|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Landboumarkte, maar ook ekonomiese en beleggingsmarkte, beweeg in siklusse. Om 'n gepaste besluit te kan neem, is dit belangrik om die huidige stand van 'n siklus te kan identifiseer. Groot bedrae geld gaan verlore wanneer 'n boer op 'n verkeerde tydstip in 'n bedryf se siklus 'n verkeerde besluit neem.
Vanweë die veranderinge in aanbod en vraag, in verhouding tot mekaar, beweeg markte in siklusse. Dit is 'n eienskap van die vrye mark wat 'n mens moet verstaan om dit reg te kan benut.
Afgesien van die landbou se eie siklusse, word dié sektor ook in 'n groot mate regstreeks deur die ekonomie se siklusse geraak. Die geldelike posisie van elke boerdery-onderneming, én van elke boerderygesin, word regstreeks daardeur geraak.
Ongelukkig word mense kwaai deur die kudde-effek meegesleur. As 'n mens met volstruise kan geld maak, spring almal op dié wa met die onvermydelike gevolg van 'n groter aanbod wat tot laer pryse en winste lei. Dit geld ook mielies, aartappels, vrugte, beeste en skape. Trouens, dit geld ongelukkig ook beleggingsmarkte, waar die jongste gier is dat almal verhuurbare eiendom wil koop naby die bopunt van die mark!
Grafiek 1 toon die aard van siklusse (asook die vier fases daarin) aan.
Die eerste fase is die toetree- of beginfase wanneer die vraag na 'n produk, diens of item toeneem en groter as die aanbod is. Gewoonlik begin pryse in die mark dan styg. Dit is natuurlik 'n fase wanneer 'n mens beleggings met geleende geld kan doen soos om eiendom, nuwe bedryfsbates of vee te koop, of selfs om ander beleggings te maak. Die probleem is egter dat dié fase gewoonlik vir die meer ondernemende belegger bedoel is (wat meestal sy huiswerk deeglik gedoen het).
In die volgende fase begin die mark versadig raak vanweë die groter aanbod, of selfs omdat die vraag verswak. Pryse is redelik hoog en gewoonlik aantreklik.
Die nadeel is dat talle minder ingeligte beleggers gewoonlik dan tot die mark toetree. Wanneer die prys van byvoorbeeld wit mielies, aartappels en eiendom op sy hoogste piek is, spring die minder ingeligtes op die wa. Dit staan bekend as die kudde-reaksie.
Maynard Keynes, 'n beroemde ekonoom, het gesê: "As huisvrouens begin aandele koop, is dit tyd om te verkoop!"
Gewoonlik tree die derde fase in wanneer pryse begin daal vanweë te veel toetreders. Die aanbod is dan groter as die vraag, pryse begin daal en winste verander mettertyd in verliese. Ongelukkig kan dié fase 'n rukkie duur (maande en selfs jare), want die besluit om te begin produseer neem 'n wyle voordat die volle omvang die mark tref.
Dit is soos die jongste neiging, waarin talle mense olyfbome plant. Die volle omvang van die groter produksie sal eers oor vyf tot ses jaar duidelik wees. In dié fase duik kontantvloeiprobleme op en geld en reserwes kan vinnig erodeer.
Gewoonlik begin die vierde fase wanneer batepryse in die bedryf laag is en produksie-eenhede gelikwideer word. Finansiers se senuwees begin ingee, terwyl bates en produkte te gelde gemaak moet word om die verliese te dek.
Die ingeligte en geduldige ondernemer tree dan tot 'n bedryf toe. In dié fase word bates en produksiebates gekoop teen pryse wat net lonend kan wees as die mark draai. Gewoonlik tree rondspringers dan uit die bedryf en spring na die volgende bedryf wat op sy hoogtepunt is en waar hulle geld kan maak net om 'n soortgelyke proses te laat herhaal.
Dit is die kudde-instink van mense en dit sal altyd so wees. Die groot uitdaging is om jou nie deur die kudde te laat meesleur nie, maar dit verg baie wilskrag.
Voordat vername, en die regte besluite oor produksie-uitbreidings en nuwe beleggings geneem kan word, moet 'n mens probeer om te bepaal in watter fase van die siklus 'n bedryf is.
Dit is eweneens belangrik om te besef dat siklusse die winsgewindheid van verskillende boerderyvertakkings beïnvloed. In die landbou word siklusse ook nog deur die wisselvallige reënval of klimaat aangedryf.
Benewens die risiko wat inherent aan die landbou is, is boerdery-inkomste ook siklies van aard. Dit is raadsaam dat elke boer gereeld beoordeel waar in die siklus sy betrokke boerderyvertakkinge hulle bevind. Indien 'n boer dit verstaan, kan hy die nadelige geldelike gevolge bestuur.
'n Mens kan byvoorbeeld daarvoor voorsiening maak deur reserwes buite die boerdery op te bou. Daar is talle voorbeelde van bedrywe of groepe boere in bedrywe wat dit nie in goeie tye doen nie (wanneer die siklus hoog is en daar sterk kontantvloei en winste is).
'n Fout wat mense dikwels maak, is om aan te hou om winste in die landbou terug te ploeg. In 'n swak jaar, wanneer 'n betrokke bedryf of 'n streek deur die laagtepunt in 'n siklus beweeg, is dit gewoonlik 'n swak tyd om oortollige bates in die landbou in geld te omskep.
Talle debatte is al gevoer oor die voordele wat 'n reserwefonds vir boere kan inhou. Die Regering byt egter nie daaraan nie. Dus is dit noodsaaklik dat boere hul eie reserwefondse buite die boerdery moet skep deur in goeie jare geld op só 'n manier te belê dat dit wel ge-redelik beskikbaar is wanneer dit nodig is.
As 'n mens self so 'n fonds wil bestuur, is daar ongelukkig verskeie probleme, want beleggings gaan ook deur siklusse. Die groot risiko is dat die kudde-instink oorneem en daar aan die toppunt van 'n siklus ingespring word (saam met die kudde), net betyds om die daal-fase te vang.
Grafiek 2 toon die verskillende hoofbateklasse vir beleggers aan. Die huidige beoordeling is dat kontantbeleggings nog in 'n daalfase is, gegewe die dalende rentekoerspatroon wat nog geld.
Staats- en ander effekte is tans op 'n hoogtepunt met groot opbrengste van na aan 30 % wat reeds die afgelope jaar behaal is. Eweneens is eiendom tans naby sy piek. Die bateklas wat tans op 'n laagtepunt is, is aandele.
As 'n mens self jou beleggings wil bestuur om as 'n reserwefonds te gebruik, verg dit heelwat kundigheid en tyd ook om dit likied te hou binne al die belastingvereistes en -implikasies.
Private inisiatief het egter nou in die vrye mark na vore getree deurdat die beleggingsfiliaal van Ou Mutual, Fairbairn Capital, pas só 'n beleggingsproduk aan die landbou bekend gestel het.
Dié kapitaalbeleggingsportefeulje vir boere het verskeie eienskappe. 'n Mens kan jaarliks enkelbedragbeleggings doen en die beleggingsbedrag kan van jaar tot jaar verskil, soos wat die kontantvloei en winste van die boerdery wissel.
Die produk is só gestruktureer dat dit verskeie voordele biede rakende inkomste- en kapitaalwinsbelasting. Verder kan die boer 'n aansienklike deel van sy belegging só struktureer dat hy die kapitaal ('n gedeelte van die totaal) in swak jare rentevry kan leen.
Nog 'n voordeel is dat die boer dus sy in-komste in swak jare kan aanvul of selfs, ongeag die onderpunt van 'n sekere bedryf se siklus, beleggings kan doen om later die op-swaai te kan benut. Hierin lê ook verdere inkomstebelastingvoordele sodra 'n gunstige wins en opbrengs uit boerderybeleggings in 'n swak jaar behaal word.
Dit is myns insiens weer 'n voorbeeld van private inisiatief wat 'n markbehoefte raakgesien het en 'n geskikte produk ontwerp het. Die Fairbairn-fondspersoneel bestuur dié beleggings binne die siklusse van die verskillende bateklasse.
Dit is egter belangrik dat 'n boer sy geldelike posisie moet bestuur binne die marksiklusse van sy boerdery. Benewens die punt dat hy 'n kapitaalfonds buite die boerdery opbou (met enkelbedragbydraes afhangend van die boerderyjaar), is 'n groot deel van die fonds ook in 'n likiede vorm beskikbaar.
Dit is as 't ware 'n reserwefonds vir die boer om die siklusse van sy boerdery te help bestuur.
21 November 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24