Hulp is egter beskikbaar vir die mens se beste vriend.
Die meeste troeteldiereienaars is onbewus daarvan dat daar in die hele Suid-Afrika ’n siekte voorkom wat hul honde se dood kan veroorsaak. Selfs goed versorgde honde wat gereeld ontwurm en ingeënt word en net die beste kos kry, kan slagoffers van hierdie stille moordenaar word. Sy naam? Spiroserkose.
Die naam van die wurm is Spirocerca lupi en dit beteken letterlik “spiraalstert-honde(wurm)”. Dit is ’n klein rondewurm wat verwant is aan die haakwurm en 10 mm tot 20 mm lank en rooi van kleur is. Die wurm word nie deur roetine-ontwurming vrekgemaak nie. Gevalle van spiroserkose het oor die afgelope 15 jaar al hoe meer vrektes en siekte by honde veroorsaak. Die rede vir die toename is onbekend.
Die S. lupi-wurm kom natuurlik voor van Suider-Afrika tot bo in Israel. Die meeste navorsing daaroor word by die veeartsenykundige fakulteite by Onderstepoort en in Koret, Israel, gedoen. Die wurm word oorgedra wanneer honde die draers van S. lupi, soos miskruiers vreet. Onthou, nie alle miskruiers het die tipiese toktokkie-kewervorm nie, sommige is lank en slank, ander is klein. Dit is te verstane dat honde, wat normaalweg baie nuuskierig is en alles eet wat voorkom, só besmet kan raak. Sommige mense beweer dat die wurm ook in die mis van hadidas en daar is al bewyse gevind dat erdwurms, geitjies, akkedisse en selfs klein soogdiere draers kan wees.
Wanneer die hond die besmette miskruier insluk, word die miskruier deur die maagsuur verteer. Dit laat die wurmlarwe uitbreek en die larwes dring dan deur die maagwand na die maagbloedvate.
Hulle gaan dan op ’n verwoestende reis deur die liggaam van die hond totdat hulle die hoofbloedvat van die hart, die aorta, bereik. Hulle migreer deur die wand van die aorta, waar hulle ernstige letsels en skade veroorsaak, tot binne-in die borsholte. Van die borsholte af, in die ruimte tussen die longe en agter die hart, beweeg hulle totdat hulle die slukderm bereik.
Eers hier in die slukderm bereik die wurmlarwes volwassenheid en begin voortplant. Die vroulike wurms lê mikroskopiese eiers wat via ’n klein openinkie in die slukderm in die spysverteringskanaal en later in die mis van die hond beland.
Die teenwoordigheid van die wurm veroorsaak erge irritasie van die slukderm en die weefsel reageer deur te ontsteek en littekens (granulome) te vorm. Hoewel ’n granuloom nie ’n gewas is nie, kan ’n granuloom of veelvuldige granulome ’n groot weefselmassa vorm – selfs groter as ’n pomelo by sommige pasiënte. Die massa kan ’n hele klomp probleme veroorsaak in die slukderm van die hond.
Die voor die hand liggende probleem is die onvermoë om te kan sluk. Sommige besmette honde sal braak of braakgeluide of -bewegings maak; ander kan bloot lusteloos wees, aanhoudend hulle lippe lek, tjank wanneer hulle sluk of “hoes”. Sommige honde verloor gewig selfs al vreet hulle goed. Ek het ook al ’n hond gesien wat twee bekke vol vreet, tjank, in sirkels loop met haar linkerbeen in die lug en dan weier om vir die volgende paar uur te vreet.
Benewens die onvermoë om te kan sluk, kan die volgende probleme ook voorkom wat tot ernstige siektetoestande of selfs vrektes kan lei:
Die aorta word deur die wurm se migrasie beskadig. Sommige honde ontwikkel ’n
progressiewe verwyding en ver-swakking van die aorta, wat kan bars, veral wanneer spesifieke kalmeermiddels gegee word. Trombose (klontvorming) kan voorkom wat die bloedvate verstop.
Die skade aan weefsel blokkeer die slukderm en dit veroorsaak gewigsverlies. Die hond kan longontsteking kry as kos wat hy uitbraak, in die longe beland. Die braking kan veroorsaak dat kos en bakterieë in die borskas inlek wat later kan lei tot etter in die borskas. Permanente uitswelling en slapheid van die slukderm kan ook voorkom.
Spiroserkose beïnvloed die immuunstelsel wat veroorsaak dat die dier spier-, gewrigs-, spinale of velpyne ervaar. Dit veroorsaak abnormaliteite in bloedvate en selfs in die bloedselfunksies, soos stollingsprobleme.
Die wurm migreer soms na onverwagse plekke, waar dit probleme veroorsaak. Dit word soms in die niere of in die buikorgane of selfs die rugmurg gesien, waar dit op X-strale soos ’n geskuifde werwel lyk. Granulome kan ook in kwaadaardige kanker (osteosarkome) omsit wat na ander organe, veral die longe, kan versprei.
Vir ’n akkurate diagnose moet die veearts eerstens vermoed dat dit spiroserkose kan wees, maar gegewe die geneigdheid tot ongewone manifestasies kan dit besonder moeilik wees.
Nietemin kan dit in die meeste gevalle gediagnoseer word deur ’n kombinasie van deeglike ondervraging, borskas-X-strale, ’n endoskopiese evaluering van die slukderm en die maag, asook spesiale misflotasietegnieke. In sekere gevalle is rekenaar tomografiese skanderings van die bors, kernskanderings of verkennende chirurgie vir individuele pasiënte nodig. Soms is die diagnose net ’n gelukskoot.
Daar is geen medikasie in Suid-Afrika geregistreer vir die behandeling van S. lupi-wurmbesmetting spesifiek nie. Die nuutste behandeling en voorkoming van hierdie siekte is ontwurmingsmiddels wat milbemycin bevat. Die middel moet weekliks vir vier tot ses weke en dan maandeliks vir ten minste ses maande gebruik word.
Dit kan ook maandeliks voortgesit word teen dieselfde dosis as vir roetine-ontwurming om besmetting in ’n mate te voorkom. Middels wat milbemycin bevat, is wel vir honde geregistreer, hoewel dit nie spesifiek vir die behandeling van S. lupi geregistreer is nie. Milbemycin is ook van die veiligste aktiewe bestanddele wat in die Kollie-tipe honde en skaaphonde gebruik kan word.
’n Gepatenteerde parasietdoder, doramektien, wat vir beeste geregistreer is, blyk doeltreffend te wees deur middel van inspuitings of mondelingse inname elke twee weke. ’n Minimum van ses behandelings (12 weke) word aanbeveel.
Die presiese dosis en die beste interval vir die toediening van hierdie middel, asook die doeltreffendheid as voorkomingsmaatreël, is nog nie vasgestel nie. Hierdie produk is nie geregistreer vir gebruik in honde nie. Daarom word die vervaardiger kwytgeskeld van enige verantwoordelikheid of gevolge, soos newe-effekte of gebrek aan doeltreffendheid, al kan dit ’n baie veilige en doeltreffende middel wees.
Onthou net, ’n soortgelyke middel, ivermektien is glad nie veilig vir honde nie. Die gebruik daarvan moet deeglik oorweeg word; daar is beter middels beskikbaar vir hierdie toestand (hoewel ivermektien vir ander toestande aanbeveel kan word).
In KwaZulu-Natal bestaan ’n bykomende probleem: ’n Ge-
woonlik onskadelike hartwurm kan in die hond se bloedsomloop teenwoordig wees op dieselfde tyd dat die hond deur spiroserkose besmet word. As dit dan skielik doodgemaak word deur toediening van doramektien, beland dit in die longbloedsomloop waar dit vashaak en ’n massiewe reaksie veroorsaak wat ’n hond letterlik binne ure kan laat vrek. Daar is ’n eenvoudige, goedkoop toets (Knott-toets) wat jou veearts kan uitvoer om hartwurm op te spoor voordat met doramektien-behandeling begin word.
As massas aan die slukderm baie hinderlik is en die probleem nie met midddelbehandeling opgelos kan word nie of in die geval van kanker, kan chirurgie nodig wees.
’n Veearts kan egter nie goedsmoeds dele van die slukderm wegsny nie - slegs 20% kan verwyder word, anders kan komplikasies voorkom.
Katte kan ook met spiroserkose besmet word en daar was al een geval gerapporteer waar ’n mens besmet is. As een van jou honde met spiroserkose besmet is, raai ek altyd kliënte aan om X-strale van hul ander honde se borskaste te laat neem en as daar enige onsekerheid is, ’n endoskopie te doen. ’n Knott-toets moet op alle KZN-diere gedoen word. As dit alles negatief is, kan behandeling elke drie maande lewenslank toegedien word. Hondjies vanaf 12 weke hoef waarskynlik slegs voorkomende behandeling te ontvang, maar ek het al honde van so jonk as sewe weke sien vrek as gevolg van massiewe wurmmigrasie deur die borskas.
* Dr. Anthony Zambelli is ’n spesialis-veearts van die St. Hellier Veeartsenykundige Sentrum.