'n Trust is 'n bruikbare meganisme. Dit stel iemand in staat om sy kosbaarste besittings buite bereik van skuldeisers te plaas, asook om minderjarige kinders te versorg.
'n Trust is 'n meganisme om bates onder jou beheer te hê (indien jy 'n trustee is) sonder om hulle, in die oë van die wet, te besit. Iemand sal moontlik vra: Wat is die punt dan? As ek iets wil benut, is dit nie beter om die eienaar te wees nie?
Die antwoord is dat dit in vandag se wêreld beter is om nie die eienaar van jou kosbaarste bates te wees nie. Byvoorbeeld, as jy bankrot speel, sal die balju op ál jou eiendom beslag lê, dit verkoop en die geld aan jou krediteure betaal. As die eiendom egter in 'n trust is, sal dit buite die bereik van jou krediteure wees.
Dus, as jou woning in die naam van 'n diskresionêre trust geregistreer is, kan jy daar bly, al is jy bankrot. As die trust daarby geld besit, kan die trustees aan jou 'n motor verskaf, en vir klere en kruideniersware betaal.
Dan is daar die kwessie van boedelbelasting. As jy eiendom besit wanneer jy te sterwe kom, is dit 'n bate in jou boedel. As die algehele waarde van al jou boedel R1,5 miljoen oorskry, is boedelbelasting betaalbaar. Eiendom van 'n trust vorm nie deel van jou boedel nie, al is jy 'n trustee of 'n begunstigde daarvan.
Jy kan wettiglik 'n trustee van 'n trust wees (en dus die bates van die trust behartig) en terselftertyd 'n begunstigde van die trust wees, maar jy mag nie die enigste trustee en die enigste begunstigde wees nie. As dit 'n diskresionêre trust is, sal jy in jou hoedanigheid as trustee moet besluit of die trust inkomste aan jou (in jou hoedanigheid as begunstigde) sal verdeel, en indien wel, watter bedrag. Wat 'n aangename taak.
Jare lank is bespiegel dat die Regering teen trusts gaan optree. Onlangs is wetgewing wel deurgevoer wat bepaal dat die inkomste van trusts teen 'n vaste koers van 40 % belas sal word. Daar is ook wetgewing wat daarop gemik is om belastingontduiking deur trusts teen te werk. Maar met professionele bystand is dit nog moontlik om groot finansiële en belastingvoordele deur trusts te verkry.
As 'n mens minderjarige kinders het, is 'n testamentêre trust absoluut noodsaaklik. Die opbrengs van jou lewensversekering kan aan die trust betaal word, waar dit deur trustees (wat jy gekies het) bestuur sal word om die kinders finansieel te onderhou tot tyd en wyl hulle selfonderhoudend is. Op daardie tydstip kan die oorblywende kapitaal van die trust aan hulle betaal word. Vir hierdie doel kan die doeltreffendheid van 'n trust nie oortref word nie.
Wat van 'n inter vivo-trust ('n trust wat jy in jou leeftyd stig? Dit is 'n ingewikkelder saak en hang onder meer af van die waarde van jou bates, en of die trust deur jou en jou gesinslede (en dus kosteloos) geadministreer kan word.
Prof. Bob Williams is verbonde aan die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Natal en is ook 'n praktiserende regskonsultant.13 Desember
2002