“Daar bestaan ‘n ernstige verskil tussen dit wat vandag in die Begroting gesê is en dít wat op grondvlak gebeur.” Só sê dr. Ferdi Meyer, hoof van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, rakende die Begrotingsrede.
Hy was deel van ‘n paneel wat gaste by Absa AgriBesigheid se jaarlikse Begrotingsfunksie in Centurion toegespreek het ná Mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, se eerste Begrotingsrede. Meyer het sy stelling bevestig deur te verduidelik dat die aanwending van die fondse waarvan in die Begrotingsrede gepraat word, nie op onder meer munisipale vlak gesien kan word nie.
Hy het verder uitgebrei op die minister se stelling dat die land, soos pres. Jacob Zuma aanbeveel het, dinge anders moet doen. “Ek dink nie ons moet goed noodwendig anders doen nie, maar eerder rég. Ons het nie die vaardighede om baie dienste te lewer nie.”
Lees ook:
Besteding vir die komende jaar
Volgens Gordhan word besteding vir die komende geldjaar op R9,7 miljard bereken. ‘n Ekstra R1,2 miljard is vir die volgende drie geldjare aan die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming toegeken as ‘n nuwe toelaag wat water- en sanitasie-infrastruktuur vir die landelike behuisingsprogram aanspreek.
Gordhan het ook aangekondig dat ‘n bykomende R2,5 miljard vir die herkapitalisasie van die Land Bank beskikbaar gemaak gaan word. Sowat R846 miljard sal in die volgende drie geldjare aan die verbetering en uitbou van infrastruktuur bestee word.
Hoër belasting
Individuele belasting vir eers onveranderd gelaat, maar Gordhan het belasting op brandstof met 25,5 sent per liter verhoog. Die belasting op alkohol en sigarette is ook verhoog. ‘n Pakkie sigarette sal R1,24 duurder wees, terwyl die pryse van alkohol met tussen R2,22 en 6,5 sent styg.
Persone wat nuwe voertuie wil koop gaan vanaf 1 September vanjaar meer betaal weens belasting op kweekhuisgasvrystellings wat in werking tree. Viertrekvoertuie asook luuksemotors met groot enjins sal na beraming tussen R13 000 en R24 000 meer kos.
Brandstofbelasting benadeel landbou
Die kundiges op die paneel meen die verhoging van die belasting op brandstof gaan ‘n ongunstige uitwerking die op landbou hê. Mnr. Dawie Maree, ekonoom by Agri SA, sê die verhoging word ingebring op dieselfde tyd as loonverhogings, verhogings in watertariewe asook ‘n verhoging in kragpryse.
“Dit gaan die boere hard tref.”
Landbou-vriendelike begroting?
Die paneel was baie versigtig om homself negatief teenoor die Begroting uit te spreek voordat alle inligting rakende die uitwerking wat dit op die landbou haan hê, beskikbaar is.
Mnr. John Purchase, hoofbestuurder van die Landboubesigheidskamer, het wel opgemerk dat die landbou en voedselsekuriteit nie in die Begrotingsrede voorgekom het nie, hoewel daar groot kommer oor ondersteuning hieroor bestaan.
Dr. Hans Balyamuzura, algemene bestuurder van Absa AgriBesigheid-insethouers, het met Purchase saamgestem. “Die landbou word geïgnoreer. Dit is nie hoog op die agenda nie, maar wanneer daar kwessies met die lewering van voedsel is word daar druk op die sektor geplaas.”
Lees ook:
Begroting 'nie landbou-vriendelik'
Kommer oor opstande
Intussen het die paneel en mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa AgriBesigheid, kommer oor toenemende diensleweringsbetogings in die land uitgespreek. Dit is ‘n probleem wat nie geïgnoreer moet word nie, en die staat moet daadwerklik dienste begin lewer, sê Janovsky.
Purchase meen die grootste probleem met swak dienslewering aan veral landelike gemeenskappe is die gebrek aan vaardighede op provinsiale en munisipale vlak. “Groot bedrae geld word toegeken vir dienste waarvoor die land nie die nodige vaardighede het nie.”
Grondhervorming?
Janovsky meen die staat moet die realiteite rondom grondhervorming in ag neem, veral nadat die departement se begroting verlede jaar uitgeput is. Hy sê die departement moet nie die probleme wat bestaan opsy skuif en nie net grond verskuif nie, maar ook produksie tydens die proses in ag neem.
Volgens Purchase is die situasie rondom grondhervorming uiters kommerwekkend. “Daar bestaan kwessies aan beide kante van die proses. Die grondeisers wag vir grond en geld, en die verkopers wag vir geld. Intussen vind geen produksie op dié grond plaas nie en het dit ‘n ongunstige uitwerking op die land se produksie,” verduidelik hy. Hy sê soms word dié grond ook deur plakkers opgeeis aangesien daar vir lang periodes geen produksie plaasvind nie.
Ekstra fondse vir die Land Bank
Balyamuzura het opgemerk dat die ekstra R2,5 miljard wat aan die Land Bank toegeken is, ‘n baie gunstige stap is. “In die afgelope twee begrotings moes groot uitdagings aangespreek word en dié is ‘n verbetering.”
Janovsky het met hom saamgestem. Hy sê ook die feit dat Gordhan vir ekonomiese groei van 2,3% in die komende boekjaar begroot het, is “baie gewaagd, dog positief”.
18 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)