Danisco, ‘n Deense maatskappy en die borg van die jaarlikse Nasionale Suiwelkampioenskap, het ‘n plaaslike navorsingsmaatskappy en laboratorium, Research Solutions, bekom in ‘n poging om sy suiwelbedrywighede in Suid-Afrika te verbeter.
Luidens ‘n berig op Dairy Reporter wil die maatskappy spesifiek aandag gee aan sy bedrywighede rondom suiwel en gevriesde nageregprodukte.
Volgens die maatskappy sal dié stap hom help om een van die mees mededingende bestanddeelverskaffers in Afrika suid van die Sahara te word. Die twee maatskappye is naby mekaar in Kaapstad geleë, en sal binnekort hulle produksie- en verkoopswerksaamhede op een perseel integreer.
Research Solutions verskaf ‘n reeks van stabiliseringstelsels, konsentrate en souse aan voedselmaatskappye, veral in die suiwelbedryf. Die maatskappy ontwikkel ook produkte soos sy stabiliseerder vir drinkbare joghurt wat dié produk se raklewe tot ses maande rek.
Mnr. Søren Olsen, onderhoof van stelsels by Danisco, sê: “Met dié stap ontwikkel ons ‘n nuwe sentrum vir uitstekende diens vir Danisco se suiwel- en gevriesde nageregafdeling in Afrika suid van die Sahara.”
Die maatskappy wil op plaaslike vaardighede en die verhoudings wat Research Solutions hier het staatmaak om hom een van die mees mededingende maatskappye rakende gehalte, koste’s en reaksietyd te maak.
Danisco het ‘n tweede Suid-Afrikaanse tak in Johannesburg. Sowat 90% van sy produkte word tans in die land verkoop.
20 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)