Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Biodiesel kan SA ekonomie hupstoot gee

 

Ekonomiese en politieke onbestendigheid in Suider-Afrika kan beteken dat Suid-Afrika se graanboere binne die volgende vyf jaar gedwing kan word om sonneblomsaad te plant vir die vervaardiging van brandstof om die produksie van stapelvoedsel te kan volhou.

Dit is moontlik dat enige verdere ekonomiese en politieke onbestendigheid in Suider-Afrika die wisselkoers van die rand kan benadeel. Ook internasionale en plaaslike ekonomiese ontwikkelinge kan hierin 'nrol speel.

Die afgelope paar jaar het die rand jaarliks met sowat 10 % teenoor die geldeenhede van die land se vernaamste handelsvennote verswak. Dit beteken dat R14 tot R16 oor vyf jaar nodig kan wees om een Amerikaanse dollar te koop - selfs te midde van bestendiger ekonomiese en politieke toestande.

Sou 'nonverwagte oliekrisis die internasionale markte tref en die ru-olieprys skiet op tot $35 of $40 per vat, sal Suid-Afrika ru-olie moet invoer teen R500 of R600 per vat. Dit sal die plaaslike dieselprys die hoogte in laat skiet, tot selfs R7 per liter.

Met só 'ndieselprys sal Suid-Afrika se graanboere geen ander keuse hê nie as om sonneblomsaad te produseer met die uitsluitlike doel om biodiesel op hul plase te vervaardig. Dit sal die enigste manier wees om te oorleef en steeds voedsel vir die land te produseer.

Koördinerende liggaam

Volgens mnr. Fanie Brink, senior ekonoom van Graan Suid-Afrika, is dit nou al nodig om 'nkoördinerende liggaam te stig. Dit sal alle belanghebbende partye in staat stel om bydraes te lewer oor die beleidsraamwerk en die ekonomiese uitvoerbaarheid van 'nbiodieselnywerheid in Suid-Afrika.

Op die jongste jaarlikse kongres van die Misstofvereniging van Suid-Afrika in Pretoria, het mnr. Brink gesê die produksie van biodiesel in Suid-Afrika kan beduidende ekonomiese voordele vir die land inhou. Dit kan byvoorbeeld 'nvoordelige uitwerking op die betalingsbalans hê en die land se uitvoerafhanklikheid verminder. Dit kan ook 'nnodige ekonomiese inspuiting vir die landbou en vir plattelandse ontwikkeling wees, werksgeleenthede skep en bydra tot die opkikkering van die plattelandse ekonomie. Dít kan weer 'nbeduidende impak op kommersiële en ontwikkelende boere en ook landboubesighede hê deurdat landbou-oorskotte beter benut sal word.

Mnr. Brink het daarop gewys dat, sedert Amerika in 1999 met die produksie van biobrandstof begin het, dié land 68,2 miljard liter etanol per jaar verbruik. Dit het sowat 200 000 werksgeleenthede in die landbou en landelike gebiede geskep.

Dié groot verbruik word hoofsaaklik toegeskryf aan 'nfederale subsidie in die vorm van laer federale aksynsbelasting op biobrandstof (by die pomp).

Die hoeveelheid biodiesel wat nou in Suid-Afrika vervaardig kan word, word bepaal deur die huidige produksie van sonneblomsaad in die vernaamste kommersiële verbouingsgebiede, maar word beperk deur die olie-, proteïen- en veselinhoud van die saad.

Volgens die LNR-Instituut vir Graangewasse is die jaarlikse vraag na plantolie in die Suid-Afrikaanse kosmark 540 miljoen liter. Vir veevoer word 456 000 ton sonneblom-oliekoek per jaar benodig, mits die oliekoek minstens 38 % proteïen en nie meer as 16 % vesel bevat nie. Die vraag na sonneblomoliekoek word egter beperk deur die redelike lae proteïen- en hoë veselinhoud daarvan en dit veroorsaak 'nproduksieplafon van een miljoen ton sonneblomsaad per jaar.

Sonneblomsaadolie lewer sowat 80 % van die plantolie in Suid-Afrika. Ander oliesade, soos sojabone en kanola, lewer die res. Dit beteken dus dat 42 miljoen liter biodiesel per jaar in Suid-Afrika vervaardig kan word, wat net 0,6 % van die totale dieselverbruik van sowat 6,6 miljard liter per jaar is. As die proteïeninhoud van sonneblomoliekoek tot 40 % verhoog en die veselinhoud terselfdertyd tot 14 % verlaag kan word, kan die verbruik van sonneblomoliekoek in Suid-Afrika tot 646 000 ton verhoog word en die totale produksie van sonneblomsaad tot 1,5 miljoen ton per jaar. Dit kan die vervaardiging van biodiesel tot 240 miljoen liter verhoog, wat 3,7 % van die totale dieselverbruik sal uitmaak.

Indien Suid-Afrikaanse graanboere 'nbykomende 500 000 ha sonneblomsaad kan plant en nuwe en beter maniere gevind kan word om die proteïen en vesel in die oliekoek te gebruik, kan nog 260 miljoen liter biodiesel per jaar bykomend vervaardig word, wat die totale volume tot 500 miljoen liter (7,7 % van die verbruik) sal opstoot.

Om die ekonomiese produksie van biodiesel in Suid-Afrika te bevorder, sal sekere produksie- en beleidsaspekte uitgeklaar moet word en die meeste aandag moontlik moet kry, het mnr. Brink gesê.

In die lig daarvan dat die swaelinhoud van diesel teen 2006 verder verlaag moet word om aan die beter omgewings- en hoër tegnologiese vereistes te voldoen, moet die rol wat biodiesel hierin kan vertolk, deeglik oorweeg word om nog verhogings in die prys van diesel aan bande te lê.

Verder sal die huidige en toekomstige belasbaarheid van biodiesel duidelik deur die Regering omskryf moet word en ook verder gewysig moet word om die produksie van biobrandstowwe van alternatiewe hernubare bronne, soos plantolie, te bevorder.

Verpligte
vermenging



Daar moet ook ernstig besin word oor die verpligte vermenging van minstens 2,5 % biodiesel in alle diesel wat uit ru-olie in Suid-Afrika vervaardig word.

Mnr. Brink stel ook voor dat die prys van biodiesel nie gekoppel word aan dié van ingevoerde produkte, soos in geval van mineraaldiesel nie. Dié stap is nodig om biodiesel te verskans teen die verswakking of ineenstorting van die wisselkoers.

Daar moet ook deeglik navorsing gedoen word oor die werklike potensiaal van sonneblomsaad en ander oliesade in die kommersiële en onderontwikkelde gebiede van die land.

Verder moet bestaans- en opkomende boere gehelp en aangemoedig word om 'nbetekenisvolle rol in die vestiging van 'nbiodieselnywerheid in Suid-Afrika te speel.

Biodiesel sal aan SABS-spesifikasies onderhewig moet wees en deur die vervaardigers gewaarborg word.

Ten slotte
het hy gesê dat meer navorsing dringend gedoen moet word oor die alternatiewe
gebruik van die vesel in sonneblomsaadolie vir nywerheids- of ander
doeleindes.

5 Julie 2002

0