In ‘n onlangse artikel oor die invoer van landbouprodukte na Suid-Afrika is genoem dat Argentinië en Brasilië, in terme van randwaarde, die twee belangrikste invoerlande is.
Dié opmerking het gelei tot enkele navrae oor watter produkte uit dié lande ingevoer word. Ek moes dieper in die statistiek gaan delf en verskaf graag die volgende inligting.
Dit blyk dat invoer uit dié twee lande, veral in die laaste vier jaar, geweldig vinnig toegeneem het. Die totale invoer uit Argentinië het van R1,998 miljard in 2005 tot R6,946 miljard in 2008 toegeneem. Dit is ‘n styging van 248%. Invoer uit Brasilië het toegeneem van R2,066 miljard in 2005 tot R3,613 miljoen in 2008. Dit is ‘n toename van 75%.
Invoer uit Argentinië
Ek was altyd van mening dat beesvleis die grootste invoerproduk uit Argentinië is. My verbasing was egter groot toe ek uitvind dat beesvleis slegs 14de op die lys is van produkte gerangskik volgens die randwaarde van die invoere, gebaseer op 2008 se statistiek (die jongste beskikbare inligting).
Gedurende 2008 is meer as 70 verskillende produkte of produkgroepe met ‘n totale waarde van R6,946 miljard uit Argentinië ingevoer. Die belangrikste produk was oliekoek uit sojabone vir veevoerdoeleindes. Die totale waarde hiervan het R2,501 miljard beloop. Invoere van dié produk het sedert 2005 met 230% gestyg.
Dit word gevolg deur koring met ‘n totale waarde van R1,948 miljard. Koringinvoere was in 2005 maar R423 miljoen. Dit is dus ‘n enorme toename van 360%. Die derde belangrikste produk is sojaboonolie, geraffineer of nie, ter waarde van R1,114 miljard. Dit het met 335% toegeneem sedert 2005.
Waarde van miljarde rand
Die eerste drie produkte op die lys se waardes beloop elk miljarde rand, maar daarna daal dié waardes betreklik vinnig. Sonneblom- en katoenolie is vierde op die lys en die invoerwaarde beloop R395 miljoen. Dit het met 208% toegeneem die afgelope vier jaar.
Vrugte- en groentesappe neem die vyfde plek in met R211 miljoen. Dit word gevolg deur pluimveevleis en -afval ter waarde van R152,7 miljoen. Mout is sewende op die lys, met invoere ter waarde van R139,5 miljoen. Vrugte, neute en ander eetbare plantdele is agtste op die lys met ‘n totale waarde van R72 miljoen. Negende is melk en room, waarvan die invoerwaarde R58,7 miljoen beloop. Tiende op die kortlys is oliekoek onttrek uit vette en olies van bepaalde groentes. Die totale waarde hiervan beloop R56,6 miljoen.
Die eerste 10 produkte toon almal stygings van 200% en meer in die tydperk sedert 2005.
Ander belangrike produkte is bevrore groentes (R43,5 miljoen), dierevoeding (R39,7 miljoen), sojabone (R34,3 miljoen), bevrore beesvleis (R24,5 miljoen) en gars (R20,2 miljoen).
Invoer uit Brasilië
Die belangrikste produk wat uit Brasilië na Suid-Afrika ingevoer word is pluimveevleis en -afval. Die waarde daarvan het R1,188 miljard beloop in 2008 teenoor die R708 miljoen in 2005. Dit is ‘n toename van 67% oor die vier jaar en was altyd een van die belangrikste invoerprodukte uit dié land.
Die tweede belangrikste produk was olie uit sojabone, met ‘n waarde van R1,046 miljard. In 2005 was dit slegs R431 miljoen, wat ‘n styging van 143% verteenwoordig. Riet- en beetsuiker, wat die derde belangrikste produk is, het astronomies gegroei van slegs R41 miljoen in 2005 tot R414,6 miljoen in 2008. Dit is ‘n toename van 911%!
Die vierde produk is onbewerkte tabak wat van R109 miljoen in 2005 gestyg het tot R192 in 2008. Dit beteken ‘n toename van 76%. Suikerlekkers, wat nie kakao bevat nie, is die vyfde belangrikste produk en die enigste produk wat ‘n afname in invoere toon. Dit het gedaal van R176 miljoen in 2005 tot R140 miljoen in 2008.
Ander belangrike produkte wat in 2008 uit Brasilië ingevoer is, is peptone (proteïne) en produkte daarvan verkry (R100 miljoen), mout ekstrak (R93,3 miljoen), rys (R56,8 miljoen - dit het in 2005 slegs R1 miljoen beloop!), sonneblom- en katoenolie (R42 miljoen) en ‘n ongespesifiseerde item “voedsel nie elders vermeld” (R37,2 miljoen).
Opsomming
Argentinië is al meer as ‘n dekade een van die belangrikste invoerlande, maar die waarde van die invoere het in die laaste twee tot drie jaar dramaties toegeneem. In 2007 was die waarde van invoere bykans drie maal dié van Amerika, wat die derde belangrikste invoerland was. Brasilië daarenteen het eers sedert 2002 begin toeneem in belangrikheid, toe die waarde van invoere die eerste keer die R1 miljard-merk oorskry het. Dit het sedertdien met 246% toegeneem tot R3,612 miljard in 2008.
Dit wil dus voorkom asof daar in die laaste paar jaar hard gewerk word om landbou-invoer uit dié twee groot Suid-Amerikaanse lande wesenlik te versterk.
Bronne:
Kortbegrip van Landboustatistiek
Direktoraat Landboustatistiek van Departement Landbou, Bosbou en Visserye
* Geskryf deur Kobus Smit. Hy was van 1993 tot 2000 die voorsitter van die Nasionale Oesskattingskomitee en het sedert sy aftrede steeds 'n lewende belangstelling in landbousake in die algemeen en in besonder in landbou-ekonomie en landboustatistiek. Sy e-pos-adres is: diesmitte@gmail.com
2 Februarie 2010
Kommentaar
Goeie dag
Sou graag wil weet teen wat se tariewe is die produkte ingevoer.
Hoe vergelyk dit met ons plaaslike pryse
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)