie van dié diere te maak. Hy vertel dat sy “donkieboerdery” nou uit vier diere bestaan – een hingsie en drie merries.
Hoekom donkies?
Die eerste gedagte met dié present was: Hoekom juis donkies? "Al wat ek van donkies geweet het, is dat my oorlede vader ’n donkie gebruik het om water uit die put met die bakkiespomp te trek." Hy het lusern vir sy beeste en die groentetuin daarmee natgelei.
“Die donkie is met ’n koggelstok aan die bakkiespomp gekoppel en die donkie het al in die rondte geloop. ’n Yslike stroom water is deur die bakkies in ’n leivoor gestort. En as skoolseun het ek gereeld donkies gaan ry waar Fichardtpark in Bloemfontein nou is. Soms hard met moederaarde kennis gemaak.”
“Verder het ek het darem geweet dat ’n muil – ’n kruising tussen ’n donkiehings en ’n perdemerrie – onvrugbaar is omdat die perd 64 chromosome het en ’n donkie net 62,” sê Van Tonder.
Terug by sy eie donkies. Twee van die merries is Ethiopiese donkies – ligbruin met ’n swart kruis op die rug – en die ander een is ’n regte vaal Afrikadonkie. Hy het ’n vyfde donkie bygekoop van dr. Frieda Pienaar, ’n internis in Bloemfontein, wat ’n herberg vir verwaarloosde donkies het, maar die twee hingsies het gou slaags geraak en hy het die een van Pienaar behou. Dit lyk na ’n kruising tussen ’n Ethiopiese en ’n Spaanse donkie.
Prof. Andries Raath, ook van die UV, het hom vertel hoe ’n baler met ysterwiele in ’n land by Vaalharts vasgesit het. ’n Span osse kon dit nie roer nie, maar twee muile het dit gemaklik uitgetrek. Hy weet ook van veeboere by Brandfort wat donkies tussen hul skape aanhou. Vanweë haar uitstekende moederinstink neem die donkiemerrie die skape as haar “kinders” aan en beskerm hulle met haar lewe.
Só maak jy donkies mak
Toe Van Tonder die geskenk van sy vrou ontvang, het hy besef hy moet dit waardeer anders is hy in die pekel. Hy het derhalwe begin oplees oor donkies en hul geaardheid en dit begin toegepas. Sy donkies wei bedags op natuurlike veld en in ’n Smutsvingerland, en gaan saans na ’n klein kampie.
Vir die makmaakproses het hy die boek Donkeys van Anita Gallion aangeskaf en die aanbevole makmaakmetodes begin volg. Van Tonder het sy donkies fyn dopgehou en ’n opsomming van hul gedrag gemaak – sy “donkiesielkundedossier”.
“ ’n Donkie se gedrag verskil van ’n perd s’n en hulle moet anders mak gemaak word. Boere weet hoe perde hardhandig ingebreek is. Met donkies werk dit nie. Hulle moet sag hanteer word. Geduld is die antwoord,” sê hy.
Die drie hoofwyses om donkies mak te maak, is “omkoop” met lekkernye, soos wortels, beskuit, mariekoekies en dadels; deur ’n tou om die nek saggies te trek en te laat skiet gee, maar eers wanneer die donkie gestreel kan word; en derdens deur “stootkrag” van agter af toe te pas of om liggies na links of regs aan donkie se nek te druk.
“As ’n tou om ’n donkie se nek gebind word en jy trek hom vorentoe, sal hy halstarrig vassteek en glad nie beweeg nie – moet dit dus nie eers probeer nie. Donkies is nie onnosel nie en moet daarom nie só gehanteer word nie,” waarsku hy.
Honde-afrigters gebruik soms ’n klieker in die afrigtingsproses. As die hond byvoorbeeld aan ’n bal raak, kliek jy en vergoed hom dan met ’n lekkerny, en dit word oor en oor herhaal. “Ek meen dit kan ook goed vir donkies werk.”
Hier is Van Tonder se wenke:
• Die vinnigste manier om ’n donkie aan mense gewoond te maak, is om hom nuuskierig te maak. Stap in die kampie en ignoreer hom totaal. Doen allerhande ander werkies. Praat met ’n sagte stem. Wees geduldig en wag vir die donkie om die eerste toenadering te soek. Loop stadig en rustig in die kampie rond en ignoreer hom steeds. “Jy kan selfs rustig op ’n stoel sit en ontspan.” Herhaal dit ’n paar keer per dag. “Eers as die donkie toenadering soek, kan jy ’n beloning aanbied, soos om ’n bietjie hooi of groenvoer te los voordat jy uitstap.” As iets gebeur en die donkie raak senuagtig of bang, loop bloot uit die kampie – en moenie op die donkie skel nie.
• Donkies “kyk” met hulle ore. “Nie regtig nie, maar jy kry die idee as jy sien hoe die donkie sy ore in verskillende rigtings draai, en die twee ore werk onafhanklik van mekaar. As ek regs voor hom staan en sy regteroor draai regs, weet ek hy loer vir my. Sy ore weerspieël sy gesindheid.”
•Moet nooit probeer om krag op ’n donkie toe te pas nie – “jy gaan tweede kom”. Hy steek halstarrig vas en op geen manier gaan hy beweeg nie. ’n Perd kan met krag getem word, maar ’n donkie verkies sagte dissipline.
• Moet nie die wil van ’n donkie probeer breek deur hom te slaan of te ruk en pluk nie, want dan word hy éérs halsstarrig.
• Nog ’n rede waarom ’n donkie viervoet soms vassteek en verseg om vorentoe toe te beweeg, is vrees en ’n vreemde omgewing. “Ek onthou nog ’n keer tydens ’n kerkopvoering waarin ’n donkie in die gang moes afloop verhoog toe. Halfpad het die donkie vasgesteek en daar bly staan vir die duur van die hele opvoering.”
• Donkies, soos ook ander mak diere, vul ’n groot leemte by kinders met spesiale behoeftes en binne ’n oogwink verander so ’n kind se gesindheid. Gebruik egter merries, want hingste kan beduiweld en onvoorspelbaar raak.
• Donkies is groepdiere en wil ’n maat hê. “Ek het een van my hingsies, Ampie, aan ’n boervrou verkoop. Hy het getreur tot die vrou ’n jong kalfie in dieselfde kamp gesit het. Dadelik het Ampie die kalfie aangeneem. Die kalfie “drink” aan Ampie se stert en Ampie sien die kalfie as iets wat hy met sy lewe moet beskerm. Toe die vrou se Bull Mastiff op ’n dag in die kamp kom, het sy gevrees dat die hond vir Ampie gaan verskeur, maar watwou: Ampie het sy bek wyd oopgesper en met ’n onheilige gebalk op die hond afgestorm. Van toe af bly die hond ver van die kampie af weg. Daar is stories dat boere donkies gebruik om hul skape teen jakkalse te beskerm.
• Donkies verseg om hondepille te vreet. Hulle is egter gek na lusernpille en groen lusern.
• Donkies “verpes” klein diertjies in die algemeen en hou nie van katte en klein honde nie. Hulle hou ook nie van blinde skaduwees en waterplasse nie. Hulle verseg om deur nou gangetjies te stap. Hulle hou egter daarvan om te sosialiseer met ander donkies. ’n Alleendonkie treur.
• Om vlieë weg te hou, smeer Van Tonder Shoo-fly aan hul gesigte en bene. Hulle hou niks daarvan as ’n spuitkan gebruik word nie.
• Donkies en muile kan hul ewewig behou selfs wanneer hulle tussen klippe en rotse op die randjie van ’n afgrond loop, en is in dié opsig beter as perde.