In die afgelope weke was daar genoeg gebeure in die landbou en verwante bedrywe om pres. Thabo
Mbeki tot ingrypende stappe te dwing. Dit sou in die nasionale belang wees om die minister en
top-bestuur van die Departement van Landbou en Grondsake af te dank.
In 'n respektabele demokrasie met leierskap wat op die land se vooruitgang fokus, sou mense wat hulle
aan ernstige wanbestuur skuldig maak, in die pad gesteek word. In Suid-Afrika lyk dit al hoe meer of die saboteurs van ekonomiese groei, welvaartskepping en vooruitgang die politici en top-amptenare
is.
Tog bly Suid-Afrika se landbou lewenskragtig en skep dit welvaart vir baie mense. Dit vind plaas ten spyte van die geweldige las wat swak landsbestuur op die landbou plaas. In hierdie verband verwys ek na die
ondeurdagte uitsprake wat die Minister van Landbou en haar adjunk gereeld oor boere doen terwyl dinge in hul departement en breër bedryf ooglopend agteruitgaan.
Daar is talle voorbeelde: Grondhervorming is 'n mislukking (minstens is iemand al in die pad gesteek); die Land Bank is bankrot en sommige top-amptenare en voormalige direkteure van die bank het
na bewering sowat R2 miljard verduister; pryssamespanning en kartelvorming in die melkbedryf, koringmaalbedryf en broodbedryf; voedselpryse styg en dra by tot inflasie en rentekoersverhogings; Suid-Afrika het van 'n uitvoerder van landbouprodukte geswaai tot 'n invoerder van basiese landbouprodukte; en daar is aanduidings dat bottelnekke begin ontstaan in die infrastruktuur om groot hoeveelhede landboukommoditeite in te voer.
Aan die ander kant verdien Suid-Afrika se boere 'n klop op die skouer dat hulle dit regkry om te oorleef. Daar is in werklikheid 'n verbetering in die sakevertroue in die landbou volgens die Landboubesigheidskamer se jongste sakevertroue-indeks. Daarby lyk trekkerverkope goed en grondpryse word op gesonde vlakke gehandhaaf.
Geen wonder Suid-Afrikaanse landboukenners en boere is elders ter wêreld so in
aanvraag nie.
Die vraag is hoe lank die wanbestuur en ondoeltreffendheid nog kan voortduur. Hou in gedagte dat die landbou van lewensbelang is vir die plattelandse ekonomie en dus vir 'n groot deel van Suid-Afrika
se bevolking. Sowat die helfte van die land se mense is in 'n posisie waar hulle sowat 40% van hul besteebare inkomste aan kos moet afstaan.
Dit verg nie veel insig om te besef dat hierdie sektor van die ekonomie doeltreffend bestuur moet word nie. Welvaart in die landbou beteken 'n hoër lewenstandaard vir miljoene mense.
Voedselprysstygings dra 'n gewig van 23% in die inflasiekoers. Dit is gegrond op die bevolking se besteding aan voedsel as deel van die totale besteding. Vir die arm mense is die gewig van voedsel in hul besteding tot 50%. Hier praat ons van ongeveer die helfte van die land se bevolking. Voedselpryse het in die jaar tot September vanjaar vir hierdie groep mense met sowat 14,2% gestyg.
Die geweegde voedselinflasiekoers is besig om te versnel. Dit staan nou op 12,7% en ek verwag dat dit verder gaan versnel. Dit jaag die algemene inflasiekoers op en dwing die Reserwebank om rentekoerse te verhoog. Die hoof van die Reserwebank het onlangs weer gewaarsku dat rentekoerse nog sal moet styg. Dit alles maak armmense nog armer.
Grafiek 2 toon die stygings in die winkelpryse van melk- en graanprodukte in die afgelope jaar. In albei gevalle is dit bykans 20%.
> |
Stygende voedselpryse is die simptoom van 'n verkeerde landboubeleid en benadering tot die landbou.
Die Nasionale Landboubemarkingsraad en die Bemarkingswet is tandeloos. Die doel met hierdie wetgewing en die Nasionale Landboubemarkingsraad was om 'n vrye mark te skep, maar dit het nie werklik die vermoë om mededinging te bevorder nie. Boere het ook nie bedingingsmag nie
en bevindinge van die Mededingingskommissie vanjaar het hierdie feit bevestig. Hier verwys ek na pryssamespanning en kartelvorming deur die kopers in die melkbedryf en meer onlangs is samespanning in die broodbesigheid oopgevlek. Tiger Brands is 'n boete van bykans R100 miljoen opgelê
vir onmededingende praktyke in die maalbedryf.
R100 miljoen klink erg, maar sien dit teen 'n onlangse wins van R2,6 miljard en opbrengs op eie kapitaal van 39,7% vir aandeelhouers. Daar is ook 'n ondersoek aan die gang in die graansilobedryf en 'n pensioenfonds het 'n eis van R1,9 miljard vir skadevergoeding teen Safex ingestel.
Prysvorming en markmededinging buite die plaashek het 'n kwessie geword wat meer aandag verdien. Daar is wel meganismes in die vorm van die mededingingswet en mededingingsowerhede, maar die hele situasie
dui op 'n groot leemte in die uitvoering van die landbou- en voedselbeleid. Hierdie leemte word verder bevestig deur die stygende koringinvoer die laaste dekade.
Intussen het die Land Bank, 'n eerbiedwaardige instelling wat die landbou deur dik en dun gedien en baie boere op die pad na welvaart geplaas het, verval tot 'n besigheid wat deur wanbestuur tot bankrotskap gedwing is. Enorme bedraeword genoem en dit is nou al algemene kennis dat geld voorgeskiet is vir projekte wat niks met die landbou
uit te waai het nie.
Die nuwe span direkteure gaan 'n moeilike taak hê om die belangrike opdrag van landbou-ondersteuning en welvaartskepping in die landbou weer op koers te kry.
Met betrekking tot die Land Bank se finansiële agteruitgang: Die eiekapitaal-verhouding het tot sowat 7% gedaal. In die private sektor sou só 'n onderneming tot niet gaan. Die vermoë van 'n besigheid om met so 'n balansstaat te
oorleef , is na my mening uiters skraal.
Baie suksesvolle kommersiële boere het vandag hul sukses te danke aan finansiering wat hulle van die Land Bank gekry het. Nuwe boere wat deur die Regering met belastingbetalers se
geld gevestig word, word in werklikheid die kans ontneem om welslae te behaal.
Hou in gedagte dat die Land Bank die verantwoordelikheid van die Minister van Landbou is. Die minister én haar adjunk behoort te bedank. Ek laat my nie vertel dat hulle nie bewus was van die agteruitgang en wat by die bank gebeur het nie.
Opgesom: Daar is ernstige tekortkominge in die landbou en in voedselbemarking. Daarby is daar leemtes en blatante foute in die Minister van Landbou se hantering van talle sake en miljoene mense ly daaronder. Dit is tyd dat hierdie
mislukkings onder die vergrootglas geplaas en die regte planne op die hoogste vlak gemaak word.
Dit sou nie onredelik wees om te eis dat die minister, haar adjunk en alle top-amptenare afgedank
word nie. Dit sal in belang van nasionale welvaart wees.
Landbouweekblad, 30 November 2007