Senwes en Treacle: Die argumente

 
Gebreekte mielie. Foto: LBW
Gebreekte mielie. Foto: LBW

Is die Treacle-hofsaak ‘n poging om die land se grootste landboumaatskappy finaal onder boere se beheer uit te kry; of is beweerde kommer oor die korporatiewe bestuur van Senwes geregverdig?

Dít is die twee kante van die saak waaroor nou in die Hooggeregshof in Pretoria beslis sal moet word.

Die Treacle-hofsaak is die jongste hoofstuk in die dikwels onstuimige geskiedenis van Senwes, die land se grootste landboumaatskappy wat in 1997 uit die Sentraalwes- landboukoöperasie omgeskakel is.

Die beleggingsmaatskappy Senwesbel is saam met Senwes gestig in ‘n poging om boere se beheer oor die nuwe ondernemingsvorm te verseker. Eertydse koöperasie-lede het beide Senwes- en Senwesbel-aandele in ruil vir hul ledefondse gekry, maar op voorwaarde dat Senwesbel-aandele net aan bona fide-boere verkoop mag word.

Sedertdien het die nuwe maatskappy op die rand van bankrotskap gaan draai. Sy aandele het tot so goedkoop as 1c verhandel, dikwels met traumatiese finansiële gevolge vir boere wat vroeër op hul ledefondse staatgemaak het as sekuriteit vir produksielenings en as aftreevoorsiening.

Duisende Senwes- en Senwesbel-aandele, wat vandag teen onderskeidelik R8,30 en R4,80 oor die toonbank verhandel, is op bankrotveilings vir ‘n paar sent elk verkoop.

Aanslag deur Landboulex
Teen 2002 moes die Senwes-direksie ‘n aanslag deur die aktivistegroep Landboulex afweer, wat met ‘n paleisrevolusie voormalige koöperasielede se belange in die Senwes-groep wou “red”.

Die afgelope tien jaar het die maatskappy onder die leiding van sy voorsitter, mnre. Japie Grobler, leierboer van Bothaville, en Johan Dique, wat onlangs as besturende direkteur bedank het, vanaf rekordverliese tot rekordwinste gegroei. Dié ommekeer het egter ook dikwels met pynlike herstrukturering gepaard gegaan.

Teen 2008 is beplande notering op die JSE op die ys geplaas nadat die wêreldekonomie ongunstig gedraai het.

Vanjaar het die direksie uiteindelik, ná jare waarin notering as ‘n moontlikheid van finale “waarde-ontsluiting” aan aandeelhouers voorgehou is, besluit om so ‘n stap aan te beveel. 

‘n Nuwe struikelblok – die Treacle-geding - het hom egter intussen voorgedoen.

Beoogde notering
Uit die hofstukke blyk dit dat beide partye dit eens is dat beoogde notering vroeg in 2011 op die JSE onbepaald deur die hofsaak op die ys gesit kan word.

As Treacle se hofaansoek sou slaag, sal dit Senwesbel, die boere-beleggingsmaatskappy wat Senwes se beherende aandeelhouer is, teen die heersende aandeelprys glo ‘n beraamde R56 miljoen kos. Hierby kan eise volg vir ‘n verdere sowat R29 miljoen in dividende wat Senwesbel vir bestrede Senwes-aandele ontvang het. Klik hier om Treacle se hofstukke te lees.

Die hofgeding word deur Senwes en Senwesbel as ‘n poging beskou om boere van hul beheer te ontneem oor die eertydse landboukoöperasie, wat meer as ‘n kwart van die land se kommersiële silo’s besit, en jaarliks sowat 30% van die nasionale graan- en oliesade-oeste berg en hanteer.

Treacle is ‘n private ekwiteitsmaatskappy van Bryanston, Johannesburg wat in 2006 as deel van ‘n swart bemagtigingtransaksie aandele in Senwes bekom het, en nou sowat 15% van die landboumaatskappy besit. Treacle was destyds deel van die Royal Bafokeng-konsortium, wat in ‘n transaksie wat toe deur talle aangeprys is, swart bemagtiging-aandele in Senwes bekom het.

Senwesbel, wie se aandele net aan bona fide-boere verhandel mag word, besit 39% van Senwes se aandele, wat tot net onder 35% kan verminder as Treacle in die hof sou slaag.

Beweerde oortreding
Treacle beweer in sy aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria dat Senwesbel 8,3 miljoen van sy Senwes-aandele onregmatig bekom het omdat dit met ‘n beweerde Senwes-lening van aandeelhouers teruggekoop is, wat ‘n beweerde oortreding van artikel 38 van die Maatskappywet is.

Hy vra dat die hof dié aandele óf nietig verklaar, óf opdrag gee dat dit aan die destydse verkopers (sowat 3 500 aandeelhouers) teruggegee word.

Mnr. Rudolf Pretorius, ‘n Treacle-direkteur en voormalige Senwes-direkteur wat intussen deur die meerderheid van sy mede-direkteure uit die landboumaatskappy se direksie verwyder is, beskuldig Senwes en Senwesbel in hofstukke nie net van ‘n bewustelike oortreding van die Maatskappywet nie, maar ook van gebrekkige korporatiewe bestuur weens Senwesbel se beheer oor die maatskappy.

Pretorius verwys na “’n konflik van belange” wat uit die Senwesbel-beheer spruit, en meen Senwes se direkteure sukkel om tussen die belange van Senwes en Senwesbel te onderskei.

Veral vier Senwesbel-direkteure, Grobler, en mnre. Danie Minnaar, WH van Zyl en Jannie Els, word uitgesonder omdat hulle saam ‘n kwart van die aandele in Senwesbel besit.

Bymotief is glo batestropery
Senwes en Senwesbel ontken Pretorius se aantygings, en voer in hul argumente aan dat Treacle se bymotief batestropery is.

Me. Elmarie Joynt, maatskappy-sekretaris, beskuldig Treacle in die hofstukke van ‘n persoonlike smeerveldtog teen Senwesbel-direkteure, veral Grobler (wat ook ondervoorsitter van Senwesbel is).
Die motief hieragter is ontbondeling van Senwesbel met sy langtermyn-strategie van waarde-ontsluiting, teenoor Treacle se doelwit om ‘n korttermyn-opbrengs op sy belegging (in Senwes) te kry, lui Joynt se verklaring. Klik hier om Senwes se hofstukke te lees.

Dít wil Treacle bereik deur “op ‘n slinkse wyse Senwesbel sy beheer oor Senwes te ontneem deur Senwesbel se ontbondeling af te dwing, en sekere direkteure van (Senwes se) raad te verwyder wat nog altyd in (Senwes) en al sy aandeelhouers se belange opgetree het…”

Joynt beweer dat Treacle op direksievlak die uitbetaling van dividende aan Senwes-aandeelhouers wil dikteer, wat ten koste van die behoud van Senwes se kapitale behoefte vir voortgesette groei sou wees.

Senwes ontken ook dat die bestrede aandele onwettig bekom is. Joynt voer aan dat die aandele uit ‘n staande intermaatskappy-leningrekening tussen die twee maatskappye (Senwes en Senwesbel) betaal is. Die transaksie is destyds op grond van verkeerde regsadvies so deurgevoer, maar later reggestel toe die fout aan die lig gekom het.

Buitengewone dividend
Die geld wat vir die aandele betaal is, is reeds op 15 April 2005 met ‘n buitengewone dividend afgelos wat Senwesbel te beurt geval het, lui Joynt se verklaring.

Dié intermaatskappy-leningrekening was ‘n standaard-praktyk omdat Senwesbel in daardie stadium nie ‘n eie bankrekening het nie.

Joynt wys voorts daarop dat die bestrede aandele ingevolge ‘n Senwesbel-direksiebesluit van sekere kategorieë Senwes-aandeelhouers gekoop is, onder meer as deel van ‘n strategie om aandele bymekaar te maak waarmee die SEB-transaksie deurgevoer kon word. Die verkopers was aandeelhouers van 10 000 of minder Senwes-aandele, wat 70 jaar of ouer was, en insolvente en bestorwe boedels.

18 Augustus 2010

3
 
 

Kommentaar

Onbekende besoeker 

Ons moenie vergeet dat dit was Senwesbel en Senwes se strategie om Senwesbel te ontbondel voor notering. Dit lyk vir my uit die hoofstukke asof die Senwesbel direkteure besluit het om beheer van Senwesbel te kry vir huself tot die benadeling van klein Senwesbel aandeelhouers en hulle het nie hulle SEB vennote vertel van hulle nuwe strategie. Dit is duidelik in die hoofstukke dat hierdie direkteure nou besit 24.7% van Senwesbel aandele. Nou die vraag is wie wil die beheermeganisme ontneem? is dit Treacle or die Senwesbel direkteure?. Die Senwesbel direkteure se strategie was om die Senwesbel aandeelhouers te verminder vanaf 3500 na tussen 50 en 100. Elke vergadering hulle praat van groot kommersiele boere, nie die klein boere nie.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.