|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Sowat die helfte van die graanboere in Suid-Afrika maak nie van produksiekrediet gebruik nie, sê mnr. Jan van Zyl, landbouhoof van FNB se kommersiële bankdiens.
Hy sê dié gelukkige posisie waarin hierdie boere verkeer, kan toegeskryf word aan spaargeld wat hulle oor jare vermeerder het. "Sonder 'n rente-faktor in produksiekoste, het hierdie boere 'n mededingende voordeel in die mark."
Hy het in 'n pleidooi op boere om meer te spaar, gesê dit kan die finansiële oorlewing van 'n boerdery beteken. "Landbourisiko's het hulle oorsprong in natuurlike, maatskaplike en ekonomiese faktore. In tye van geldelike krisisse, soos wanneer kontantvloei opdroog, kan spaargeld 'n sukkelende boer deur die drif help."
Van Zyl sê daar is drie benaderings tot risiko-bestuur: Dit kan vermy word, die gevolge kan verlig word of die risiko's kan verplaas word. Om risiko's te vermy beteken in kort om glad nie te boer nie. Om die negatiewe gevolge te verlig, beteken dit moet geïdentifiseer en bestuur word soos om 'n gemengde boerdery te hê. Die verplasing van risiko geskied deur dinge soos versekering en verskansing.
"Spaargeld is egter noodsaaklik vir beleggings in die boerdery, hetsy om uit te brei, te moderniseer of om die onderneming behoorlik te onderhou. Sonder kontantreserwes sal 'n boerdery oor die langer termyn kwyn."
18 November 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24