|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Boere meen dat die koringprysvlakke wat teen middel Mei geheers het, nie die werklike markfaktore weerspieël nie en dat hierdie pryse hulle sal noop om hul plantbesluite te heroorweeg.
Suid-Afrika gaan volgens Graan SA se raming in die huidige bemarkingsjaar sowat 1 miljoen ton koring invoer (dit is 40 % van die verbruik). Die binnelandse pryse, wat in die jongste verlede laer as invoerpryse is, stuur volgens hulle verkeerde prysseine aan boere.
Boere redeneer dat die heersende prysvlakke nie voldoende is om hul te vergoed vir hul produksiekoste en die risiko nie.
Graan SA meen ook dat die heersende pryse teen middel Mei in Suid-Afrika nie net onder die heersende invoerpariteitspryse was nie, maar dat dit ook nie sin maak dat dié pryse op Safex tot in Desember gedaal het, terwyl die pryse in Amerika 'n stygende neiging toon.
Daarby is die heersende prysvlakke ver onder die invoerpariteitsvlakke van goeie Amerikaanse koring.
Daarenteen sien die kopers nie kans om so vroeg in planttyd te begin om die pryse vir Desember op te jaag nie, veral omdat meulenaars kla oor die swak binnelandse verbruik. Dit is nog lank voordat die nuwe oes beskikbaar gaan kom en meulenaars is nie bereid om hulle nou al vas te maak nie, aangesien die mark deur 'n hele aantal sake beïnvloed kan word.
Een van die sake is die wisselvalligheid wat die laaste paar weke geheers het, die wisselkoers se skommeling en die graanprys op die termynbeurs, wat die betaling van marges, namate die pryse wissel, nogal ingewikkeld kan maak.
Koringboere het 'n moeilike besluit om teen huidige pryse te plant, met die heersende pryse wat na hul mening te laag is om te vergoed vir die verwagte styging in produksiekoste. Boere moet die moontlike verloop van markfaktore, moontlike prysvlakke ná die oestyd en alternatiewe gewasse deeglik oordink.
Die taamlik skerp styging in brandstofpryse is beslis 'n saak wat boere pessimisties maak, want dit verhoog produksiekoste aansienlik, ten spyte van die dieselrabat.
Die ironie is dat die heersende internasionale voorraad van koring laag is. Die jongste ontledings dui daarop dat dit ongemaklik min word. Dit laat egter die moontlikheid ontstaan dat die wêreldpryse van koring hierdie seisoen kan styg.
Die Amerikaanse departement van landbou publiseer gereeld 'n oorsig van die verloop van die internasionale vraag en aanbod van koring. Grafiek 1 toon die stand van die voorraad in Amerika, China en elders in die wêreld oor die jongste vyf jaar. Die skerp daling is duidelik, so ook die verwagting dat die voorraad in 2004/05 verder gaan daal.
Die Amerikaanse departement van landbou bereken dat die wêreldproduksie van koring in 2004/05 aansienlik gaan styg tot 588 miljoen ton. In die vorige jaar is 549 miljoen ton geproduseer. Ten spyte van die geprojekteerde oplewing in koringproduksie word bereken dat die eindvoorraadvlakke verder gaan daal vanaf 128 miljoen ton tot 123 miljoen ton. Die rede is die groeiende vraag na koring.
In die geval van Amerika is die koringproduksie verlaag van 63,5 miljoen ton in 2003/04 tot 56,6 miljoen ton vir 2004/05.China se produksie sal na verwagting tot 84 miljoen ton daal, maar die verbruik word op 102 miljoen ton geraam daarom die skerp daling in voorraad.
Wêreldvoorraad as persentasie van verbruik word vir 2004/05 geraam op 20,8%. Dit is die laagste vlakke sedert 1970/71 en plaas baie druk op die wêreld se logistieke stelsel om die voorraad te verskuif. Die ruimte vir produksieprobleme in die belangrike produksie- en verbruikerslande raak al hoe groter.
Die verloop van pryse oor die laaste aantal maande word in grafiek 2 aangetoon. Dié grafiek wys ook die invoerpryse uit Amerika en Argentinië en dat daar soms verskille kan wees tussen die Amerikaanse en Argentynse pryse.
Die huidige invoertarief is nul omdat die internasionale prys heelwat bo die verwysingsprys is. Invoerders werk ook nie net met die Amerikaanse produk nie, hoewel die Amerikaanse pryse dikwels gebruik word vir die berekening van die invoerpariteit. Die feit is egter dat graan uit verskillende lande ingevoer word na gelang van die prys, gehalte en vervoerkoste. Gedurende die afgelope sewe maande (Oktober tot April is koring uit Amerika ( 303 206 ton), Argentinië (53 325 ton), Australië (160 595 ton) en Europa (34 619 ton) ingevoer.
Ook die binnelandse verbruik wissel en al is Suid-Afrika die afgelope paar jaar al 'n netto invoerder van koring (grafiek 3) weerspieël die binnelandse pryse nie altyd invoerpariteit nie.
Safexpryse wyk om verskeie redes van die invoerpryse af. Daar is by tye redelike verskille namate die binnelandse vooruitsigte, die wisselkoers en koopbedrywighede 'n rol speel. Die Safexpryse daal soms tot onder die vlak van invoerpariteit, maar keer wel weer daarheen terug. Koringboere moet juis daarom op die hoogte bly met prysbewegings om die geleenthede te benut en deur die jaar te bemark.
In Mei het die Safexpryse verskil vir die verskillende kontrakmaande. Mei se kontrak (R1 709/ton) was bykans R100/ton hoër as Desember se pryse (R1 617/ton). Gewoonlik styg pryse in die vorentoemaande om die koste van rente en opberging te weerspieël.
In die geval van die Suid-Afrikaanse koringmark is die huidige situasie dat die oes van 1,4 miljoen ton heeltemal te klein is vir die binnelandse vraag en dat tot 1 miljoen ton ingevoer sal word. Vooruitsigte vir die nuwe plantseisoen is egter beter. Boere het aangedui dat hulle koring op 885 500 ha gaan plant, wat 18,4 % groter as laas jaar se oppervlakte onder koring sal wees. As die weer saamspeel, kan 2,5 ton/ha geoes word. Dit sal altesame 2,2 miljoen ton lewer.
Graan SA se raming
Graan SA se raming van die binnelandse verbruik is 2,6 miljoen ton.
Dit is waarskynlik hierdie situasie wat nou deur die Suid-Afrikaanse koringprys weerspieël word: Die verwagte groter oes laat die pryse daal. Maar selfs al word 2,2 miljoen ton gelewer, sal heelwat koring ingevoer moet word, veral om genoeg vir die verbruik in die omgewing van Gauteng te voorsien.
Boere se plantvoornemens wys ook dat boere in die Vrystaat sowat 21,5 % meer as verlede jaar gaan plant.
Weervoorspellers verskil intussen oor die vooruisigte op reën. Die SA Weerdiens meen dat minder as die gewone reënval in die winter gaan val. Ander ontleders verwag egter 'n goeie koringseisoen.
Die huidige Safexpryse van ongeveer R1 600 per ton vir lewering in Desember is te min om die produksiekoste te dek, meen boere, veral nadat vervoerkoste en silokoste in ag geneem is. Dit geld veral die Vrystaat. Die feit dat die mark nou al 'n goeie oes verdiskonteer in die laer pryse wat vir Desember aangebied word, is na my mening voortydig.
Dit is waar dat daar heelwat faktore is wat die markprys hoër kan neem vir die oes wat nou geplant word, soos die verswakking in die rand se wisselkoers, ongunstige weer in Suid-Afrika en die klein voorraad op die wêreldmarkte. Dit gee besliste opwaartse prysmoontlikhede.
Die feit is egter dat die mark tans 'n ander boodskap gee en koringboere het nie 'n ander keuse nie as om hul plantbesluite versigtig te neem. Boere moet besonder waaksaam te werk gaan as daar nie minimum prysbeskerming (met die verskillende instrumente) met planttyd verkry kan word nie. Hierdie beskerming moet minstens die produksiekoste dek.
4 Junie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24