|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die wel en wee van die vleisbedryf vir die jaar 2004 hang grootliks af van die reënval. Dié hemelwater gaan die bepalende faktor wees: Nie net vir die gehalte en beskikbaarheid van weidings nie, maar ook hoe skaars en duur graan en voer gaan wees.
Hoewel die vraagkant van die vleismark vanjaar heelwat kan herstel, gaan probleme waarskynlik aan die aanbodkant voorkom. Te veel vee is gedurende die huidige somerdroogte geslag, terwyl die vlak van invoer, soos wat dit deur die wisselkoers gedryf is, ook ter sprake is.
Die internasionale mark is die afgelope jaar deur heelwat ontwrigting gekenmerk en vleispryse het hoër geneig. Grafiek 1 skets die belangrikste vleissoorte in die wêreld. Dit is nogal insiggewend dat varkvleis die vernaamste vleissoort is, gevolg deur hoender- en daarna beesvleis, terwyl skaapvleis 'n baie klein aandeeltjie in die vleisverbruik het.
Die markaandeel van hoender- en varkvleis brei internasionaal vinnig uit ten koste van bees- en skaapvleis. Dit is 'n wêreldwye neiging en nie net eie aan Suid-Afrika nie. Boonop het dit nie veel met reklame te make nie, maar eerder met tegnologie, omdat teling en innoverende disse uit die vark- en hoenderbedryf 'n groot rol in die verbruikerskeuse speel.
'n Verdere faktor is die vinniger voeromset by varke en hoenders, terwyl voortdurende verbetering in teling 'n bydraende rol speel, gerugsteun deur nuwe voedingstegnologie. Oorsee word gevra wanneer laas het 'n nuwe vleisbeesras sy verskyning gemaak, terwyl nuwe telingslyne in die vark- en hoenderbedryf voortdurend die kollig steel om aan verbruikers se voorkeure te beantwoord.
Dit is onafwendbaar dat hierdie neiging ook in Suid-Afrika gaan plaasvind, veral omdat hoendervleis die markaandeel van bees- en skaapvleis wegkalwe. Die plaaslike verbruik van hoendervleis het die afgelope dekade met 43 % gestyg, terwyl die totale verbruik van rooivleis in die land met 13 % gedaal het, aldus die nasionale Departement van Landbou.
Die plaaslike verbruik van hoendervleis is ook groter as dié van rooivleis. Prys en gehalte is die twee belangrike faktore wat die stedelike verbruiker se keuse bepaal.
Die internasionale vleisprys (in dollar) het die laaste jaar heelwat gestyg weens verskeie aanbodprobleme op die mark, wat uitvoer erg geknou het. Van die probleme wat ondervind is, was veral sekere handelsbeperkinge wat veral deur Rusland op die invoer van vark- en hoendervleis ingestel is. Veral Brasilië is ongunstig geraak.
Verskeie siektetoestande het die internasionale vleishandel verlede jaar erg beperk, maar die hoër voerkoste weens die skerp styging in die dollarpryse van graan en oliekoek het ook sy rol gespeel. Grafiek 2 skets die prysaanwyser vir die verskillende soorte vleis, met 'n aanduiding van wat vanjaar verwag kan word. Die dollarprys van bees- en skaapvleis het in dieselfde tydperk aansienlik gestyg. In die laaste deel van verlede jaar het het die dollarprys van hoendervleis heelwat verstewig, veral oor duurder voerkoste.
Die grafiek wys egter dat die vleisprys in rand sedert die jaar 2002 aansienlik gedaal het. Die sondaar is die sterker ruilwaarde van die rand. Let op hoeveel laer die internasionale hoendervleisprys is as dié van die ander soorte vleis, terwyl bees- en varkvleis bykans ewe veel kos. Skaapvleis is oral 'n duur vleissoort.
Die huidige vooruitsigte is dat die rand nie veel in 2004 gaan verswak nie, in elk geval nie naastenby tot die vlak van 2002 nie, dus gaan ingevoerde vleis goedkoop bly.
Na verwagting gaan die hoeveelheid goedkoop ingevoerde vleis toeneem, want die prys, in verhouding tot die binnelandse prys, is laag. Verskeie bedrywe het aansoeke om 'n verhoogde invoertarief ingedien, maar dié aansoeke is nog nie afgehandel nie.
'n Ander belangrike ekonomiese aandrywer gaan vanjaar die versnelde ekonomiese groei wees, asook die toename in besteebare inkomste weens die laer rentekoers. Die vraag na vleis gaan dus 'n goeie hupstoot kry. In die verlede het sterk ekonomiese groei vleispryse aansienlik verbeter, veral as die aanbod beperk was.
Die swak reënval in 2003 het aanleiding tot swak weidingstoestande gegee. Tensy die laaste deel van die somer nie goeie reën aanteken nie, gaan vanjaar 'n baie moeilike jaar vir veeboere wees.
Kuddes is in die tweede helfte van verlede jaar reeds aansienlik uitgedun, wat gehelp het om pryse af te druk. Hiermee saam kan invoer toeneem, wat druk op die mark kan plaas.
Die gevaar bestaan egter dat die hoeveelheid goedkoop beesvleis uit Suid-Amerika kan styg (grafiek 3). Desnieteenstaande is daar op-timisme dat die prys van beesvleis tóg vanjaar kan verbeter. Die vlak van die speenkalfprys gaan vanjaar beïnvloed word deur voerkoste, en die aanduiding is dat dit duur gaan bly.
Die afgelope twee jaar se swak weerstoestande in Australië (die ergste droogte in 100 jaar) het tot gevolg gehad dat die skaapkudde met miljoene verminder het. Dié land gaan nou weer 'n kuddeboufase binne.
Skaap- en lamsvleis gaan nog lank duur wees, veral as 'n mens na grafiek 2 kyk, waar pryse bly styg, ten spyte van die sterker rand, wat dit goedkoper maak.
Die stand van plaaslike skaapvleis word in grafiek 4 geskets, waarin die dalende invoer 'n kenmerk is. Dié neiging kan voortduur. Die prys van skaapvleis gaan vanjaar duur bly.
Die vooruitsig vir die intensiewe veebedryf hang grootliks van voerkoste af. Die prys van graan en oliekoek is internasionaal aan aansienlike opwaartse druk onderhewig, terwyl die kans vir 'n goeie graan- en oliesaadoes in Suid-Afrika vanjaar maar skraal is. Duurder voerkoste sal in 'n mate deur die sterker vraag na vleisprodukte en 'n matige prysverbetering in 2004 teengewerk word.
Die grootste bedreiging vir die plaaslike varkbedryf is die groot toename in invoer (grafiek 5). Dit kan veroorsaak dat daar min geleenthede vir prysstygings op produsentevlak is, tensy die staat die invoertarief gaan verhoog. Stygende voerkoste kan 'n ongunstige faktor wees wat keer dat wins groei.
Die prys van hoendervleis toon jaarliks 'n seisoenale styging (grafiek 6). Ten spyte van 'n sterk groei in vraag, is die aanduidings dat die prys nie veel in 2004 gaan toeneem nie.
Die prys van hoendervleis in verhouding tot die mielieprys gee 'n aanduiding van die winsgewendheid van hoendervleis, omdat voerkoste die grootste kostefaktor is. Hierdie verhouding dui aan hoeveel kilogram mielies met die prys van een kilogram hoendervleis gekoop kan word. Hoe hoër dié verhouding is, hoe beter is die winsgewendheid.
Na verwagting gaan hierdie voerkosteverhouding die wins in die intensiewe veebedryf vanjaar kniehalter, tensy veeboere van Safex se verskansingstegnieke gebruik maak om hul voerkoste mee te bestuur.
Ten slotte
Tensy die weerpatroon drasties in Januarie tot Maart verander, gaan veeboere 'n moeilike jaar tegemoet. Swak weiding en duur voer is dan hul voorland. Ingevoerde produkte hou 'n bedreiging in.
Aan die gunstige kant word 'n sterk toename in die vraag na vleis verwag weens die sterker ekonomie en die toename in besteebare inkomste wat pryse opwaarts kan druk.
Die veebedryf stuur af op 'n potensieel moeilike jaar, maar as sake reg uitwerk, kan 'n sterk vraag en goeie pryse sake heel gunstig uitdraai.
9 Januarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24