|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Talle graanboere wat hul
prysrisiko's op Safex vasgemaak het, kon goeie winste in 'n dalende mark behaal.
Die werksaamhede van dié markinstrument word hier bekyk - juis omdat ander
graanboere bra skepties daaroor is.
Onlangs is berig oor die verliese van spekulante en agribesighede op die landbouprodukte-afdeling van die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (alombekend as Safex, of die JSE APD). Boonop is daar kritiek uit boeregeledere dat dié mark en dus graanpryse gemanipuleer word. Dit plaas vraagtekens oor hierdie belangrike instrument vir die bestuur van prysrisiko's.
Dit is egter belangrik om te onderskei tussen drie kategorieë van deelname, naamlik prysverskansing (winsbestuur), deelname uit 'n beleggingsoogpunt en spekulasie.
In 'n vryemarkomgewing, soos waaraan die plaaslike graanmark blootgestel is, is dit belangrik om 'n instrument te hê wat markfaktore op 'n deursigte wyse in pryse verdiskonteer. Boonop is dié prysrisiko baie groter as in 'n beheerde markomgewing. Dié risiko geld ewe veel vir produsente én kopers.
Die ironie is dat diegene wat die instrument wel reg gebruik, en as deel van hul prys- en uiteindelik winsbestuur daarin slaag om heelwat beter winste te maak, hul risiko's ook met welslae verminder.
'n Mens kan skaars glo dat sommige deelnemers in die graanmark heel uitgesproke oor Safex is en sê dat hulle nie daarin belangstel nie. Dit is gewoonlik ook hulle wat nie die beskikbare instrument gebruik nie. Finansiers raak al hoe meer ongemaklik oor dié benadering, want dit verhoog die sakerisiko onnodig. Sommige mense meen selfs dat alle deelnemers aan die graanmark verplig moet word om kursusse te loop oor die gebruik van hierdie instrument - tot hul eie voordeel.
Uit boeregeledere is daar kritiek op spekulante en beleggers in hierdie mark wat nie produsente of graankopers is nie.
Die punt is egter dat dié betrokkenes groter likiditeit aan die mark bied. Boonop word hul deelname internasionaal as belangrik geag.
Ongeag hierdie menings is die ingeligte siening dat dit 'n kwade dag sal wees as dié instrument nie meer bestaan nie. Sekere agribesighede en vooraanstaande boere verklaar onomwonde dat hulle nie in graantransaksies sal belangstel as hierdie instrument nie meer gebruik word nie.
Ongeag in watter hoedanigheid 'n mens aan die landboutermynmark deelneem, moet onthou word dat die pryse altyd die fundamentele markfaktore sal weerspieël omdat die onderliggende fisieke kommoditeit die spesifieke graan is. Sekere rolspelers het al groot bedrae geld verloor omdat van hulle gedink het dat hulle slimmer as die mark is. Die punt is dat 'n mens nie aan die mark kan voorskryf nie.
Juis daarom moet 'n boer seker maak dat hy 'n makelaar kies wat 'n deeglike kennis van die graanmark en die risiko's van termynmarkte het en wat kliënte se geld dienooreenkomstig op 'n verantwoordelike manier bestuur. Dit is veral hier waar die Safex-beamptes die uiters belangrike taak moet vervul deur toe te sien dat aan 'n gesonde risikobenadering voldoen word. Dit is noodsaaklik in die hantering van kliënte se geld.
Die belangrikheid van enige saak kan aan sy groei gemeet word. Grafiek 1 skets die verloop van die aantal mieliekontrakte wat op die termynbeurs, sedert sy ontstaan, verhandel is. Die groei in opsiekontrakte toon 'n soortgelyke neiging.
Aanvanklik was daar ook termynkontrakte vir aartappels, beesvleis en Wes-Kaapse koring. Tog het die belangstelling daarin en gebruik daarvan heeltemal gekwyn. Dit dui daarop dat daar nie 'n behoefte daarvoor was nie. Die groei en gebruik van sojaboonkontrakte verloop ook stadig. Onthou dat die landboutermynmark, soos die Sekuriteitebeurs, 'n private instelling is wat slegs 'n diens aan die mark lewer en as fasiliteerder vir die verhandeling van toepaslike kontrakte dien.
In dié verband is dit nogal insiggewend om die verdeling van die aktiewe lede van die landbou-afdeling van nader te beskou. Van die lede is sowat 22 finansiële instellings en sowat 27 is graanhandelaars of agribesighede. Afgesien van die makelaars, werk almal deur 'n verrekeningshuis (die groot banke) wat vir die risiko's instaan as die kliënte nie kan betaal nie.
Die kern van die verskansingtegnieke is dat die verskillende termynkontrakte op 'n aanvanklike deposito werk (oftewel op 'n aanvangsmarge gebaseer is). Dit kan verhoog namate die mark verander.
In die geval van 'n kontrak van 100 ton mielies wissel dié bedrag gewoonlik van R10 000 tot R13 000 en vir 50 ton sonneblom of koring is dit sowat R5 000 per kontrak.
'n Koper van 'n mielie-termynkontrak betaal dus slegs R100/ton, maar hy koop die reg van 100 ton mielies (waarvan die waarde R1 500/t kan wees). Die ratverhouding is dus besonder groot (wat ook die risiko verhoog as dit nie reg gehanteer en nie deur die betrokke kommoditeit ondersteun word nie). Namate die pryse daal, moet die koper bykomende marges (die variasiemarge) inbetaal. Dit kan veelvoude van die aanvangsmarge wees - wat dus 'n aardige bedraggie kan beloop.
Dít is presies waar 'n groot deel van die R1 miljard-probleem vir 'n kliënt van 'n makelaar ontstaan het. Die makelaar was bekend daarvoor dat hy 'n agressiewe koper in die mark is. Sy siening was dat graanpryse nog heelwat sou styg. Die mark is egter verkeerd geoordeel. Graanpryse het skerp getuimel weens die groter oeste, die kleiner uitvoer na die Suider-Afrikaanse substreek en die rand-wisselkoers wat baie versterk het. Die invoer- en uitvoerprys van graan het dus drasties gedaal.
Dié verloop word in grafiek 2 geskets. Uiteindelik het die markfaktore geseëvier en weer bewys dat die mark nie in 'n hoek gedryf kan word nie.
Soortgelyke voorbeelde bestaan ook in ander termynmarkinstrumente oor die wêreld. Die probleem in hierdie geval was dat dit spekulasie was. Indien die kliënt 'n graankoper was wat die graanprys teen stygings laat verskans het, sou hy tog later sy geld teruggekry het wanneer hy die goedkoop graan in die mark gaan koop het.
Die verloop van graanpryse in grafiek 2 wys hoe skerp pryse gedaal het. 'n Produsent se benadering behoort te wees dat hy sy wins- te op sy oeste wil beskerm deur sy produk te verkoop teen 'n prys wat ál sy koste dek en genoeg wins insluit om te kan aanhou boer.
Talle koringboere het in November en Desember verlede jaar hul koring teen die hoë pryse verkoop en 'n baie goeie wins behaal. Diegene wat nie fisieke kopers kon kry nie, het die termynmarkinstrumente gebruik en hul winste vasgemaak deur termynkontrakte te verkoop of deur 'n "put" of vloerprysopsie te koop. Op hul beurt het mielie- en sonneblomboere dié benadering reeds in Desember begin volg om 'n minimum prys te verseker wat 'n goeie wins insluit.
Die sogenaamde "put"-opsies is veral gewild. Dit werk soos 'n vloerprys waar 'n produsent 'n premie betaal om in dié geval 'n minimum prys van R1 300 te verseker (soos in grafiek 3 getoon word). Sommige boere sê die premies hiervoor is duur en is geldmors, maar dan is hael-, lewens- en ongeluksversekering ook geldmors as 'n mens nie elke jaar eis nie. Dit is onverstaanbaar dat 'n boer bereid is om 'n hele jaar te swoeg en dan nie bereid is om te begroot om 'n minimum prys vir sy oes te verseker nie.
Boere wat die afgelope jaar dié benadering gevolg het, het vir hulself groot winste verseker. 'n Soortgelyke benadering kan deur 'n veeboer of -koper gevolg word wat byvoorbeeld verlede jaar 'n "call"-opsie gekoop het om sy maksimum prys op R1 700/t vas te gemaak. Die premie was om te verseker dat hy nie duurder betaal nie. Die feit dat pryse gedaal het, beteken dat hy nie die versekering voluit gebruik het nie, want hy koop tans in die mark heelwat goedkoper. Die koper het ook sy wins beskerm.
Ten slotte
Safex het die afgelope aantal jare aansienlik gegroei. 'n Mens moet besef dat dié mark se werk wel deursigtig is en dat dit 'n waardevolle rol in die graan- én in die veebedryf vervul. Dit maak dit moontlik vir diegene wat met graan te doen het om hul prysrisiko sinvol te bestuur.
Die Safex-mark word deur baie streng reëls en dissiplinêre optrede gereguleer, want dit is deel van die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSB). Alle kliënte word dus beskerm teen diefstal, bedrog en growwe nalatigheid omdat die makelaar 'n geregistreerde lid van die JSB se landbouprodukte-afdeling is.
Natuurlik is daar altyd ruimte vir die verbetering van die reëls. Kliënte moet ook doodseker maak dat die makelaars wel geregistreer is. Dit is egter elkeen se eie verantwoordelikheid om die instrumentwerking te verstaan en dit met die nodige verantwoordelikheid te gebruik.
Dit is veral baie belangrik dat deelnemers die dienste gebruik van Safex-handelaars waarmee die kliënt gemaklik voel. Hierdie verantwoordelikheid lê steeds by die kliënt.
Spesifieke reëls word gevolg, soos dat die geld in die kliënt se naam moet wees, dat hy 'n registrasienommer van Safex moet ontvang en ook dat hy elke maand 'n staat van sy makelaar moet ontvang. Indien dit nie gebeur nie, word die reëls oortee en moet dissiplinêr teen die betrokke makelaar opgetree word.
Kliënte het ook die reg om Safex regstreeks te nader om geld en transaksies te laat kontroleer. Dit is egter absoluut noodsaaklik dat elke kliënt 'n detailooreenkoms op die voorgeskrewe Safex-vorms moet aangaan om hom teen wangedrag te beskerm. Sodoende kry die kliënt self ook toegang tot sy inligting. Die makelaar moet natuurlik by Safex geregistreer wees.
Navrae: Safex, tel. 011 520 7000.
28 Maart 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24