Distell se omset styg

 
Distell-bottelering. Foto: DISTELL
Distell-bottelering. Foto: DISTELL

Ondanks die uitgerekte wêreldwye resessie, verbruikers se lae besteebare inkomste en voorraadverlagings deur die handel, kon Distell daarin slaag om sy omset en verkoopsvolumes vir die ses maande tot 31 Desember 2009 - in vergelyking met dieselfde tydperk 12 maande gelede - laat styg.

Distell, die land se toonaangewende produsent van wyn, spiritualieë, sider en reg-om-te-drink-drankies sê in ‘n nuusverklaring sy verkoopsvolumes het met 7,7% verhoog en die omset met 9,3% tot R6,6 miljard.

Bedryfswins het met 1,9% van R931,9 miljoen tot R949,2 miljoen toegeneem, maar wesensverdienste het met 1,9% tot R623,2 miljoen gedaal, en wesensverdienste per aandeel met 2,0%.

’n Dividend van 124c per aandeel is verklaar, dieselfde as die vorige jaar se tussentydse betaling.

Mnr. Jan Scannell, die besturende direkteur, het gesê binnelandse verkoopsvolumes het met 5,8% gestyg, en omset met 10,2%. Distell se aandeel van plaaslike verbruikers se besteding aan alkoholiese drank is met welslae gehandhaaf.

Internasionale verkoopsvolumes, met inbegrip van Afrika, het met 13,8% gestyg, maar weens die rand - wat teen alle belangrike geldeenhede versterk het - is internasionale omsetgroei tot 12,0% beperk.

Scannell het gesê die toename van 1,9% in bedryfswins was hoofsaaklik die gevolg van voortgesette omsetgroei. “Die voordele van vehoogde deurset en doeltreffendheidsverbeteringe is grootliks deur die uitwerking van die sterker rand op omset en ‘n minder winsgewende verkoopsmengsel geneutraliseer. ’n Valuta-omskakelingsverlies van R17,9 miljoen teenoor ʼn wins van R32,1 miljoen in die ooreenstemmende periode het ʼn betekenisvolle impak op die toename van 10,6% in bedryfsuitgawes gehad.”

Die netto bedryfsmarge het gevolglik van 15,3% ’n jaar gelede tot 14,3% gedaal.

Kapitaalbesteding het R372,1 miljoen beloop. Hiervan is R84,5 miljoen aan die vervanging van bates bestee. Nog R287,6 miljoen is hoofsaaklik vir die uitbreiding van produksiekapasiteit vir sider, vonkelwyn en whisky aangewend.

Belegging in netto bedryfskapitaal, wat R116,1 miljoen ten opsigte van die verkryging van die bekende konjak-handelsmerk Bisquit verlede April insluit, het met 12,0% tot R3,0 miljard toegeneem.

Kontant uit bedrywighede teruggehou bedra R380,4 miljoen (2008: R360,2 miljoen). Scannell het gesê die maatskappy is in ‘n gesonde finansiële posisie, met netto rentedraende skuld van R193,8 miljoen en ’n skuld tot ekwiteitsverhouding van 3,7% soos op 31 Desember 2009.

Scanell het beklemtoon dat die uitwerking van die globale ekonomiese krisis nog glad nie verby is nie, al is daar tekens van herstel.

18 Februarie 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.