|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die ontleding van die prestasie van die voorste maatskappye in Suid Afrika is interessant. Dit lewer nie net inligting oor die grootte en die wins van dié maatskappye nie, maar bevat ook waardevolle inligting oor verskillende besigheidsaspekte. Van hierdie sake het ook betekenis vir die landbou.
Die grootste Suid-Afrikaanse maatskappy gemeet aan omset, BHP Billiton, het bates in verskeie lande wat twee en half keer meer werd is as dié van die Suid-Afrikaanse landbou. Sy omset is dubbel en sy netto wins aansienlik groter as dié van die totale landbou.
Die bestuur van só 'n besigheid is 'n ingewikkelde taak, veral om dit so te doen dat dit aanhou goed vaar te midde van verandering in die sake-omgewing, groeiende internasionale mededinging, 'n sterker rand en strenger korporatiewe bestuursvoorskrifte. Daarby kan swart bemagtiging en aandeelhouding gevoeg word. Groot maatskappye se volgehoue prestasie in hierdie toestande bied waardevolle lesse vir die bestuur van 'n landbou-onderneming.
Die kerngegewens van die tien grootste maatskappye, wat deel uitmaak van 'n jaarlikse ontleding en vergelyking van 200 maatskappye, word in tabel 1 aangetoon.
Die ontleders doen baie moeite om die maatskappysyfers op 'n vergelykbare grondslag te ontleed en die meeste syfers is 2003 se jaarlikse resultate. In enkele gevalle word 2002 se resultate gebruik.
Die twee grootste maatskappye is albei hulpbronmaatskappye wat sodanig gediversifiseer het dat hulle ook onder die grootstes in die wêreld in hul klas is.
Die omvang van hierdie maatskappye word die maklikste geïllustreer deur hulle te vergelyk met die hele Suid-Afrikaanse landbou se omset van R66 957 miljoen in die jaar tot Maart 2004, met 'n netto wins van R16 599 miljoen. (Dit is nie heeltemal vergelykbaar met die syfers in die tabel nie aangesien dit heelwat kleiner is as dit vir vergelyking gebruik word.)
SABMiller is een van die grootste bierbrouers in die wêreld. Vir die landbou is sy betekenis dat hy 'n groot koper van graan is. Sasol, op vier na die grootste, verskaf van die landbou se belangrikste produksiemiddele, naamlik brandstof en kunsmis. Sy omset is omtrent gelykstaande aan dié van die landbou. Sy winsgewendheid is ook die beste onder die boonste tien maatskappye in Suid-Afrika.
Die interessante een is Telkom, wat met sy notering laas jaar (hy is nog in staatsbeheer) onder die tien grootste maatskappye gereken word. Telkom se jongste winssyfers het 'n klomp kritiek ontlok. Sy wins het sterk gegroei, maar as agtergrond moet onthou word dat hy steeds 'n monopolie is. Talle boere sal met reg aanvoer dat Telkom se diens in sommige dele van die platteland swak is.
Die betrokke minister word bestempel as een van die onbekwaamstes en die beoogde deregulering van die telekommunikasiebedryf sloer al jare lank. Mededinging vir Telkom sal hopelik tot beter diens lei.
Die maatskappye onder die 200 grootstes wat op die beurs genoteer is, bevat ook heelwat landbouverwante maatskappye, soos in tabel 2 aangetoon.
Die interessantes is die kettinggroepe, waaroor daar al hoe meer kritiek na vore kom uit landbougeledere. Die groep Tiger Brand is een van die grootste voedselverwerkers in Suid-Afrika en dus 'n koper van 'n wye reeks landbouprodukte. Die kettingwinkelgroep Spar is ook deel van Tiger Brands.
Die kritiek teen die maatskappye is nie noodwendig hul winssyfers nie, maar die houvas wat hulle op die mark vir landbouprodukte het, veral verwerkte landbouprodukte. Al hoe meer boere meen dat hierdie ondernemings nie altyd in belang van die landbou optree nie.
Afgri, die ou OTK, vaar al hoe beter. Sy wins groei en die omvang van sy sake brei uit. Hy was die vorige jaar 67ste op die ranglys.
Die suikergroepe, wat in 'n sterk gereguleerde omgewing (deur die Departement van Handel en Nywerheid) sake doen, vaar ook nie sleg nie.
Astral was eers deel van die Tigergroep, maar is ontbondel en is hoofsaaklik 'n vervaardiger van veevoer. Hy het wel sterk belange in die hoenderbedryf. Dit is ook 'n maatskappy wat voortdurend groei.
Kolosus is in die rooivleisbedryf en sukkel.
Rainbow Chickens is Suid-Afrika se grootste hoenderprodusent. Hy is ná jare se sukkelgang nou weer op die winspad.
Omnia, die bekende chemiese maatskappy wat ook kunsmis vervaardig, vaar besonder goed. Invicta verskaf onder meer landbouwerktuie, terwyl Intertrading by uitvoer betrokke is.
Die interne opbrengskoers van maatskappye is 'n markverwante opbrengs-maatstaf wat die groei van aandeelpryse en die betaling van dividende in ag neem. Die beste presteerders oor die afgelope vyf jaar word in tabel 3 aangetoon. Die opbrengskoers is per jaar en dit kan vergelyk word met die groei van die alle-aandeelindeks van 12,7 % per jaar.
Van dié maatskappye is minder bekend, maar die opbrengste wat aandeelhouers verdien, is dikwels hoog.
Die feit dat Iscor onder die voorste tien is wat betref opbrengsgroei, laat talle mense vrae vra oor sy hoë staalpryse en manier van prysbepaling.
Alle aandele het gedurende 2003 met sowat 40 % gestyg.
Dit is wel interessant dat onder die voorste vyftig winsgroeiers geen landbouverwante maatskappye is nie. Afgri is wel nommer 53, met 'n opbrengs van 35 % per jaar vir sy aandeelhouers. Dan volg Omnia, met 32 %. BHP Billiton het 'n koers van 40 % en Anglo handhaaf 'n koers van 29 %.
Die ontleding van die finansiële prestasies van die land se grootste maatskappye wys dat daar maatskappye is wat uitstekende resultate vir hul aandeelhouers lewer.
Die ontledings toon egter ook aan dat monopolistiese ondernemings, soos Telkom, Iscor en Sasol, besonder goeie winssyfers behaal, heel moontlik tot nadeel van die publiek.
Afgri is tans die enigste landboumaatskappy wat uit die ou koöperatiewe ondernemingsvorm ontstaan het wat goed vaar. Hy is nommer 53 op die lys van die land se grootste maatskappye en nommer 54 gemeet aan 'n opbrengskoers van 35 % per jaar aan sy aandeelhouers waarvan die meeste nie boere is nie.
23 Julie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24