|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die reën in die afgelope somerreënseisoen het heelwat later as gewoonlik begin. Daarby was die reënval onbestendig. Sekere produksiegebiede het in die laaste weke ver meer as hul gewone reënval gekry, terwyl ander nie eens die helfte van hul jaarlikse reënval gekry het nie.
Produksietoestande die afgelope somer was in talle gebiede ongunstig. Een van die gevolge was dat graanpryse deur die plantseisoen aansienlik gestyg het.
Daar is aanduidings dat talle oeste kleiner as gewoonlik sal wees, ten spyte van die groot opwaartse aanpassing in die jongste oesskatting en die skerp afwaartse prysreaksie.
Graanboere loop die gevaar om hulle blind te staar teen die korttermyn-wisselvalligheid van markte. Hulle loop daarby die risiko van verkeerde besluite deur sake nie in perspektief te sien nie.
Die ongunstige seisoen hou ook aansienlike implikasies vir die veebedrywe in. Na verwagting gaan die komende winter swaar wees vir veeboere omdat die beskikbaarheid van voer en weiding aansienlik onder druk gekom het.
Intussen beur graan- en oliesaadpryse op die graanbeurs in Chicago na nuwe hoogtepunte. Dit weerspieël die krimpende voorraadposisie van graan en oliesade in die wêreld. Hierdie ontwikkeling word nog nie in die Suid-Afrikaanse mark weerspieël nie. Die sterker rand-dollarwisselkoers het tot gevolg dat stygende pryse (in dollar) teengewerk word en die pryse van ingevoerde produkte in sommige gevalle daal. Graanboere se winsmarges is onder aansienlike druk, soos ook onlangs weerspieël is in die jongste syfers oor die daling in die landbou se netto wins.
Om sake verder ingewikkeld te maak, het die Nasionale Oesskattingskomitee in die tweede skatting van die seisoen (19 Maart 2004) sy mielie-oesskatting aangepas met sowat 650 000 ton meer. Dit het graanboere en die graanmark onkant betrap en daartoe aanleiding gegee dat mieliepryse enkele dae ná die skatting skerp gedaal het. Die indruk word geskep dat baie graan en oliesade beskikbaar gaan wees 'n siening wat nie noodwendig korrek is nie.
Die Nasionale Oesskattingskomitee was altyd geneig om die oes effens laag te skat, wat heelwat kritiek ontlok het. Verbruikers het geredeneer dat dit pryse kunsmatig verhoog het iets wat die boere bevoordeel en verbruikers benadeel het. Nou word egter bespiegel of die komitee nie moontlik oorskat het om weg te kom van die siening dat hy altyd neig om te onderskat nie.
vv
Wat wel duidelik is, is dat graanmarkte onstabiel geword het. Daar is groot internasionale onsekerheid oor die komende plantseisoen in Amerika. Die wêreldvoorraad van verskillende graansoorte is klein en die groot internasionale graanhuise verwag dat die weer in die Noordelike Halfrond in die nuwe produksieseisoen onstabiel en hoofsaaklik ongunstig sal wees.
Dié wisselvalligheid bemoeilik die besluite van graanboere (ten opsigte van hul inkomste) en ook intensiewe veeboere (waar voerkoste die grootse uitgawe is) aansienlik, aangesien verkeerde besluite tot groot finansiële verliese kan lei.
Dié onstabiliteit, en veral die groot aantal sake wat die markte beïnvloed, maak dit haas onmoontlik om akkuraat vooruit te skat. Deesdae val die klem reeds op die bestuur van die toenemende wisselvalligheid en die risiko's wat daaraan verbonde is. Markte hou nie van verrassings nie en die aansienlik groter oeskatting op 19 Maart 2004 het talle belanghebbendes onkant betrap. Die wisselvalligheid van mielie-, koring- en sonneblompryse op Safex sal ondernemings vanjaar weer groot termynmarkverliese laat ly.
Tabel 1 en tabel 2 gee 'n opsomming aan die hand van die vraag-en-aanbodposisie (gegrond op Graan SA se berekeninge) en volgens die jongste oesskattings van die Nasionale Oesskattingskomitee.
Die tabelle wys duidelik dat die beskikbare binnelandse graan in 2004 aansienlik minder is as dié van die vorige jaar sowat 2,87 miljoen ton minder. Dit is ten spyte van die opwaartse aanpassing van die jongste oesskatting.
Die tabelle wys ook dat die binnelandse beskikbaarheid van graan en oliesade heelwat sal daal as die uitvoer na buurlande voortduur, soos wat verwag word. Die eindvoorraadvlakke is reeds deurgaans laer en moet met ingevoerde graan aangevul word. In die geval van koring moet die oes vir 2005 nog geplant word.
Dié knap voorraadposisie gaan beteken dat pryse onstabiel sal bly omdat markdeelnemers en die spekulante senuweeagtig gaan bly. Dit beteken ook dat die nuwe plantseisoen se oeste aansienlik beter sal moet wees. Heelwat ingevoerde produkte gaan ook nodig wees om markte te voorsien voordat die nuwe seisoen se oeste beskikbaar raak.
Die aanduidings is dat dié wisselvalligheid in graanpryse vanjaar gaan voortduur.
Die internasionale voorraadposisie van graan en oliesade verswak stadig maar seker en daar is ook heelwat senuagtigheid daaraan verbonde. Die vorige jaar se graanoeste in die Noordelike Halfrond is in heelwat gebiede geknou deur swak weerstoestande. In Suid-Amerika is die oeste geknou deur droogte in sekere streke en te veel reën in ander.
Afgesien van die krimpende graan- en oliesadevoorraad in die wêreld (die verbruik is meer as die produksie), daal die voorraad in Amerika, wat die grootste enkele uitvoerder is. In Amerika is daar 'n sterk groeiende binnelandse verbruik. Een van die redes is die toenemende gebruik van sojabone en mielies vir die vervaardiging van biodiesel en etanol-brandstof.
Een van die newe-effekte van die knapper voorraadposisie is dat daar al hoe meer graan en oliesade tussen lande vervoer moet word. Die vraag na skeepsruimte het só toegeneem dat dit maande vooruit bespreek moet word. Daarby het vervoerkoste meestal verdubbel en in sekere gevalle verdriedubbel.
Met die wêreldvoorraad se vlakke wat laag is, moet Amerika en ander belangrike graanprodusente in die Noordelike Halfrond in die komende jaar beter as die gewone oeste lewer om die dalende voorraadposisie te stabiliseer. Dié ongemaklikheid word weerspieël in die sterk opwaartse beweging van die mielie- en oliesaadpryse die afgelope tyd.
Amerika is aan die vooraand van die nuwe produksieseisoen en ontleders raam dat beter as die gewone oeste nodig is om die markte te stabiliseer. Enige probleme met weerstoestande binne die volgende maande sal die graan- en oliesaadpryse nog verder rondjaag. Dieselfde geld produksietoestande in China en Europa.
Die rand-wisselkoers speel 'n belangrike rol in die deurgee van dollarpryse (via invoer- en uitvoerpryse) na die Suid-Afrikaanse mark. Dié situasie kan opgesom word deur te sê dat wisselkoersbewegings taamlik onvoorspelbaar is net soos wat wêreldgebeure die vloei van geld en vertroue beïnvloed. Die jaar wat voorlê gaan eerder groter onstabiliteit as enigiets anders bring.
Ten slotte
Die internasionale graanmarkte is in 'n ongemaklike situasie wat voorraad en aanbod betref. Pryse reageer redelik op veranderinge. In Suid-Afrika is die posisie nie veel anders nie en die groot veranderings in oesskattings, die weer en die internasionale markte werk deur in die vorm van wisselvallige pryse op Safex. Dit dui op die onderliggende senuagtigheid in die markte. Dit gaan in die komende maande belangrik wees om te onderskei tussen die "markgeraas" en die onderliggende, werklike verloop van sake waneer besluite geneem word oor graanverkope en die koop van voer.
9 April 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24