Die verkoop van landbouprodukte en die aankoop van boerderybenodigdhede vind plaas in ‘n wye wêreld waar dit deur baie faktore beïnvloed word en die produsent letterlik verswelg word deur inligting.
Uiteraard bemoeilik dit sy besluitneming. Tog is daar sekere ekonomiese aanwysers wat vir hom tot hulp kan wees in sy algemene besluitnemingsprosesse. Hierdie aanwysers is egter ook van groot belang vir die owerhede in hul beleidsbesluitneming.
Een van die belangrikste aanwysers is die ruilvoet in die landbou. Dit dui die mate aan waarin prysstygings van landbouprodukte tred hou met prysstygings van boerderybenodigdhede. Ons kyk kortliks eers na die styging in die pryse van landbouprodukte en dan na die styging in pryse van boerderybenodigdhede. Daarna kyk ons na die verhouding tussen die twee.
Produsentepryse van landbouprodukte
Gedurende die 2008-kalenderjaar het die geweegde gemiddelde prys van landbouprodukte met 14% gestyg teenoor die 24% in 2007. Die styging in produsentepryse word ontleed in drie groepe, nl. akkerbou, tuinbou en veeteelt.
Akkerbouprodukte bestaan grootliks uit somergrane (mielies, graansorghum), wintergrane (koring, hawer, gars), oliesade (sonneblom, grondbone), suikerriet, hooi, ens. Die pryse van akkerbouprodukte het gemiddeld met 22% gestyg in 2008 teenoor ‘n styging van 44% die vorige jaar. Die grootste bydraes tot die styging in 2008 was wintergrane (48%), tabak (33%), katoen en hooi (32% elk) en oliesade (30%)
Tuinbouprodukte bestaan hoofsaaklik uit vrugte en groente. Die gemiddelde prysstyging gedurende 2008 was net minder as 6%. Vrugtepryse het gedurende die jaar met gemiddeld 15% gestyg terwyl die pryse van groente met net minder as 3% afgeneem het.
Veeteeltprodukte bestaan hoofsaaklik uit suiwel-, pluimvee en slagveeprodukte. As groep het veeteeltprodukte met gemiddeld 15% gestyg. Die grootste stygings is ondervind by suiwelprodukte (15%), pluimvee (10%) en slagvee (9%).
Pryse van boerderybenodigdhede
Die geweegde gemiddelde prys van boerderybenodigdhede het gedurende 2008 met 33% toegeneem teenoor die 12% van 2007. Boerderybenodigdhede word in drie kategorië verdeel vir die berekening van die prysstygings nl. masjienerie en werktuie, intermediêre goedere en dienste en laastens materiale vir vaste verbeteringe.
Masjinerie en toerusting bestaan hoofsaaklik uit trekkers, trokke, werktuie en besproeiingstoerusting. Die gemiddeld prysstyging die afgelope jaar was 14%.
Die pryse van intermediêre goedere en dienste het met 37% gestyg. Die groep bestaan uit produkte wat opgebruik word in die produksieproses en sluit in kunsmis, brandstof, veevoer, verpakkingsmateriaal ens. Die grootste stygings hier het voorgekom by brandstof en kunsmis wat onderskeidelik met 78% en 77% gestyg het.
Materiaal vir vaste verbetering het met 11% toegeneem.
Die ruilvoet
Uit al die statistieke word indekse saamgestel vir die geweegde gemiddelde prysstygings vir beide landbouprodukte en boerderybenodigdhede en die verhouding word tussen dié twee syfers bereken. As die verhouding groter is as een, dan beteken dit dat die koers waarteen die pryse van landbouprodukte toegeneem het, groter is as die koers waarteen die pryse van boerderybenodigdhede gestyg het en kan ons sê die ekonomie is gunstig vir die produsent. As die syfer kleiner is as een, dan het die pryse van boerderybenodigdhede skerper gestyg as die van landbouprodukte en is die ekonomie ongunstig vir die produsent.
Die afgelope jaar het die ruilvoet vir alle landbouprodukte met 14% afgeneem van 1.1 in 2007 tot 0.95 in 2008. Dit beteken die ruilvoet is nou van gunstig na ongunstig vir die produsent verander.
Vir akkerbougewasse het die ruilvoet met 8% gedaal van 1.2 tot 1.1. Alhoewel die verhouding verswak het, bly dit nog gunstig vir die produsent. Die grootste daling het egter by tuinbouprodukte voorgekom. Dit het afgeneem van 0.98 na 0.78 en beteken ‘n drastiese daling van 20%. Die ruilvoet is dus uiters ongunstig vir die tuinbouprodusent.
Veeteeltprodukte toon ook ‘n baie sterk afname van 1.08 na 0.9 en die ruilvoet verander van gunstig na ongunstig. Dit is ‘n afname van 17%.
Figuur 1 hieronder toon die posisie die afgelope 20 jaar. Die blou stafies dui die ruilvoet vir elke jaar aan, die groen horisontale lyn is die grens tussen die gunstige posisie aan die bokant daarvan en die ongunstige daaronder. Die rooi stippellyn toon die tendens/neiging die afgelope twintig jaar. Dit blyk uit die grafiek dat tussen die jare 1989 en 1999 die ekonomie konstant gunstig vir die landbouer was. Vanaf 2000 was dit vir 5 uit 9 jaar ongunstig vir die landbouer (2001, 2004, 2005, 2006 en 2008) met die jare 2005 en 2008 as uiters ongunstig vir die landbouer.
Implikasies
Die verswakking in die ruilvoet, veral die afgelope dekade, hou ernstige probleme vir die landbou in want dit toon dat die produsent onder ernstige ekonomiese druk verkeer met die styging in insetkoste.
Dit gaan vir gevestigde boere al moeiliker raak om winsgewend te boer. Hulle sal moet aanpassings maak in hul boerderypraktyke, aankoop- en bemarkingstrategië om te oorleef. Boere kan die bedryf verlaat en voedselsekerheid kan verder onder druk kom.
Nuwe boere sal dit al hoe moeiliker vind om sukses te boer. Die grootste probleem lê by nuwe boere wat met vrugte en groente boer en waar die ruilvoet dramaties verswak het. Al bemeester hulle die basiese tegnieke van boerdery hoe goed, sal hulle ook hulp moet kry met die bemarking van hul landbouprodukte en die aankoop van boerderybenodigdhede.
Daar is nie kitsoplossings vir die probleem nie. Met die ekonomiese resessie waarin die land verkeer, die dreigende droogte as gevolg van die El Niño-verskynsel, saamgelees met die verswakkende ruilvoet, is dit myns insiens noodsaaklik dat daar van owerheidsweë en by name die Ministerie van Landbou, dringend aandag aan dié sake gegee moet word om ‘n baie ernstige krisis in die landbou te voorkom.
Statistiek verskaf deur Direktoraat Landbou Statistiek.
Kobus Smit was van 1993 tot 2000 die voorsitter van die Nasionale Oesskattingskomitee. Hy het sedert sy aftrede steeds 'n lewende belangstelling in landbousake in die algemeen en in besonder in landbou-ekonomie en landboustatistiek Sy e-pos-adres is: diesmitte@gmail.com.
8 September 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)