Landbou.com se susterpublikasie, Landbouweekblad, het onlangs ’n onderhoud met mnr. Schalk Pienaar, nuwe voorsitter van die Landboubesigheidskamer, gevoer. Die artikel het in die 16 Julie uitgawe verskyn, maar het nie al die inligting bevat nie. Hier is die eerste in 'n reeks artikels wat die volle storie bevat.
Mededingingsowerhede:
LBW: a. Het ons dié owerhede nodig? Of is dit net ‘n las wat die landbou net reuse boetes kos?
SP: Ons het die beleid en wetgewing nodig. Daar is genoeg voorbeelde van waar daar werklik onmededingende optrede was wat tot nadeel van die verbruiker en andere was. As ’n besigheid hom met onmededingende praktyke ophou, soos wat die bedoeling van die wetgewing is om te voorkom, dan moet hulle nie huil as hulle “uitgevang” raak nie.
Of die vlakke van die boetes sinvol is kan mens oor debatteer. Na my mening is daar ander en meer sinvolle maniere om onmededingende optrede in ons land uit te roei. Die vlakke van boetes en die indruk dat vervolging amper obsessief nagejaag word skrik wel af, maar kan Suid Afrika se besighede mededingend groei en presteer met ‘n vreespsigose wat elke transaksie vergesel?
LBW: b. Beskryf vir my die verhouding tussen landboubesighede en die Mededingingskommissie.
SP: Huidig is daar baie emosie om die moontlike optrede van die Kommissie teen sekere landboubesighede en hul moontlike rol in die vasstelling en toepassing van opbergingstariewe – spesifiek die sogenaamde Safex-dagtarief. Enkele ander landboubesighede was vir ander beweerde oortredings voor stok gekry.
In situasies soos dié is dit nodig om koelkop te bly en is dit in die grootste belang van landbou dat interaksie met die Mededingingskommissie moet plaasvind om die indruk van aggressiewe optrede teen landbou uit te bestuur. Die LBK was reeds as deel van ‘n groter groepering met die Kommissie in gesprek en ek hoop dit kan opgevolg word.
Soos dikwels in die lewe het ek die indruk begin kry dat die Mededingingskommissie nie voldoende toegelig is en word oor die praktyke, bedoelings en optrede van – in ons geval – landboubesighede nie en is ons ook nie tydig en volledig genoeg sedert die afkondiging van die betrokke wetgewing ondersteun om ‘n dinamiese, regverdige, mededingende omgewing te help skep waarbinne landbou, besigheid en die land kan floreer nie.
LBW: c. Hoekom is dit dat daar soveel ondersoeke na die landbou is? Dink jy dat die Kommissie op landbou “pik”, of is daar goeie rede om landbou se doen en late met ‘n vergrootglas dop te hou?
SP: Ek weet nie of daar verhoudelik soveel meer ondersoeke na die landbou is teenoor rolspelers in ander sektore nie. Dit is moontlik ‘n faktor dat ‘n bepaalde praktyk by ‘n aantal rolspelers voorkom en dat die Kommissie nie uitsonderings maak nie en dan almal ondersoek wat die indruk laat dat daar baie ondersoeke na die landbou is. Maar dit is nogtans ‘n goeie vraag en een wat eerder aan die adres van die Kommissie gerig moet word.
Ek wens dat daar interaksie met die kommissie kan wees om bogenoemde gesprek voort te sit en dat daar inderdaad ‘n vergrootglas op die landbou gesit kan word – dat dit ‘n gesamentlike oefening moet wees waaraan die kommissie en ander belangrike rolspelers soos Agri SA, die LBK, die Nasionale Bemarkingsraad, ens kan deelneem om die werklike stand van die mededingende posisie van Suid Afrikaanse landbou behoorlik te bepaal.
Moontlik moet daar gepoog word om ‘n moratorium op huidige en verdere ondersoeke te plaas totdat so ‘n gesamentlike oefening afgehandel is. My vermoede is dat daar by almal – insluitend die Kommissie – ‘n ander indruk gaan wees en dat daar veel eerder daarna gefokus sal word op ondersteuning en medewerking om “Landbou Suid-Afrika” meer mededingend te maak. Die regulatoriese rol van die Mededingingskommissie is verstaanbaar maar te beperkend – daar moet ook ondersteuning wees om ons land te help groei en meeding en om ‘n gerekende rolspeler in ekonomiese groeperings in die wêreldmarkte te word.
As ons nie so ‘n weg volg nie is ons op ‘n emosionele konfrontasiepad waar daar nie wenners sal wees nie.
LBW: d. Sou jy sê landboumaatskappye het genoegsame kennis oor die Wet op Mededinging (Wet 89 van 1998)?
SP: Nee, ons het nie maar ons is besig om blitsvinnig te leer!!
LBW: e. Wat gaan jy in jou nuwe posisie om ‘n beter verhouding tussen die twee partye te bewerkstellig?
SP: Om mee te begin gaan ek bloot die bestaande proses van gesprekvoering so goed moontlik ondersteun. Dit help nie om die wiel oor te probeer ontwerp net omdat ek die nuwe mannetjie in die klas is nie. Bestaande meganismes om gesprekvoering en interaksie (lees “engage”) verder te voer was positief en bemoedigend en ons moet dit ‘n billike kans gee om verder gevoer te word.
5 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)