|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Vrese van 'n uitermatig hoë rentekoers loer gereeld oor die landbouhorison wanneer die ekonomie van die dag onder bespreking is, maar die onderliggende faktore moet eers goed beoordeel word voordat dié gissings boere laat rondskarrel.
Die onlangse bekendmaking van data oor die verloop van sake in die ekonomie en bespiegeling oor 'n moontlike rentekoersverhoging laat boere onwillekeurig wonder of hulle nie weer op pad is na 'n koers van 25 % nie.
Rente in die produksiesektore is deel van die produksiekoste. Indien die rentekoers en rentebetalings styg, sal die koste van produksie noodwendig verhoog en dit kan winsgewendheid erg benadeel.
'n Hoë rentekoers - soos in die middel tagtiger- en aan die einde van die negentigerjare - het menige landbou-onderneming se begroting omvergegooi. Indien dit boonop met 'n swak jaar in die landbou saamval, kan dit ernstige nadelige gevolge inhou.
Die moontlikheid van 'n rentekoersverhoging is altyd in die nuus wanneer inflasiesyfers bekend gemaak word, en dié styg voortdurend. Dít gebeur veral omdat die Reserwebank sekere inflasiemikpunte nastreef wat nie nou behaal word nie. Om 'n kykie in die kristalbal oor die rentekoers te gee, is dit egter nodig om die land se ekonomiese beleid en die huidige verloop van sake in dié deel van die staatshuishouding te ontleed.
Die Reserwebank se beleid oor die rentekoers as beleidsinstrument het die afgelope jare verander - veral ten opsigte van die wisselkoers. Figuur 1 skets die verloop van die rentekoers teenoor die wisselkoers, en die skerp styging in die rentekoers in 1998/99 is duidelik. Dit was 'n poging van die Reserwebank om die verswakking in die wisselkoers teë te werk - een van dié bank se beleidstandpunte was toe om die waarde van die rand te beskerm, waarvoor die rentekoers as instrument gebruik is.
Toe kapitaal in Julie 1998 uit die land onttrek is weens probleme in opkomende ekonomieë, het die Reserwebank die rentekoers verhoog om dié uitvloei te probeer keer. Die bank het groot bedrae bestee om die rand te probeer stut, maar dit het nie veel gehelp nie.
Sedertdien is 'n nuwe president by die Reserwebank aangestel en 'n beleidsverandering is geïmplementeer, naamlik dat dit nie moontlik is om die wisselkoers te stut nie. Onthou, die Reserwebank werk eintlik soos 'n beheerraad, en 'n mens het reeds geleer dat baie geld nodig is om pryse téén markneigings te stut!
Die bank se huidige beleid is om inflasiemikpunte na te jaag terwyl die rentekoers gebruik word om inflasie mee te bestuur, soos dit met welslae in baie ander lande gedoen word. Die onderliggende benadering is dat inflasie sal toeneem as daar te veel geld in omloop is en mense te veel bestee vir die produksievermoë van die ekonomie. Deur die rentekoers te verhoog, sal verbruikers uiteindelik minder bestee en dit sal pryse laer dwing om inflasie te bekamp.
Die groeisyfer van 3,1 % vir die tweede kwartaal van hierdie jaar is wyd deur die sektore van die landsekonomie versprei. Dit sluit die landbou, fabriekswese en die mynbou in. Kredietverskaffing neig egter laer weens die hoër rentekoers en omdat minder geld bestee word. Die gevolg is dat ekonomiese groei die res van die jaar gaan afplat, met minder werkgeleenthede, waaroor die Regering reeds gekritiseer word.
As inflasie laag is, dui dit op 'n gesonde ekonomie én dat die eksterne waarde van die rand (wisselkoers) meer stabiel is. Dít is waar die inflasieteiken van 3 % tot 6 % sy oorsprong het.
Die belangrike implikasie wat hieruit voortspruit, is dat die rentekoers nie deur die Reserwebank gebruik sal word om die wisselkoers te probeer stut nie. Dit beteken ook dat die wisselkoers sy eie "prys" op die internasionale mark sal vind. Ontleders meen egter dat die wisselkoers van die rand in die komende maande stadig sal verswak, gebaseer op die huidige internasionale toestande.
Hierdie verwagte neiging hou belangrike implikasies vir boerderybeplanning in. Die pryse van uitvoerprodukte (in rand) én die pryse van die meeste ingevoerde produksiemiddele in die landbou gaan aanhou om te styg.
Die verloop van inflasie word in figuur 2 aangedui. Onthou, inflasie en voedselinflasie meet pryse van die items wat verbruikers koop. Dit is nie die inflasie van produksiemiddele in die landbou nie, wat toevallig baie hoër is. Die figuur toon aan dat inflasie in 2001 tot die laagste vlak in baie jare gedaal het. Hierna het die wisselkoersskok vanaf September 2001 ingetree, wat die rand skerp laat verswak het. Dit het die pryse van landbouprodukte skerp verhoog omdat pryse op invoerpariteit was weens tekorte. Saam hiermee het die prys van brandstof en ander ingevoerde middele, soos masjinerie, aansienlik gestyg.
Die stygende inflasie was die gevolg van eksterne faktore en nie weens oorbesteding in die binnelandse ekonomie nie. Die Reserwebank het nie veel van 'n keuse gehad as om die rentekoers te verhoog nie omdat inflasie tot bokant die mikpunt van 3 % tot 6 % gestyg het. Die bank moes sy geloofwaardigheid behou.
'n Groep ekonome meen egter dat indien die rentekoers verder verhoog word, dit nie veel aan inflasie gaan doen nie, want dit is nie weens oorbesteding nie, maar is die resultaat van eksterne skokke en faktore wat op die ekonomie inwerk. Die rede waarom die rentekoers dus nou styg, is om inflasie te beteuel.
Die skerp styging in voedselinflasie die afgelope maande is baie duidelik - in Julie was dit reeds 16,8 %. Voedselaankope vorm 'n groot deel van die bevolking se besteding en daarom beloop dié gewig in die algemene inflasiekoers sowat 21 %. Dit is selfs nog hoër in die kerninflasie wat die Reserwebank gebruik vir sy inflasieteikens. Indien voedselpryse styg, sal dit dus vinnig na die inflasiesyfer deurwerk.
Dié probleem strek egter verder, want voedsel se aandeel in die verskillende `rykdom'-verbruikersgroepe verskil aansienlik van mekaar. Verbruikers in die lae inkomstegroep bestee sowat 51,2 % van hul geld aan voedsel, terwyl mense in die kategorie vir die baie hoë inkomste maar 16,7 % van hul geld op kos spandeer.
Stygende voedselpryse en inflasie tref dus die armer gedeelte van die bevolking die ergste en daarom is dit 'n saak wat om politieke redes al hoe meer sensitief raak. Al verhoog die rentekoers skerp, sal dit eintlik niks aan die stygende voedselpryse doen nie. Streekvoedseltekorte en stygende internasionale graanpryse, weens swak weer, gaan steeds voortduur.
Die olieprys sal ook aanhou styg weens die politieke onstabiliteit in die Midde-Ooste. 'n Hoë rentekoers gaan bydra om 'n demper op die ekonomie te plaas en werkloosheid eerder te verhoog as om dit te verlaag. Dit gaan ook nie veel aan die wisselkoers doen nie.
'n Ander dilemma is dat die volle styging in die pryse van basiese landbouprodukte, soos dié van mielies en koring, nog nie ten volle deur die kleinhandelketting gewerk het nie. Onthou, graanpryse het die afgelope jaar bykans verdubbel en dié effek moet nog deursuur. Intussen het Amerikaanse pryse skerp gestyg en só het plaaslike pryse vir veeprodukte ook begin toeneem. Die vooruitsig is dus dat voedselinflasie in die volgende twee of drie maande eers gaan styg voordat dit kan begin afplat. Dit gaan inflasie noodwendig verder verhoog.
Die groot vraag is of die Reserwebank die rentekoers nog verhoog omdat die inflasieteikens oorskry word, of gaan hy wag en die siening huldig dat inflasie teen die einde van die jaar 'n piek gaan bereik en daarna kan daal, soos wat baie ontleders meen. Sommige ontleders is selfs oortuig dat inflasie einde volgende jaar weer tot sowat 6 % kan daal indien die huidige rentekoersvlak voortduur.
Die siening is dus dat die rentekoers nie nog veel gaan styg nie, miskien 'n halwe of een persentasiepunt, maar dat dit in 2003 laer sal neig.
Ten slotte
Landbouskuld het die afgelope twee jaar gestabiliseer en selfs begin afneem, terwyl batewaardes in die meeste boerderyvertakkings gestyg het (figuur 3). Die landbou se skuldposisie het aansienlik verbeter en dit is in 'n afwaartse neiging, ook omdat die winsgewendheid in heelwat bedrywe aansienlik beter is.
Rentebetalings het die afgelope paar jaar verminder weens die laer rentekoers en minder skuld (figuur 4). Dit beteken die landbou se vermoë om die huidige rentekoersvlak te kan hanteer, is beter as 'n paar jaar gelede. Dit neem egter nie die waarheid weg dat 'n stygende rentekoers die koste van produksie verhoog en winsgewendheid benadeel nie.
Daarom is dit steeds goeie beleid om die skuldvlak en huurkope binne die norme en betaalvermoë van 'n boerdery te hou. Na verwagting sal die rentekoers nie veel styg nie, maar onthou egter dat rente uit wins betaal moet word, wat in 'n swak jaar 'n probleem kan wees - selfs teen 'n redelike rentekoers.
Die komende maande gaan nog heelwat debatte oplewer oor die stygende voedselinflasie en wat gedoen kan word om dit teë te werk. Boere en bedryfsorganisasies kan hulle hierop voorberei, want die res van die bevolking gaan die landbou probeer brandmerk as die sondaar vir hoë inflasie en dus die hoër rentekoers.
13 September
2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24