Dreigende hofsake oor talle honde wat weens besmette hondekos gevrek het, het hondeliefhebbers met die hande in die hare oor die regte keuse van kos vir hul troeteldiere.
Volgens dr. Quixi Sonntag, lektor in die departement kliniese troeteldierwetenskap van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria, is dit altyd ’n goeie begin om ’n veearts daaroor te nader.
“Hoe beter die gehalte, hoe duurder is die kos. As die prys te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik kos van ’n swak gehalte. Die vergiftigingskrisis wat nou voorkom, is weens aflatoksien. Dit kan waarskynlik gewyt word daaraan dat gehaltebeheertoetse nie behoorlik deur die hele vervaardigingsproses – vervaardiging, verpakking en opberging – volgehou is nie. Die vervaardiger wou waarskynlik nie geld daaraan bestee nie en het dus nie geweet die kos is besmet nie. Nou is daar al minstens 70 honde dood weens die kortpaaie van goedkoop produksie.”
Die probleme wat ’n paar jaar gelede met Vet’s Choice – hondekos van ’n hoë gehalte wat deur veeartse versprei word – ondervind is, was te wyte aan melamien, ’n bestanddeel wat glad nie in kos hoort nie en waarvoor dus in daardie stadium nie getoets is nie. Nou word alle kosse daarvoor getoets. Die probleem met aflatoksien is ernstiger omdat dit ’n bestanddeel is waarvoor altyd getoets moet word, maar in dié geval het die vervaardiger nie getoets nie om koste te spaar, sê sy.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het die registrasie van drie hondekos-produkte, Hi-Pro, Legends en Buddies, opgehef omdat die vervaardiger nie aan die vereistes van die Wet op Misstowwe, Veevoere, Landboumiddels en Veemiddels (Wet 36 van 1947) voldoen nie. Die betrokke hondekos mag gevolglik nie meer geadverteer en verkoop word nie.
Die departement het ook beslag gelê op 3 149 sakke Mighty Bite-hondekos by Hi-Pro se vervaardigingsaanleg omdat die kos nie geregistreer is nie. Nog ’n besending daarvan is by ’n Spar-winkel in Pretoria gekonfiskeer.
Die Troeteldierkosbedryfsvereniging (Petfood Industry Association of SA, oftewel die PFI) is erg omgekrap oor die voorval en het beloof om die wapen op te neem om ontslae te raak van “skobbejakke” in die bedryf wat mense wantrouig maak jeens kommersiële hondekos en die hele bedryf skade aandoen.
Mnr. Barry Hundley, uitvoerende dierekteur van die PFI, sê verbruikers moet let op die “V”-nommer, gevolg deur “Wet 36 van 1947” op die verpakking wat vir produkte vereis word en aandui dat dit by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geregistreer is. “Dit is die enigste manier om te verseker dat die kos voldoen aan die minimum voedingstandaarde en deeglik getoets is.”
Dr. David Dzanis, ’n Amerikaanse konsultant vir troeteldierkos, het ’n tyd gelede die land besoek en gesê hy was beïndruk deur die moeite wat die PFI in Suid-Afrika doen om te verseker dat verbruikers produkte van ’n goeie gehalte kry.
“Die PFI in Suider-Afrika ontleed kos gratis wanneer verbruikers die gehalte en veiligheid daarvan bevraagteken. In een so ’n geval is byvoorbeeld gevind dat die inhoudetiket op ’n produk wel die vereiste 21% ru-proteïn aangedui het, maar die kos het by ontleding slegs 12 % bevat.”
Die PFI sê sommige vervaardigers registreer nie produkte nie of gebruik vals registrasies. Gevalle het ook al opgeduik van vervaardigers wat aan regulasies voldoen vir registrasiedoeleindes en dan ophou met die byvoeging van die vereiste vitamiene en minerale om geld te spaar, “maar daar word werk van gemaak om van dié ‘skurke’ ontslae re raak”. Die vereniging moedig verbruikers aan om verdagte gevalle aan te meld.
Sonntag sê duurder kosse is duurder omdat dit deur al die nodige toetse gaan en ’n behoorlike gehaltebeheerprogram gevolg word. “Vermy goedkoop kos wat langs die pad, by ’n garage of kafee verkoop word.”
Sy sê as die hondekoskorrels maklik krummel of heel mieliepitte en vreemde voorwerpe, soos plastiek, bevat, is dit uiteraard van ’n swak gehalte.
Landbouweekblad wou by haar weet wat mense in aanmerking moet neem met die keuse van kos wat hulle vir hul honde voer.
Sy sê die gehalte van die onverwerkte produkte wat in die kos gebruik word, en die samestelling van die inhoud wat op die verpakking aangedui word, is belangrik en verskaf ’n aanduiding van die gehalte van die produk. In die algemeen is dit belangrik dat dit voldoende proteïen bevat – ten minste 15% tot 30% vir groeiende honde – en dit moet van ’n goeie gehalte wees.
“As ’n diereproteïen, soos hoender- of beesvleis, die eerste bestanddeel in die bestanddelelys is, is dit waarskynlik goeie kos. Die vetgehalte moet ook minstens 10% tot 20% wees. Die korrekte interpretasie van die etiketinligting kan egter verwarrend wees en dit is beter om ’n veearts se mening te vra.”
’n Hond moet ook die regte kos vir sy lewenstadium gevoer word. Babahonde het byvoorbeeld ander behoeftes as volwasse honde en daar is ook ’n verskil in die behoeftes van klein en groot rasse.
“Kleintjies van kleinras-honde groei stadiger as dié van groot rasse en hulle kan dus nie dieselfde kos kry nie. Grootras-honde kan te vinnig groei wanneer hulle byvoorbeeld kos met ’n te hoë energiewaarde en te veel kalsium kry. Dan ontwikkel hulle probleme met die skelet, veral met die heupe en elmboë. Hulle moet dus in die groeistadium kos kry wat minder vet en kalsium bevat as dié vir volwasse honde.
“Honde wat maer en aanhoudend honger is, gevalle toon van chroniese diarree en/of braking, swak kondisie, soos ’n dof en growwe haarkleed, of nie die kos wil vreet nie, kry waarskynlik nie genoeg voedingswaarde daaruit nie.”
Sonntag sê die grootste probleem met die tradisionele pap en vleis is juis dat honde nie genoeg vitamiene inkry nie. Mense wat nie die duur hondekos kan bekostig nie en pap en vleis voer, moet seker maak die vleis bevat genoeg proteïen en vet en hulle moet ook ’n verskeidenheid groente van verskillende kleure voer om te verseker hul diere kry genoeg vitamiene. Nog inligting: Die PFI se webwerf by www.petwise.co.za