|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Leierboere van oral het Agri SA en die National African Farmers' Union (Nafu) se poging tot nouer samewerking en 'n eenheidsfront oor sake van gesamentlike belang verwelkom.
Mnr. Charl Senekal, Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar in 2002, sê die ondertekening van die ooreenkoms was 'n grootse oomblik vir die landboubedryf en hy wil albei partye geluk wens. "Dit is sonder twyfel die regte pad om te loop en die landbou is die wenner. Dit is uiters belangrik om meer swart boere in die hoofstroom van die landbou te kry as ons voorspoed wil verseker."
Mnr. Fred Visser, Boer van die Jaar in 1999 en 'n gewese voorsitter van Kwanalu, sê die landbou sal nie erkenning by die Regering kry as meer swart boere nie daarby betrek word nie. "Boere wat op hul eie aanneuk moet hul halsstarrigheid laat staan. Die grootte van jou boerdery en jou rykdom gaan jou nie meer beskerm nie. Ons moet almal die pad saamloop as ons 'n oor by die Regering wil hê."
Hy sê die ooreenkoms is 'n wyse besluit en een wat móés kom. "Daar is tog deurslaggewende kwessies wat alle boere raak. Ek het self al in 1999 as voorsitter vir Nafu in KwaZulu-Natal opgetree."
Mnr. Simon Makhutle, 'n boer van Lichtenburg, sê die landbou moet met een stem praat. "Daar is geen sin daarin om verskillende organisasies te hê as ons almal een doelwit het nie. 'n Verenigde front kan ons help om vooruit te gaan, veral in onderhandelings met die Regering. Daar is nie meer plek vir swart en wit wat afsonderlik optree nie."
Nóg 'n boer uit Noordwes, mnr. Paul Morule, sê Nafu as 'n organisasie het die afgelope tyd 'n belangriker rol begin speel en nouer samewerking kan goed wees. "Daar is egter lede wat 50 treë vooruit is en om diegene te betrek wat nog net tien treë gevorder het, is maar moeilik." Hy sê daar is terreine waarop Agri SA die leiding kan verskaf "en dit sal vir almal goed wees".
28 Julie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24