“Ek dink dit is ‘n jammerlike ervaring wat ‘n slegte naam aan ‘n gevestigde organisasie gegee het.” Só het mnr. Marius Brandt, woordvoerder vir Sasol Nitro, aan graanprodsente tydens Graan SA se jaarkongres op Bothaville gesê, na aanleiding van die bevinding van onmededingende praktyke in die kunsmisbedryf.
Die Mededingingskommissie het die maatskappy verlede jaar met R251 miljoen beboet nadat bevind is dat hy skuldig was aan onmededingende praktyke in die kunsmisbedryf.
Eise verwelkom
Volgens Brandt sal Sasol Nitro oorweging skenk aan eise van boere wat moontlik deur dié wanpraktyke benadeel is. Hy sê bewyse sal egter nodig wees. Daar is egter nog nie veel eise nie, sê Brandt.
Graan SA het produsente aangemoedig om individuele eise in te stel. ‘n Produsent het egter gemeen dat dit nie billik is van ‘n belangegroep om van ‘n boer te verwag om individuele eise in te stel nie. Dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, het hierop reageer deur te sê enige produsent wat ‘n saak wil maak kan sy organisasie kontak vir hulp en moet ook die nodige bewyse verskaf.
Ferreira het boere teen omstrede uitsprake in dié verband gewaarsku. “Ons moet pasop vir populistiese uitsprake en Graan SA sal nie populistiese uitsprake in dié verband maak nie. Ons kan nie as ons namens julle die saak hanteer dit aan die groot klok hang nie”, verduidelik Ferreira.
Wat nou met boete?
Verskeie produsente wou weet wat met die boete gaan gebeur nadat dit aan die staat uitbetaal is. “Die mense wat die skade gelei het is nie die owerheid nie, maar nou is die boete in die staatskas,” het een kongresganger opgemerk.
Laubscher sê die boete is in die fiskus opgeneem en geen individu kan daarop aanspraak maak nie. Hy het wel gesê dat hulle die saak met dr. Pieter Mulder, die Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, opgeneem het, en versoek het dat die boetegeld vir onder meer landbounavorsing aangewend moet word.
Sasol steeds in kunsmisbedryf
Volgens Brandt wil Sasol Nitro steeds ‘n rol in die kunsmisbedryf speel en het dienooreenkomstig beleggings in die bedryf gemaak. “Ons erken egter dat daar ‘n stuk geskiedenis is wat hiermee saamkom, en ons verstaan agterdog”, sê Brandt.
5 Maart 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)