|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
In die ses maande van Januarie tot Junie vanjaar het 2 101 landbou-eenhede in Suid-Afrika van gesamentlik sowat 1 miljoen hektaar ter waarde van R2,6 miljard van eienaar verwissel.
Dit beteken gemiddeld tien plase per dag is in dié tyd teen gemiddeld R2 644 per ha en 'n gemiddelde waarde van R1,3 miljoen vir 'n plaas van 500 ha verkoop. Dit bevestig dat die mark uiters lewendig is," het mnr. Carl Bezuidenhout, besturende direkteur van Afgri-Pam Golding se kommersiële landbou-eiendomsafdeling, gesê.
Hy sê die hoogste waarde in rand/ha is in Gauteng behaal moontlik vanweë die neiging na leefstyl-oorde vir eko-toerisme en die meeste plase is in die Vrystaat verkoop.
Die verkoop van landbou-eiendom is anders as enige ander eiendomstransaksie omdat 'n plaas 'n lopende saak is en daarby 'n nie-tasbare sakebelang het waarvan die potensiaal in die grond opgesluit lê, sê hy.
Sowat 60 % van die beskikbare landbou-eiendom in Suid-Afrika word deur plaaslike prokureurs of per veiling bemark. Bezuidenhout meen dit is 'n beperkende proses wat nie die maksimum prys vir 'n plaas verseker nie.
"Die maksimum prys kan slegs verkry word deur die eiendom deur middel van 'n nasionale of selfs internasionale netwerk te bemark.
"Afgri-Pam Golding kan, en het, beter pryse vir landbou-eiendomme beding deur 'n professionele proses, beter waardasie-tegnieke en die wydste moontlike verkopingsnetwerk."
"In die onlangse verlede is transaksies ter waarde van R20 miljoen beklink met kontrakte ter waarde van R100 miljoen wat nog gefinaliseer moet word. Dit wissel van melk en pluimvee tot gemengde boerderye in prysklasse van R200 000 tot R3 miljoen," het hy gesê.
19 Augustus 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24