|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Klein Karoo Groep, met sy hoofkantoor op Oudtshoorn, het die afgelope verslagjaar met 'n groei van 18% in verkope afgesluit. Die groep, wat verlede jaar die eerste keer die miljard rand-kerf in omset oorskry het, het 2008 met totale verkope van R1,222 miljard afgesluit.
Mnr. Piet Kleyn, voorsitter van die direksie, het op die groep se algemene jaarvergadering bevestig dat die groep se netto wins, ná belasting en rente, met 5% tot R21 miljoen verbeter het.
Die besigheid se kontantvloei het te midde van 'n groot aantal uitdagings in die sake-omgewing 'n ommeswaai van R145 miljoen rand getoon teenoor die vorige jaar.
Dit was vanjaar die laaste keer dat die besigheid, wat nou 63 jaar oud is, sy resultate as 'n groep van maatskappye bekend maak. Die aandeelhouers van die Klein Karoo Koöperasie waaruit die besigheid sedert 1945 gegroei het, het in Julie vanjaar ingestem tot herstrukturering.
Vanaf 1 Januarie 2009 sal die onderneming in drie afsonderlike maatskappye bedryf word. Dit is Klein Karoo International (KKI) vir volstruisbesigheid, Klein Karoo Saad en Klein Karoo Handel en Meganisasie.
Volgens die uitvoerende hoofbestuurder, mnr. Kobus Goosen, het die groep hierdie groei in besigheid getoon terwyl produsentepryse vir volstruise deur Klein Karoo met 39% verhoog is. Saadpryse is deur die loop van die verslagjaar met tussen 10% en 40% verhoog, afhangend van die soort gewas.
7 November 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24