Distell omset styg met 8%

 

Distell se omset het met 8,7% tot R11,8 miljard toegeneem, en sy verkoopsvolume met 7,3%.

Hoewel die wesensverdienste met 1,0% tot R943,6 miljoen gedaal het, het mnr. Jan Scannell, besturende direkteur, gesê die resultate was bevredigend in die lig van die uitgerekte resessie met sy laer verbruikersbesteding, en daarmee saam die uitwerking van ongunstige wisselkoerse.

“In ons geval kon die voordele, verkry uit die volgehoue verbetering in bedryfsdoeltreffendheid, of die verhoogde deurset nie ons marges en winsgewendheid beskerm nie. Gevolglik het bedryfswins met 1,2% gedaal, en het die netto bedryfsmarge afgeneem tot 11,8%, teenoor 13,0% verlede jaar.”

Die maatskappy, wat ʼn uiteenlopende reeks spiritualieë, wyn, sider en reg om te drink-drankies oor die hele prysspektrum produseer, dryf handel op elke vasteland, en het aansienlike vordering in die Afrika-mark gemaak en terselfdertyd sy teenwoordigheid in Europa en Noord-Amerika verstewig. Dit brei ook sy teenwoordigheid in Latyns-Amerika en Suidoos-Asië uit.

Wat die binnelandse mark betref, het Scannell gesê verkoopsvolumes het in die boekjaar, tot 30 Junie 2010, met 4,6% toegeneem, en omset met 9,2%. “Terwyl werksgeleenthede steeds verlore gaan, maatskaplike toelaes stadiger toeneem, huishoudings se skuldvlakke steeds hoog is en daar minder besteebare inkomste is, verkies verbruikers laer-prys produkte. Ons het egter ons waarde-aandeel in die meeste sleutel kategorieë in die plaaslike mark gehandhaaf.”

Internasionale verkoopsvolumes, Afrika ingesluit, het met 15,8% toegeneem, maar die versterking van die rand teenoor al die vernaamste geldeenhede het omsetgroei tot 15,2% beperk. Daar was uitsonderlike groei in Afrika, wat 57,1% tot omset uit die buiteland bygedra het. “Dis veral bevredigend dat internasionale volumegroei oor alle belangrike kategorieë verkry is, met verkope van spiritualieë en wyn wat met onderskeidelik 14,4% en 6,8% toegeneem het.

Daar was ’n beduidende toename in wynuitvoere en dit het dié van die bedryf as geheel ver oorskry. Uitvoervolumes van reg om te drink-drankies het met 42,0% toegeneem, hoewel vanaf ʼn laer basis.” ’n Dividend van 132 sent per aandeel is verklaar wat die totale uitkering vir die jaar op 256 sent te staan bring. Die dividenddekking is 1,8 keer die wesensverdienste.

25 Augustus 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.