Die netto inkomste van die landbou het vir die tweede agtereenvolgende jaar gedaal, volgens die jongste oorsig van die Departement van Landbou. Terselfdertyd het skuld toegeneem en die kontantvloei skerp afgeneem. Hierdie neiging sal waarskynlik vanjaar voortduur.
Die Minister van Finansies, mnr. Trevor Manuel, het 'n week of wat gelede laat blyk dat hy nie weet waaroor die landbou kla nie, want ander sektore van die ekonomie kry dit reg om aan te pas.
Dit verg natuurlik nie veel insig om te weet dat die druk waaronder die landbou verkeer, in 'n groot mate vererger word deur die traak-my-nie-agtige houding van beleidmakers nie. Talle voorbeelde kan aangehaal word, soos die wanbestuur van die LNR deur die ministerie, toenemende probleme met veeartsenydiense, die gespook met invoertariewe en die gestorte suiwelprodukte, die pogings om invoergehaltestandaarde soortgelyk aan binnelandse standaarde daar te stel en toegepas te kry en die ongeërgdheid van die Minister van Landbou in haar benadering tot SEB. Daar is waarskynlik talle meer.
Al hoe meer vrae word gevra oor die akkuraatheid van sekere syfers ten opsigte van die landbou. Volgens SA Statistiek en die Reserwebank en beaam deur die Departement van Landbou groei die landbou gemeet aan die bydrae tot die algehele ekonomie (BBP-syfers). Die groei in waardetoevoeging volgens dié syfers was 3,1 % en 3,3 % vir die laaste twee jaar. Hierteenoor het die netto landbou-inkomste in 2003 met bykans 20 % gedaal en in 2004 met altesame 14,2 %. Sedert 2002 het die landbou se netto inkomste met een derde gedaal.
Hierdie syfers klop nie met dié wat wys dat die landbou as sektor van die ekonomie bly groei nie.
Afgesien van die twyfel oor die akkuraatheid van die BBP-syfers kan landbouers tereg bekommerd voel as 'n senior kabinetsminister sê hy weet nie waarom landbouleiers sê dit gaan sleg nie. Is sy inligting korrek? Daar is dan volop feite beskikbaar wat die teendeel staaf.
Erens is 'n groot skroef los en die minister sal deeglik ingelig moet word. Een moontlikheid is dat ál die bedryfsorganisasies voorleggings aan hom stuur om die ware stand van sake te verduidelik. Dit sal verseker dat hy die regte inligting kry voordat hy stellings maak wat nie korrek is nie.
Die bruto inkomste van die landbou het in 2004 basies konstant gebly op R68,8 miljard teenoor die vorige jaar. Die bruto inkomste van diereprodukte het in 2004 effens toegeneem met 3,9 % tot R31 miljard. Tuinbou se bruto inkomste het met 2,1 % toegeneem, terwyl akkerbou se inkomste met 8 % gedaal het (wat eintlik te laag klink).
Die grafiek toon die afplatting oor die laaste twee jaar duidelik.
Die netto inkomste van die landbou het in 2004 met 'n verdere 14,2 % gedaal vergeleke met die vorige jaar tot R14,9 miljard. Sedert 2002 het die landbou se netto inkomste met sowat een derde gedaal, volgens die Departement van Landbou se syfers. My verwagting is dat dié neiging vanjaar sal voortduur vir die landbou in geheel.
Natuurlik is daar bedrywe waar dit nie te sleg gaan nie, maar talle bedrywe en uitvoerondernemings verkeer onder ernstige druk. Die verloop van die landbou se netto inkomste en die netto inkomste as persentasie van die bruto inkomste vir die verskillende kalenderjare word in grafiek 2 getoon.
Die dalende neiging sedert 2002 is duidelik. Die feit dat die bruto inkomste nie gedaal het nie, maar die netto inkomste skerp laer is, is nog 'n bewys van die kostedruk op die landbou aan die insetkant.
Die kostedruk word duidelik weerspieël deur die verswakkende ruilvoet van die landbou (grafiek 3). Die dalende neiging wys dat die pryse van produksiemiddele vinniger styg as produkpryse. Volgens die departement het die akkerbou se ruilvoet skerp (20 %) in 2004 verswak en by die ander effens minder.
Die pryse van produksiemiddele het in sekere gevalle in die loop van die jaar met meer as 10 % gestyg, terwyl produsentepryse vir die hele landbou oor die jaar met gemiddeld 6,6 % gedaal het. In die geval van akkerbou was dit gemiddeld 18,1% laer, wat vanjaar verder sal daal.
Die stygende brandstofprys en dié van sekere produksiemiddele op plaasvlak gaan vanjaar verdere probleme skep. Ek dink aan iets soos die verhoging van die brandstofbelasting in die jongste Begroting wat sonder twyfel 'n letsel sal laat.
Die dalende netto inkomste in die landbou, waar die kontantvloei onder druk is, sal beslis neerslag vind in stygende skuld. Boere sal noodgedwonge meer geld moet leen om die tekorte aan te vul om hul besigheid aan die gang te hou. Die landbou se algehele skuldlas het reeds in 2004 met R2,3 miljard toegeneem tot R33,3 miljard.
Die skuldlasverhouding het ook sedert 2002 heelwat verswak en is nou in 'n stygende fase. Dié verhouding gaan vanjaar waarskynlik deur grondpryse onder druk geplaas word. Die heelwat laer rentekoers as twee jaar gelede bevoordeel die landbou se skuldbetaalvermoë en help om grondpryse te stut.
Landbouskuld het sedert 2002 met R5 miljard gestyg terwyl die netto inkomste met sowat R7 miljard gedaal het.
Die waarde van uitvoer het ook met sowat R1 miljard gedaal in 2004 tot R22,6 miljard, terwyl invoer bly groei het tot R15,8 miljard. Dit is 'n styging van R2 miljard.
Kontantvloei, en nie soseer 'n swak verhouding van bates tot laste nie, is die meeste boere se groot probleem. Dit sal reggestel moet word deur sekere bates in kontant om te skep, veral nie-landbou-bates en bates wat nie 'n bydrae tot die kontantvloei lewer nie.
Die laer rentekoerse het ook tot gevolg dat dit makliker is om die hoër skuldlas te dra en finansiers sal waarskynlik nie sommer paniekerig raak nie.
Boere sal egter die klem moet plaas op die bestuur van hul kontantvloei.
Op die organisatoriese vlak sal hard geprobeer moet word om die Minister van Finansies en sy kollegas in te lig oor die werklike stand van sake. Bedrywe behoort elkeen 'n memorandum aan senior ministers te stuur waarin die ware toedrag van sake kort en kragtig aangetoon word.
18 Maart 2005