|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Baie mense het iets te sê oor die mielie-oorskot, die mieliebedryf as sodanig en sy toekoms. Maar in die vleisbedryf is dinge besig om te verander. Dit sal boere loon om 'n slag te kyk na wat daar aan die gebeur is.
Daar is mense wat deesdae beeste en skape koop asof dit binnekort van die mark gaan. Teen die einde van Oktober en begin November het boere wyd gepraat oor die buitensporige pryse wat koeie en ooie op veilings behaal, terwyl speenkalfpryse na nuwe rekordhoogtepunte galop.
Intussen maak die regerings van talle lande gereed vir die moontlikheid van grootskaalse ekonomiese ontwrigting weens die verspreiding van voëlgriep, terwyl bek-en-klou-seer in Brasilië die uitvoer van beesvleis in die wiele ry. Varkpes het in dele van Suid-Afrika heelwat ontwrigting veroorsaak.
In Suid-Afrika groei die vraag na vleis vinniger as wat die binnelandse aanbod kan voorsien. Die risiko van ontwrigtings in die internasionale vleishandel weens toenemende siekteprobleme in die wêreld gaan ook 'n invloed op die situasie in Suid-Afrika hê.
Die patroon van voedselverbruik in Suid-Afrika is besig om te verander. Hierdie verandering gaan in die volgende drie tot vier jaar verdere momentum kry. Dit is 'n wêreldwye neiging dat namate ekonomieë ontwikkel en die besteebare inkomste van huishoudings groei, mense se eetgewoontes verander. Die neiging is van styselgebaseerde na proteïengebaseerde diëte en duurder voedselprodukte. Hierdie verskynsel het tot gevolg dat die regstreekse menslike graanverbruik daal, terwyl die verbruik en besteding aan vleis en verwerkte produkte bly groei.
In Suid-Afrika groei die bevolking en het welvaart onder swart mense aansienlik toegeneem. Al hoe meer huishoudings het elektrisiteit, wat 'n regstreekse invloed op eetpatrone het. Die besteebare inkomste het 'n hupstoot gekry met die sowat R72 000 miljoen wat elke jaar aan maatskaplike toelaes uitbetaal word.
Die verbruik van mieliemeel was die afgelope vyf jaar min of meer onveranderd. Dieselfde geld die vraag na brood, maar die vraag na duurder produkte bly groei.
Die meeste ontleders stem saam dat ekonomiese groei in die volgende paar jaar gaan versnel en dat die besteebare inkomste gaan vermeerder - wat die vraag na voedsel en vleis regstreeks sal beïnvloed.
Syfers ten opsigte van vleisinvoer dui op 'n stygende neiging in die eerste deel van 2005. Dit gaan sekerlik voortduur as siekteprobleme die aanbod nie ernstig ontwrig nie. Hierteenoor is die binnelandse pryse stewig en word verwag dat die gewone Kersfees-spitsverkope weer sal voorkom.
Die vraag is, waar gaan die vleis vir die groter vraag vandaan kom, veral teen die agtergrond van die ontwrigting van die internasionale vleishandel deur siektes?
Hoendervleis het die grootste aandeel van die mark (kyk tabel) en dit groei steeds. Varkvleisverbruik bly ook groei, terwyl die verbruik per mens van bees- en skaapvleis oor die afgelope paar jaar afgeneem het. Daar is baie redes, onder meer dat vark- en hoendervleis goedkoper is, dat dit aangebied word in 'n formaat wat maklike voorbereiding bevorder, en dat die gehalte redelik konstant goed is.
Die beesvleisbedryf is nou in 'n kuddeboufase. Talle saaiboere is besig om hul beeskuddes te vergroot. Terselfdertyd is die weiding aan die skraps kant in van die belangrikste ekstensiewe beesboerderystreke en boere daar verklein hul kuddes.
Daar is 'n sterk vraag na teeldiere, maar ook na speenkalwers. Die aanbod van slagdiere is beperk en heelwat vroulike speenkalwers word teruggehou vir teeldoeleindes.
Heelwat mielieboere het tot die voerkraalbedryf toegetree. Die resultaat is nie net 'n beperkte aanbod van teeldiere en pryse wat elke week nuwe hoogtepunte bereik nie, maar ook 'n beperkte aantal speenkalwers wat vir voerkrale beskikbaar is. Die resultaat is dat speenkalfpryse tot R11/kg bereik het.
As die duurder mielies in ag geneem word, is dit te verstane dat winsgrense onder druk is.
Speenkalfpryse as persentasie van klas A-pryse (die eindproduk) is tans buitensporig hoog, sowat 70 %. Dit is nie volhoubaar nie. Die vraag is dus, gaan klas A-pryse styg tot ongeveer R16/kg en die pryse van speenkalwers effens daal?
Die invoerpryse is in die omgewing van R18 per kilogram.
Terloops, vir Botswana se veeboere is daar 'n kinkel in die kabel - hulle sukkel om R4,50/kg vir speenkalwers te kry.
Afgesien van die probleem dat huidige speenkalf- en teeldierpryse baie hoog is, gaan die aanbodsituasie nie verbeter nie tensy baie beesvleis ingevoer gaan word. Die groter risiko is dat bees- en skaapvleis markaandeel gaan verloor. Ek voorsien 'n redelike gespartel onder boere wanneer die groter aanbod van vleis oor so twee jaar mark toe kom.
Skaapvleis is basies op die vlak van ingevoerde vleis. Myns insiens gaan die binnelandse aanbod nie veel styg nie. Skaapvleispryse sal binne sy seisoenspatroon beweeg, met min risiko's van groot dalings in pryse. Vleis uit Australië is wel beskikbaar, maar teen die heersende pryse. Daar is druk uit Australië dat die Suid-Afrikaanse invoertariewe verlaag word.
Die produksiesiklus van skaapvleis is korter as dié van beesvleis. Daarby is skape doeltreffender omsetters van graan in vleis. Skaapvleis is meestal ook goedkoper as beesvleis. Ek verwag dus dat die produksie én die markaandeel van skaapvleis sal bly groei.
Vark- en hoendervleispryse nieg opwaarts. Daar is wel 'n effense druk op die wins weens die stygende mielie- en oliekoekpryse. Die pryse is redelik naby invoerpryse en heelwat hoendervleis word ingevoer. Die uitbreking van voëlgriep het reeds die handel in hoendervleis ontwrig en die moontlikheid van aanbodprobleme in die komende jaar is nie uitgesluit nie.
Die invoer van varkvleis uit Brasilië word weens bek-en-klou-seer beperk, maar varkpes in die Oos-Kaap is ook 'n bedreiging.
Ek is oortuig dat die vraag na hoender- en varkvleis sal bly groei aangesien hulle bevoordeel word deur die aansienlik laer pryse as dié van ander vleissoorte. Hoeveel markaandeel hulle in die volgende twee tot drie jaar gaan wen, sal bepaal word deur die relatiewe pryse en hoe doeltreffend siektes in die plaaslike bedryf bestry kan word.
Die vraag na vleis groei nie net sterk in Suid-Afrika nie, maar ook in ander ontwikkelende lande. Die markaandeel van hoender- en varkvleis groei deurgaans weens die korter produksiesiklus en groter doeltreffendheid om graan in vleis om te sit, gekoppel met bemarking en produkvernuwing.
Dieresiektes in verskeie lande kan die internasionale handel in vleis omvergooi. Aan die ander kant kan dit die aanbod in Suid-Afrika beperk en help om pryse stewig te hou.
Die groeipotensiaal in die aanbod van bees- en skaapvleis in die volgende twee jaar is redelik beperk. Myns insiens sal dit pryse hoog hou, maar dit sal hierdie produkte se markaandeel belemmer. Ek verwag dat vleispryse stewig gaan bly, maar ek moet bysê dat die pryse van veral speenkalwers, teelkoeie en ooie besig is om ongemaklik hoog te raak. Dit laat die gevaarligte flikker vir boere wat halsoorkop in hierdie bedrywe wil inspring.
25 November 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24