Menu
 

Philip Botha en Stephan van Zyl
6 Maart 2003

6839 keer gelees | 2 kommentaar

Kapitaalwinsbelasting (KWB) kan in 'n groot probleem ontaard vir boere wat nie betyds daarvoor beplan nie. Twee kundiges verduidelik in hierdie artikel hoe dié belasting bereken moet word en gee 'n aanduiding van watter transaksies belasbaar is.


Kapitaalwinsbelasting (KWB) kan in 'n groot probleem ontaard vir boere wat nie betyds daarvoor beplan nie. Twee kundiges verduidelik in hierdie artikel hoe dié belasting bereken moet word en gee 'n aanduiding van watter transaksies belasbaar is.

Kapitaalwinsbelasting (KWB) word gehef op die verskil tussen die aanvangswaarde (basiskoste) van 'n bate en die waarde daarvan op die datum van vervreemding. Eenvoudig gestel: KWB moet betaal word wanneer 'n bate 'n nuwe eienaar kry.

As Jan Boer (hy is 40 jaar oud) 'n plaas, waarvoor hy R1 miljoen betaal het, voor 1 Oktober 2001 vir R1,5 miljoen verkoop het, sou hy geen belasting op dié transaksie betaal het nie. Dit is omdat die R500 000 "wins" as kapitaal beskou is en nie as inkomste nie.

Indien hy die plaas ná 1 Oktober 2001 vir R1 miljoen gekoop het, of die plaas se waarde op 1 Oktober 2001 was R1 miljoen, en hy verkoop die plaas vir R1,5 miljoen, sal die R500 000 as 'n kapitale wins beskou word en KWB tot gevolg hê.

Voor KWB bereken word, moet eers bepaal word of dit nodig is om belasting te betaal as die transaksie aangegaan word. Boere kan die volgende ses stappe volg om te bepaal of hulle belasting sal betaal:

Eerstens moet bepaal word of die transaksie 'n vervreemding is, sodat vasgestel kan word of dit KWB tot gevolg kan hê. Die verkoop van 'n plaas, huis op die dorp, toerusting en werktuie, aandele of effektetrust-beleggings kan as 'n vervreemding vir KWB-doeleindes beskou word. As die boer sterf, sal dit ook as 'n vervreemding beskou word.

Die verkoop van vee wat deel van die boer se handelsvoorraad vorm, sal nie as 'n vervreemding beskou word nie, maar sal onderhewig wees aan inkomstebelasting. Die implikasies van KWB op vee by die dood van 'n boer sal volledig in die vierde artikel bespreek word.

In dié voorbeeld het Jan Boer plaasgrond verkoop. Dit word beskou as 'n vervreemding en is dus belasbaar.

Tweedens moet die boer vasstel of die bate vir vrystelling in aanmerking kom. Sekere bates is vrygestel van KWB. Dit beteken dat by die vervreemding van hierdie bates geen KWB daarop betaalbaar is nie. Bates, soos die woonhuis (primêre woning), persoonlike goed soos klere, motors en juwele, enkelbedrae uit aftreefondse, sekere prysgeld (soos lotery-wengeld), wins van tot R500 000 op die verkoop van 'n kleinsake-onderneming vir die doeleindes van aftrede, en die opbrengs van langtermyn-versekeringspolisse, is vrygestel.

In die voorbeeld kom die verkoop van Jan Boer se plaasgrond nie in aanmerking vir 'n vrystelling nie.

Die derde stap is om die basiskoste (aanvangswaarde) vas te stel. Hierdie koste is die belangrikste aspek van KWB en sal volledig in die volgende aflewering van hierdie reeks bespreek word.

In die voorbeeld hierbo sou die basiskoste deur 'n paar metodes bepaal kon word:

As die grond ná 1 Oktober 2001 gekoop is, sal die koopprys die basiskoste wees.

Jan Boer kan die grond laat waardeer om die waarde daarvan soos op 1 Oktober 2001 te bepaal. Dit sal die basiskoste weerspieël.

Die tydtoedelingsmetode kan gebruik word. Dié metode neem die kapitale wins in ag vir die tydperk wat die bate ná 1 Oktober 2001 besit is.

Die 20 %-reël. Dié reël bepaal dat 20 % van die verkoopprys wat deur Jan Boer ontvang is, die basiskoste sal wees.

Die verskillende opsies sal in meer besonderhede in volgende week se artikel bespreek word.

Vierdens moet die eindwaarde vasgestel word deur die basiskoste van die verkoopprys van die bate af te trek. As die boer gesterf het, word die basiskoste afgetrek van die markwaarde van die bate op die datum van sy dood. Die verskil tussen die basiskoste en die eindwaarde word beskou as die wins.

In die voorbeeld word die plaas vir R1,5 miljoen verkoop. Die basiskoste van R1 miljoen word hiervan afgetrek en die wins is R500 000.

As die wins bepaal is, moet die insluitingskoers bepaal word om die belasbare deel te bereken. Die wins word teen 'n spesifieke insluitingskoers by die boer se belasbare inkomste (sy opbrengs uit die boerdery minus toelaatbare uitgawes) vir die jaar ingesluit.

Die insluitkoerse is 25 % vir natuurlike persone (individuele boere) en 50 % vir maatskappye, beslote korporasies en trusts.

As Jan Boer die plaas in sy eie naam besit het, sal R125 000 (25 %) van die R500 000 in aanmerking kom vir insluiting by sy belasbare inkomste.

Laastens kan die betaalbare belasting vasgestel word. Die bedrag wat by die belasbare inkomste vir die jaar ingesluit word, word belas teen 'n natuurlike persoon se gewone belastingkoers, of in die geval van BK's en maatskappye teen 30 %. In die geval van trusts sal die ingeslote bedrag belas word teen 40 % (28 Februarie 2003 se koerse).

Elke natuurlike persoon kry 'n vrystelling van R10 000 per jaar, wat van sy kapitaalwins vir daardie jaar afgetrek kan word. Hierdie aftrekking is nie vir BK's, maatskappye of trusts beskikbaar nie. In die jaar waarin 'n persoon doodgaan, word hierdie aftrekking verhoog tot R50 000, welke aftrekking vir die oorledene se boedel beskikbaar is.

In die voorbeeld sal die vrystelling geld, met ander woorde net R115 000 sal ingesluit word (R125 000 min R10 000). Ons neem dus aan die boer het geen ander kapitale wins of verlies vir die belastingjaar gehad nie.

Indien die boer 'n netto belasbare wins uit sy boerdery-inkomste van R300 000 het, sal dié R115 000 daarby ingesluit word. Die R415 000 sal teen sy marginale koers belas word, soos aangedui deur die inkomstebelastingtabelle.

In effek sou die boer R11 500 KWB op die R500 000 wins betaal het - 'n effektiewe koers van 10 %. Persone met marginale koerse van 40 % sal dus effektief altyd 10 % belasting betaal. Hoe kleiner die marginale koers, hoe minder die effektiewe koers.

Mnre. Philip Botha en Stephan van Zyl is senior regsadviseurs by Ou Mutual-makelaarsdienste.

Raak ernstig oor KWB

In toepaslike gevalle word kapitaalwinsbelasting (KWB) reeds gehef op alle transaksies wat ná 1 Oktober 2001 aangegaan is. Baie boere besef nog nie die volle implikasies van hierdie belasting op 'n individuele boer of sy boedel by die verkoop van 'n bate of by die afsterwe van die boer nie.

Om meer duidelikheid daaroor te gee, begin Landbouweekblad dié week met 'n reeks van vier artikels waarin die praktiese aspekte van KWB, soos dit die boer raak, verduidelik word. Dié artikels sal die basiese beginsels, beplanningswenke en slaggate vir die boer uitlig. Dit behoort die boer die nodige agtergrond te gee om saam met sy adviseurs die nodige beplanning te doen.

Die artikels sal die volgende aspekte dek:

Is 'n bate belasbaar en, indien wel, hoe word die KWB daarop bereken?

Hoe word die basiskoste (aanvangswaarde) van die bate vasgestel? Dit kan 'n groot invloed hê op die "wins" by die verkoop van 'n bate en dus die hoeveelheid belasting.

Beplanning van waardasies. Boere het nog net tot 30 September vanjaar tyd om hul bates te waardeer.

KWB en die boedelplan. Goeie beplanning sal die invloed van KWB by afsterwe verminder.

KWB is egter 'n komplekse belasting.

Lesers wat spesifieke vrae het, kan dit faks aan mnr. Schalk Burger, Ou Mutual se bemarkingsbestuurder: AgriBesigheid. Die nommer is 021 509 5204. Dit kan ook per e-pos gestuur word aan: sburger@oldmutual.com.

Ou Mutual gaan pryse van R2 000 (effektetrusts) gee aan die leser wat die beste vrae stel.

In 'n neutedop

KWB is net van toepassing op transaksies wat aangegaan is ná 1 Oktober 2001.

As 'n mens vinnig 'n skatting wil maak van die KWB wat betaalbaar is op 'n transaksie met bates wat op jou naam is, en jou marginale koers is 40 % - neem 10 % van die wins wat jy maak. As jy nie reeds die vrystelling van R10 000 gebruik het nie, moet dit eers van die wins afgetrek word. Indien jou marginale koers minder as 40 % is, sal jy effektief altyd minder as 10 % KWB betaal.

Voor 'n mens bates vervreem, stel eers vas wat die KWB-implikasies gaan wees.

7 Maart 2003


Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Geraldine

2013/03/11 04:48:36 PM

ja en dt werk soos n gro0y b0m! my werkers op die plaas het baie gelukkig gemaak en ons het n baie groot plaas geontwerp


Meisie Maartens

2013/08/07 02:35:55 PM

Ons het n wildsplaas en bly nie in munisipale gebied nie hoekom moet ons dan plaasbelasting

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/04/14 15/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3415c 3422c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1723c 1719c down -0.2
Skaapvleis A2/A3 4638c 4636c down 0
Varkvleis (gem. prys) 2136c 2119c down -0.8
Braaikuikens 1712c 1721c down 0.5

Aandele

  • Namibiese Elite-koei: Bonsmara

    Funksioneel doeltreffende diere wat oral in alle toestande kan produseer, is die doelwit van mnr. Edward Hansen van Okahandja.

  • Sussex se Elite-koeie

    Met sý Sussex-beeste moet kommersiële boere op die veld wins kan maak, sê mnr. Chris Nel van Petrus Steyn.

  • Beefmasters se Elite-koei

    Mnr. Piet Human van Steynsrus se Beefmasters is die resultaat van die familie wat al 150 met beeste in die Vrystaat boer.

  • Drakensbergers se Elite-koei

    Jou oë kan vir jou jok, maar nie syfers nie, sê mnr. Edwin Schroeder van Dundee, eienaar van die Elite-koei in die Drakensberger-ras.