|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Noord-Kaapse boere kan nou met vertroue alle aspekte van 'n
boerdery hanteer met die hulp van 'n unieke internetdiens. Dié diens, wat op die
maatskappy se webwerf vir lede beskikbaar is, help boere om deurdagte en
ingeligte besluite te
neem.
Boere wat seker wil maak hulle neem die regte besluite in hul boerdery, kan nou op die internet alle inligting kry. Met die hulp en raad van kenners kan hulle volledige beplanning doen van produksiemiddele, bestuur, bemarking, versekering, kosteberamings en enige ander faktore wat 'n invloed op die boerdery kan hê.
Mnr. Johann Bornman, bestuurder van inligtingstegnologie by Griekwaland-Wes Koöperasie (GWK) op Douglas, sê die nuwe diens is so eenvoudig moontlik saamgestel sodat boere sonder moeite deurdagte en ingeligte besluite kan neem.
Om dié diens te kan gebruik, het die boer nie eens 'n landlyn-telefoonverbinding nodig nie. Die maatskappy help die boere om die regte toerusting, soos die multimedia-toestel wat nodig is om die stelsel te gebruik, in die hande te kry deur skakeling en ooreenkomste met die diensverskaffer. Alles vorm uiteindelik deel van 'n pakket wat met die selfoonmaatskappy ooreengekom word. Daar is ook 'n rugsteundiens aan boere wat probleme ondervind.
Omdat elke boer se omstandighede en behoeftes uniek is, kan die stelsel met gemak vir elkeen aan-gepas en onder sy GWK-lidnom-mer verpersoonlik word. Elkeen se eiesoortige behoeftes bepaal dus hoe sy diens gaan lyk. Omdat elke boer met sy lidnommer en kodenommer moet aanmeld, bly alle inligting vertroulik.
Die stelsel werk besonder eenvoudig. Op elke boer se persoon-like lêer in die stelsel verskyn 'n kaart van sy eiendom waarop alle nodige inligting, soos die distrik, die plaas se naam, die ligging en die grootte van die lande en watter dele van die plaas weiveld is, aangedui word.
'n Goeie voorbeeld is wanneer 'n boer graan aan die maatskappy lewer. Hy kry sy leweringsgeskiedenis per vrag. Namate hy graan lewer, word die hoeveelhede bygewerk. Hy kan dus sien hoeveel ton hy nog beskikbaar het vir kontraktering. Die geskiedenis sluit in die netto gewig, die waarde van die vrag en verwysingsnommers vir alle aspekte, soos BTW.
Boere se Safex-verhandelings en hul Safex-rekening word elke dag bygewerk. Graanverhandeling en kontraktering kan deur GWK per selfoon, internet, landlyn of faks gedoen word. Sodra die kontraktering gedoen is, word die status dadelik op die stelsel aangepas en die boer kan deurlopend op die hoogte bly.
Die hele boerdery kan met die stelsel beplan word. Die algemene inligting sluit in aspekte soos besproeiingskedulering, waaronder elke streek van die maatskappy afsonderlik gehanteer kan word. Skedulering kan per gewas gedoen word, gekoppel aan 'n boer se eie behoeftes.
Die program help die boer om die koste te beraam van ál die kontantgewasse wat in sy streek geplant word en van die permanente gewasse, soos druiwe en olywe. Só 'n kosteberaming neem alle faktore in ag, soos insetkoste (bemesting, diesel, spuitstof, versekering, ensovoorts), en bepaal die moontlike opbrengs en wins. Moontlike finansiering deur die maatskappy word terselfdertyd aangedui. In dié verband word kredietaansoeke per streek op die internet gehanteer. Dit is spesifiek gefokus op elke boer se sakebehoeftes.
Terselfdertyd word professionele leiding gegee oor die produksiepraktyke vir elke gewas. Faktore soos grondsoorte, bemesting, wisselbou, plantdatums, bekamping van onkruid en plaagbestryding word deeglik vir die boer uiteengesit.
Dieselfde geld kosteberamings vir lewende hawe. Ook vir dié vertakking van die boerdery word insetkoste, soos voerkoste en veemiddels, in berekening gebring. Die heersende vleispryse bly deurentyd een van die belangrike faktore wat in aanmerking geneem word. Uitstekende inligting en leiding ten opsigte van produksiepraktyke vir lewende hawe is beskikbaar.
Ook met kosteberamings vir meganiese toerusting, soos trekkers, stropers, vragmotors en bakkies, kry die boer hulp. Hy kan die koste van verskillende modelle met mekaar vergelyk om die korrekte besluit te neem.
Wanneer 'n boer dus alle berekeninge in verband met sy produksie gedoen het, word hy ook gelei om die regte bemarkingsbesluite te neem in die verhandeling van sy produk. Markinligting van die graanmarkte en die markte vir lewende hawe word gegee. Die boer kry leiding met graankontraktering. Hy kan deurlopend sien wat die finansiële implikasies van besluite sal wees deur 'n gelykbreek-analise in die vorm van 'n produksiekoste-vergelyking, wat deurlopend aangepas word namate brandstofkoste en rentekoerse verander.
Die boer kan dan sy gelykspeelpunt met sy bemarkingsbeplanning vergelyk sodat dit vir hom moontlik is om in enige stadium te bepaal wat sy oes gaan lewer.
Omdat dit belangrik is dat boere moet weet wat in hul bedrywe gebeur, word inligting van byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) aangebied, en word raad oor versekering gegee (wat die implikasie van die versekering is, verskillende polisse, die uitwerking van skade en eise, ensovoorts).
Taksasie kan ook via die telefoon per internet gedoen word. Die boer kan sy eisegeskiedenis per gewas sien en kan taksasies per selfoon doen. Die taksasie-inligting word outomaties op die boer se portaal afgelaai.
Mnr. Bornman verseker boere dat alles omtrent die diens binne die nuwe Wet op Elektronika val. Boere sal hulp kry met die multimediatoestel waarmee die kommunikasie gedoen word. Die boer moet die toerusting koop, maar die internetdiens is gratis vir alle aandeelhouers van die maatskappy.
Mnr. Klasie Jacobs, voorsitter van GWK se direksie, is een van die lede wat die internetdiens gebruik. Hy sê dit is 'n uiters nuttige stuk "gereedskap" wat boere net sal moet leer gebruik.
Mnr. Jacobs sê hy kan al self op dié portaal sy koöperasierekening nagaan. Namate hy meer vertroud raak met die stelsel, sal hy geleidelik sy hele boerderybeplanning daarmee kan doen. Sy volgende koringoes sal die eerste wees wat hy met die internetstelsel sal verhandel. Die groot voordeel is dat alle markinligting nou vir enige boer beskikbaar is.
Hy kan alles doen met die hulp van die multimedia-toestel waarmee hy per selfoon kan kommunikeer. Hy het voorheen altyd probleme met sy landlynverbinding gehad. Nou het hy 'n betroubare en vinnige medium waarmee hy sy werk en banksake kan doen en met die maatskappy kan kommunikeer.
5 September 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24