Boer moet streef na wins

 

Kan die Ontvanger van Inkomste die standpunt inneem dat 'n boer wat jaar ná jaar 'n verlies maak, sy hoedanighede as 'n "boer" vir belastingdoeleindes verbeur en ook die reg verbeur om sy uitgawes af te trek volgens die gunstige bepalinge van die Eerste Skedule?

'n Boerdery is, vir belastingdoeleindes, 'n sakeonderneming, en 'n sakeonderneming veronderstel winsgewendheid. Maar sommige sakeondernemings is nie winsgewend nie, ten minste nie elke jaar nie. Talle boere maak gereeld 'n verlies. Baie sakeondernemings is spekulatief, en 'n boerdery des te meer, want dit word blootgestel aan meer risiko's as die gewone besigheid. Dié risiko's is bowenal geheel en al buite die beheer van die boer. Hiermee dink ons aan die risiko's van droogtes en oorstromings, brande, hael en ryp, diere- en plantsiektes en wisselvallige markte.

Die Wet op Inkomstebelasting swyg oor die nodigheid al dan nie van winsgewendheid. Maar in hofbeslissings is 'n aantal beginsels duidelik. Ten eerste, om te kwalifiseer vir die belastingvoordele van die Eerste Skedule is dit nie noodsaaklik dat 'n boer elke belastingjaar 'n wins moet maak nie, maar hy moet ten minste gedurig na 'n wins streef. As iemand dus byvoorbeeld 'n kleinhoewe aanhou met die hoofdoel om dit vir ontspanning te gebruik en die lewe in die buitelug te geniet, en dit toon nie 'n wins nie, is hy vir belastingdoeleindes nie 'n boer nie. Geeneen van die uitgawes verbonde aan dié onderneming sal dus vir belastingdoeleindes aftrekbaar wees nie.

Gestel nou egter die boer se oogmerk is wins, maar hy kry dit selde of nooit reg nie. In 'n geval soos dié het die hof (in 'n paar sake) gevra: Is 'n wins haalbaar? Want as dit, in die tersaaklike omstandighede, gans onmoontlik sou wees om 'n wins te maak, het die hof in 'n paar gevalle die houding ingeneem dat die belastingbetaler nie 'n boerdery vir belastingdoeleindes bedryf nie, al is sy strewe na wins eg. So kan 'n boer byvoorbeeld probeer om met skape te boer, maar sy plaas is só klein dat dit onmoontlik is om dit winsgewend te doen. In 'n paar dergelike sake is besluit dat die belastingvoordele van die Eerste Skedule nie aan die boer toegeken sal word nie. Maar party belastingkenners is van mening dat hierdie vertolking van die wet foutief is, en voer aan dat net solank die boer die egte begeerte het om 'n wins te maak, hy as 'n boer vir belastingdoelein des kwalifiseer. Hierdie geskilpunt onder belastingkenners sal net opgeklaar word wanneer die Appèlhof 'n uitspraak hieroor lewer.

Die neteligste vraagstuk in dié verband is egter die geval waar iemand werklik probeer om winsgewend te boer, maar, as gevolg van omstandighede — soos 'n onvermoë om die nodige kapitaal in die hande te kry, of, selfs erger, by gebrek aan die nodige kennis of vaardigheid om winsgewend te boer — nie daarin slaag nie. In hofverslae verskyn daar 'n paar uiters kras uitsprake wat hiermee verband hou, en dié sal ek volgende week bespreek.

0