|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Regering het sy primêre verantwoordelikheid,
naamlik doeltreffende landboubemarking en verbeterde marktoegang, afgeskeep. Dit
moet dringend reggestel word, onder meer deur herbesinning oor die Bemarkingswet
en die geskiktheid van die Nasionale Landboubemarkingsraad.
In 1996 is die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte deur die Parlement aanvaar en het die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) tot stand gekom. Sedertdien is die meeste kommersiële boere bevoordeel deur nuwe bemarkingsgeleenthede.
Tog is daar kommer oor marktoegang vir ontwikkelende boere en die manier waarop die Regering die proses bestuur.
Die meeste van 'n reeks belangrike take wat die Regering binne 'n landboubemarkingstelsel moet uitvoer, soos die verskaffing van inligting, infrastruktuur, navorsing, die vermindering van transaksiekoste, kapasiteitsbou, gradering en gehaltestandaarde, voedselveiligheid en wetgewing, word tans swak uitgevoer - of glad nie.
Iemand het onlangs opgemerk dat die dryfveer agter die instelling van die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte (1996) eerder 'n behoefte was om die ou stelsel te herroep, as die noodsaaklikheid om 'n nuwe stelsel doeltreffend te bestuur.
Dit is egter nie heeltemal waar nie, omdat die minister, soos in die ou bedeling, tussenbeide kan tree. Tog verskil die nuwe Wet in dié opsig dat statutêre magte nou selde gebruik word.
Die toekomstige rol van die NLBR sal noodwendig deur 'n goed gemotiveerde vooruitblik bepaal moet word. Dit sal moet saamgaan met die tipe aksies wat benodig sal word om die doeltreffendheid van landboubemarking, sowel as marktoegang vir voorheen benadeelde boerderygemeenskappe, te bevorder.
Só behoort dit moontlik te wees om 'n NLBR te ontwerp wat nie die swakhede en foute van sy voorgangers herhaal nie.
Die Regering is verantwoordelik om 'n omgewing te skep waarbinne 'n doeltreffende bemarkingstelsel vir die landbousektor onderhandel en geskep kan word. Daarbenewens bestaan die uitdaging om die voorheen benadeelde gemeenskappe by die kommersiële landboumark in te lyf.
Hoewel die Regering probleme met marktoegang, soos inligting (oor pryse, markte, kopers, gradering, ens.), voorligting (oor tegniese produksiesake, gehaltevereistes sowel as finansiële en markkennis) en navorsing kan oplos, sal ander inisiatief van boere vereis word.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat 'n boer se vermoë om in die gedereguleerde omgewing te oorleef, grootliks bepaal word deur sy "transaksiekoste", met ander woorde, wat dit kos om sy produkte te "verkoop". Hoe hoër dié koste, hoe minder prakties raak dit vir boere om aan bemarkingsaktiwiteite deel te neem.
Sommige van die genoemde "pligte" van die Regering kan help om sommige van dié transaksiekostes, sowel as die markrisiko's, te verlig.
Die NLBR kan as "waghond" en raadgewer ingespan word om toe te sien dat die Regering 'n doeltreffende bemarkingstelsel daarstel en die deursigtigheid en betroubaarheid van die mark handhaaf.
Die huidige staatkundige bedeling in die landbou, sowel as die beperkte politieke status wat die NLBR binne die Ministerie en die Departement van Landbou geniet, negeer die doeltreffendheid daarvan. Die raad en aanbevelings deur die NLBR word nooit as gewigtig of dringend beskou nie. Dit vertraag besluite deur die minister en skep die indruk dat die instelling nie as noodsaaklik geag word nie.
Prof. Nick Vink is hoof: Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van Stellenbosch.
Prof. Johann Kirsten is 'n deeltydse lid van die NLBR en Hoof: Departement Landbou-ekonomie, Voorligting en Plattelandse Ontwikkeling, Universiteit van Pretoria.
goed
Heelparty
mense glo dat die bemarkingswette van 1937 en 1968 die landbou bevoordeel het.
Daar is egter vele bewyse dat die landbou in Suid-Afrika veel sterker sou staan
sonder dié wette. Onder die verkeerde sienings was:
Die beheerrade was doeltreffend.
Argumente ten gunste van
staatsinmenging in landboubemarking deur die bemarkingswette en beheerrade in
die 1930's was onder meer om boere se bedingingsmag teenoor dié van maatskappye
wat die produkte aangekoop het, te versterk en die "ongelyke bemarkingspeelveld
gelyk te maak".
Produsente het per definisie die rade
beheer en besluitneming is deur gevestigde belange gekenmerk. Tog was
landboubemarking tot en met 1996 nóg doeltreffend nóg billik.
Die beheerrade het gevolg op beskerming
teen markkragte wat reeds sedert die 1920's aan boere verleen is deur
"verpligte" samewerking en ander gunste.
Die rade het tot monopolistiese
instellings ontwikkel en 'n nalatenskap van 'n beskermde en grootliks
ondoeltreffende agri-besigheidsektor gevestig, wat nou eers begin leer hoe om 'n
teenvoeter vir globale markkragte te ontwikkel.
Benewens die bemarkingswette van 1937
en 1968 het die staat boere op allerlei ander maniere gehelp, onder meer deur
subsidies vir grondbewaringswerke, boorgate, plaaswerkerbehuising en plaasskole,
die voorsiening van hulpmiddels soos elektrisiteit, paaie en besproeiingswater,
en gesubsidieerde rentekoerse deur die Landboukredietraad en die Land
Bank.
Tans is meganismes ter ondersteuning
van die landbou gesetel in die Landbounavorsingsraad (LNR), die Land Bank, die
NLBR en die provinsiale departemente van landbou - instellings wat in 'n
aansienlike mate buite die regstreekse beheer van die Departement van Landbou
is.
Die struktuur van gewaarborgde markte
en pryse is soms beskou as 'n stelsel wat wit kommersiële boere bevoordeel het
en swart bemagtiging in die landbou kon bevorder.
Beheerrade se pogings om prysbeheer
ingestel te kry, het nie produksiekoste verlaag of die styging in
plaasproduktepryse in bedwang gehou nie. Gevolglik het ernstige finansiële
krisisse kommersiële boere teen die middel van die jare tagtig in die gesig
gestaar. Kwotas en permitte wat ingestel is om pryse te stut, het kleiner boere
uitgesluit en slegs groter boere toegang gegee tot die basiese reg om te
verkoop.
Burokrate het besluite geneem en
verkeerde seine aan boere deurgestuur, wat tot die ondoeltreffende benutting van
hulpbronne en wanbalanse in die stelsel gelei het.
'n Toekomsblik
'n
Vrye en gedereguleerde sektor beteken nie noodwendig geen staatsinmenging nie.
Inteendeel, daar rus 'n verpligting op die Regering om te verseker dat 'n
gesonde en mededingende landbousektor in stand gehou word.
Wette, reëls en regulasies bly
onontbeerlik vir enige landboubemarkingstelsel. Dit skep die raamwerk waarbinne
eiendomsregte, kontraktuele regte en ander regte - wat onderliggend is aan alle
markte - gewaarborg kan word.
'n Ontoepaslike wetlike raamwerk of
ondoeltreffende toepassing van wette en regulasies - soos vir voedselveiligheid
en dieregesondheid - kan die doeltreffendheid van bemarking benadeel, die
produksiekoste verhoog en die ontwikkeling van 'n gesonde en mededingende
landbousektor knou.
Ontwikkelende boere worstel steeds om
aan te pas in die nuwe omgewing.
Sekere inisiatiewe van die private
sektor om dié boere met die opdoen van ondervinding en skakeling met kommersiële
boere en agribesighede by te staan, is deur gebrek aan besluitneming en
vertragings deur die Regering in die wiele gery.
Die verantwoordelikheid vir die
verbetering van marktoegang vir voorheen benadeelde boerderygemeenskappe lê by
die Departement van Landbou en die NLBR aan die een kant en die provinsiale
departemente van landbou aan die ander kant.
Hoewel sekere groepe glo dat 'n
onafhanklike NLBR met uitvoerende magte die probleem kan oplos, blyk dit dat
aansienlike insette vanaf 'n aantal "lyn"-departemente en provinsiale
departemente van landbou vereis word.
Dit is 'n enorme taak en strek vanaf
die bou van toegangspaaie en die voorsiening van inligting, tot die ontwikkeling
van menslike kapasiteit: Iets wat nie met 'n bemarkingswet alleen reggekry gaan
word nie.
Dinkwerk oor Regering se plek nodig
Die probleme
wat die Suid-Afrikaanse landbou in die gesig staar, is tipies van vele
"oorgangsekonomieë". Gesonde bemarkingstelsels kom nie oornag tot stand nie.
Markte vereis 'n ondersteunende infrastruktuur, instellings en
beleidsriglyne.
Dít is meer as wat die Regering
alleen kan vermag, en moet deur bestaande sosiale en ekonomiese verhoudinge tot
stand gebring word.
Die eerste stap in die daarstelling van
'n bemarkingsinstelling sal wees om die Regering se plek in landboubemarking
opnuut in oënskou te neem. Om oorvleueling, jurisdiksieverskille en ander
gebreke uit te skakel, is dit belangrik om 'n holistiese benadering te volg
wanneer oor die rol van die LNR, die nasionale Departement van Landbou en die
provinsiale landboudepartemente besin word.
Binne die institusionele raamwerk vir
landboubemarking is dit onvermydelik dat 'n aantal staatsdepartemente
verantwoordelikheid vir verskeie aspekte van die bemarkingstelsel sal moet
aanvaar. Om 'n verbrokkeling van verantwoordelikhede te verhoed, moet alle dele
van die openbare sektor by die formulering van beleid betrokke wees.
Die oorgang van 'n beheerde
landboubemarkingstelsel tot een waar die mark self die funksies van koop,
verkoop en prysvasstelling moet vervul, is moeilik genoeg. Om te verseker dat
dit nie tot verdere uitsluiting van voorheen benadeelde plaasgemeenskappe lei
nie, sal dit spesiale insette van die Regering vereis.
Die bevordering van marktoegang strek
veel verder as statutêre maatreëls en vereis 'n hele reeks staatsfunksies en
dienste, sowel as die sterk betrokkenheid van die private sektor.
26 Julie 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24