Die produksieprysindeks (PPI) vir Junie het verras deur twee persent hoër te styg as wat verwag is, en ekonome skryf dit toe aan stygende kragpryse.
Volgens Statistieke SA het die PPI in Junie op 9,4% te staan gekom. Dit is 3,6% hoër as die 6,8% in Mei vanjaar. Ekonome het verwag dat die PPI rondom 7,4% sou wees.
Mnr. George Giynos, ekonoom van Econometrix Treasury Management (ETM), sê volgens vroeë analise van die syfers kan dié drastiese styging aan die styging van elektrisiteitstariewe in April toegeskryf word. “Dit verskil ook van die syfers wat vir dieselfde tydperk verlede jaar aangeteken is, aangesien kragtariefstygings nie ‘n uitwerking op Junie 2009 se syfer gehad het nie.”
Kommoditeitspryse speel ‘n rol
Intussen meen mnr. Tony Twine, ekonoom van die Econometrix-groep, dat beter kommoditeitspryse ‘n rol in dié styging gespeel het. “Kommoditeitspryse was in Junie verseker “gelukkiger” as wat die geval in vroeëre maande was. Veral die pryse van minerale en metale.”
Twine meen verder dat dié styging grootliks aan tegniese punte toegeskryf kan word. “Die PPI het in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar negatiewe persentasies bereik, en al wat dit nou moet doen is om effens lynreg positief te beweeg om só ‘n styging te bewerkstellig.”
Wat van landboukommoditeite?
Volgens mnr. Dawie Marais, ekonoom vir Agri SA, kon landboukommoditeitspryse nie ‘n groot uitwerking op die styging gehad het nie. “Melkpryse was stabiel en het selfs gedaal. Die mielieprys was ook konstant rondom $1 126/ton. Landboukommoditeite was oor die algemeen stabiel gewees, en geen groot stygings het voorgekom nie.”
Marais merk wel op dat die styging in brandstofpryse wat in Junie ingestel is, tot die PPI-koers kon bydra.
Giynos verwag dat die PPI volgende maand weer na vlakke tussen 6% en 8% persent kan daal namate die uitwerking van die duurder kragpryse stabiliseer.
30 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)