Daar is verskeie soorte trusts. Eerstens is daar die trust inter vivos, wat gedurende die leeftyd van die stigter daarvan opgestel is. Sulke trusts is gewoonlik skriftelik, maar die reg erken die geldigheid van 'n mondelingse trust. 'n Skriftelike trust moet in die kantoor van die Meester van die Hooggeregshof ge
Daar is verskeie soorte trusts. Eerstens is daar die trust inter vivos, wat gedurende die leeftyd van die stigter daarvan opgestel is. Sulke trusts is gewoonlik skriftelik, maar die reg erken die geldigheid van 'n mondelingse trust. 'n Skriftelike trust moet in die kantoor van die Meester van die Hooggeregshof geregistreer word.
In teenstelling met 'n trust inter vivos is die testamentêre trust. Dié soort trust vorm deel van 'n persoon se testament, en kom in wese eers tot stand wanneer die persoon te sterwe kom.
'n Trust kan gevestigde regte vir die begunstigdes skep wat betref die inkomste of die kapitaal van die trust. In só 'n trust het die begunstigdes 'n gevestigde reg op die heel of 'n gedeelte van die inkomste of kapitaal van die trust, en hulle kan dus eis dat die trustees daardie inkomste of kapitaal hulle laat toekom op die tydstip soos in die trustakte bepaal. In teenstelling daarmee is daar diskresionêre trusts, waar die trustbegunstigdes geen gevestigde reg op inkomste of kapitaal het nie. In laasgenoemde trust het die trustees 'n diskresie wat die uitbetaling van inkomste of kapitaal betref, met ander woorde hulle het die mag om te besluit aan watter begunstigdes inkomste of kapitaal uitbetaal word, en teen watter bedrae.
Familietrusts is gewoonlik diskresionêre trusts omdat die stigter van die trust wil hê dat die trust buigsaam moet bly ten einde die trustees in staat te stel om die verskillende en veranderende omstandighede van die begunstigdes in ag te neem. Byvoorbeeld, die trustees kan besluit om die trustinkomste net aan te wend tot voordeel van begunstigdes wat nog op skool is, om te voorsien in hul behoeftes, soos skoolfooie, boeke en sportgereedskap. Geen trustinkomste word dan uitbetaal aan begunstigdes wat selfonderhoudend is nie. Gewoonlik wil die stigter van 'n diskresionêre trust ook die buigsaamheid behou om trustinkomste te betaal aan begunstigdes wat spesiale behoeftes het. Byvoorbeeld, 'n meerderjarige begunstigde wat siek word of sy werk verloor, of 'n vroulike begunstigde wat deur haar man verlaat is of tot weduwee gemaak is en finansieël behoeftig is.
Wat inkomstebelasting betref, is 'n trust 'n belastingbetaler in eie reg. 'n Trust betaal belasting op inkomste wat hom toekom teen 'n vaste koers van 40%. Dit is aansienlik hoër as die gegradueerde koerse wat op indiwidue betrekking het. Maar as 'n trust gedurende 'n bepaalde jaar van belasting inkomste ontvang en in dieselfde jaar daardie inkomste aan trustbegunstigdes uitbetaal, is daardie inkomste in die hande van die begunstigdes belasbaar, en nie in die hande van die trust nie. Dus kan 'n trust die hoë koers van belasting vermy deur eenvoudig sy inkomste in dieselfde belastingjaar uit te betaal. As die begunstigde wat die trustinkomste ontvang 'n totale inkomste van minder as R27 000 in die jaar verdien, sal geen inkomstebelasting betaalbaar word, want dit is die vlak waar inkomstebelasting in werking tree.
6 Desember 2002