|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Belangrike kwessies in die landbou bly agterweë terwyl me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, probeer bewyse soek vir haar veralgemenings en wilde beweringe oor boere wat hul werkers mishandel.
"Dit is jammer dat soveel energie bestee word aan iets wat geen bydrae lewer tot voorspoed in die landbou nie eerder as om die ekonomiese lewensruimte te skep vir diegene in die landbou en diegene wat daarna strewe om tot die bedryf toe te tree," het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê.
Hy sê dit sal boonop betreurenswaardig wees as die skaakmat in die verhouding tussen Xingwana en die georganiseerde landbou dui op 'n fundamentele verandering in die Regering se benadering ten opsigte van kommersiële boere.
Van der Merwe het gereageer ná 'n beoogde vergadering met Xingwana, Agri SA en die TLU SA in 'n onverkwiklike situasie ontaard het. Leiers van die kommersiële landbou het by die deur omgedraai ná dit geblyk het dat die vergadering wesenlik sou afwyk van dit wat vooraf oor die inhoud ooreengekom is. Agri SA en die TLU SA het die vergadering gesien as 'n geleentheid waar stappe bespreek sou word om die vertrouensbreuk tussen die georganiseerde landbou en die minister te herstel.
'n Paar dae later het Xingwana met haar provinsiale LUR'e vergader en afsetting van plase, "onmenslike behandeling van plaaswerkers", moorde op boere en swart ekonomiese bemagtiging in die landbou bespreek.
Van der Merwe sê eerder as om tot 'n vergelyk te kom oor die feitelikhede, word na geïsoleerde gevalle gesoek om Xingwana se veralgemenings te steun.
In 'n verklaring sê die Departement van Landbou daar is wel kennis geneem dat "in sekere dele van die land daar gunstige ontwikkelinge is waar wit kommersiële boere voorheen benadeelde gemeenskappe bemagtig het en bygedra het om armoede te verlig". Die LUR'e het verslag gedoen oor voorvalle waar boere glo plaaswerkers se diere skut, plaaswerkers en -bewoners die reg weerhou om familielede te begrawe, hul toegang tot skole, water en ander basiese dienste weier en voortgaan met onwettige afsettings.
Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, sê die minister mis die punt heeltemal. "Sy probeer kommersiële boere in 'n verhoorsituasie te plaas. Sy het geen feite om haar beweringe oor boere te staaf nie en wil wegkom uit die situasie deur boere sleg te maak," het Van der Walt gesê.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die sogenaamde 200 voorvalle verteenwoordig 0,002 % van plaaswerkers en dan is die aantygings nog nie eers getoets nie. "As 56 parlementariërs aan misdrywe skuldig bevind word en dit is nie net aantygings nie is dit 14 %. Selfs dan kan mens nie eers veralgemeen en sê alle parlementslede is skelm nie."
Die TLU SA het 'n vergadering met haar aangevra in 'n poging om die ernstige probleme uit te stryk. Van der Walt sê pres. Thabo Mbeki gaan versoek word om in te gryp om die situasie by te lê en gesprekke weer op dreef te kry.
Xingwana het ná die vergadering gesê daar is "geen manier waarop ons die landbou in Suid-Afrika vorentoe gaan neem met al die spanning nie". Sy kon egter geen duidelikheid gee oor wat die volgende stap is om die verhouding tussen haar en Agri SA en die TLU SA te herstel nie.
Landbouweekblad verneem betroubaar dat daar intense pogings agter die skerm aan die gang is om die vertrouensbreuk by te lê. Ook vanuit die sakesektor is daar druk om tot 'n vergelyk te kom. Van der Merwe sê daar moet 'n weg gevind word om 'n werkbare verhouding daar te stel. "Die weiering om die vergadering by te woon, was nie omdat ons gesprekvoering met die minister wil opskort nie. Ons was bloot net nie op die regte vergadering nie."
Landbouweekblad, 9 Februarie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24