|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die netto inkomste in die landbou het in die jaar tot Maart 2005 met bykans R3,5 miljard (21 %) gedaal. Dit is desnieteenstaande die feit dat die omset redelik konstant gebly het. Dit wys dat die landbou ernstig gekniehalter word deur hoë produksiekoste.
Die koste van brandstof en arbeid plaas al hoe meer druk op boere. Die beraamde koste van landbouproduksie wys dat die koste in die jaar tot Maart vanjaar met 5,6 % (sowat R3 miljard) gestyg het.
Daar word die laaste tyd baie gepraat oor die mededingendheid van die landbou en die sake wat dit beïnvloed. Die Nasionale Bemarkingsraad se verslag oor die mededingendheid van die landbou word op heelwat byeenkomste van boere bespreek.
In werksessies met boere oor die aanpassings wat in die landbou plaasvind, kom daar gewoonlik 'n paar oorsake van talle probleme na vore. Dikwels word die rand se wisselkoers genoem. Die sterk en, volgens sommige mense, oorgewaardeerde rand beïnvloed die meeste boere se inkomste regstreeks. Hierop volg arbeidskoste wat oor die laaste drie jaar met meer as 30 % gestyg het (myns insiens weens die voorskrifte oor minimum lone) en dan die immer stygende brandstofpryse.
Boere meen dat landbou-ondernemings nie aangepas het by die druk waaronder boerderymarges verkeer nie. Landbou-ondernemings se marges het nie gedaal nie en daar is steeds bestuurslui wat duur motors gebruik of groot bonusse kry. Daar is 'n groeiende gevoel dat agribesighede hul rieme na die vel moet begin sny.
Die netto inkomste van die landbou het vir die jaar tot Maart 2005 met sowat 21 % gedaal vanaf R16,5 miljard die vorige jaar tot R13,02 miljard. Dit is volgens die jongste statistieke wat deur die Departement van Landbou gepubliseer is. Volgens die ontleding het die bruto inkomste van die landbou redelik stabiel gebly en slegs met 0,6 % afgeneem, terwyl die koste van produksie met bykans 6 % toegeneem het. Dit is die rede vir die skerp daling in die netto inkomste.
Die daling is op die oog af nie so erg nie. Dit lyk egter anders as die groter prentjie bekyk word. Dit is dat die landbou se netto inkomste vir die jaar 2002 sowat R19,97 miljard beloop het. Dit beteken dat die landbou se netto inkomste, waarmee skuld betaal en nuwe beleggings gedoen moet word, binne twee jaar met R7 000 miljoen gedaal het. Dit is 'n afname van sowat 35 %.
Dit verg nie veel insig om te besef dat dit 'n drastiese aanpassing verg nie.
Die dalende winsmarge van die landbou het 'n groot invloed op die plattelandse ekonomie. Navorsing deur die Universiteit van Pretoria het bevestig dat die landbou 'n belangrike sektor is en dat dit werk verskaf aan nagenoeg 1 miljoen mense en sowat 12,7 % tot die ekonomie bydra. Uiteindelik sal die ongunstige verhoudings deursyfer na die totale ekonomie se groei.
Die navorsing dui ook daarop dat die beleidsaanpassings ten opsigte van die landbou dinge soos deregulering, grondhervorming en handelsooreenkomste hoofsaaklik die verbruikers bevoordeel het, terwyl dit die mededingendheid van die plaaslike landbou erg benadeel het.
Die lae vertroue van beleggers in die landbou word ook as 'n ernstige knelpunt gesien. Die voorkoms van misdaad dra ongetwyfeld by tot hierdie siening.
Die grafiek wys dat die omset redelik konstant gebly het. Sedert 2002 het dit vanaf sowat R70 miljard tot die huidige sowat R68 miljard gedaal.
Die statistieke dui daarop dat een van die groot knelpunte die koste van produksiemiddele is. Die landbou se uitgawes het in die jaar met R3 miljard gestyg.
Grafiek 2 wys die verloop van produsentepryse teenoor die koste van produksiemiddele. Dit wys duidelik hoe landbouprodukpryse in die afgelope twee jaar teen negatiewe koerse aangepas het, terwyl die pryse van produksiemiddele fluks bly styg het.
Veral die akker- en tuinbou leef swaar omdat pryse aansienlik gedaal het. Met die veeboere gaan dit redelik goed. In geval van akker- en tuinbouprodukte word die pryse meestal regstreeks deur die internasionale markte bepaal. Die wisselkoers speel ook 'n groot rol.
Die probleem van produksiekoste: Ons weet almal dat die rand in die jaar van die statistieke (Maart 2004 tot Maart 2005) heelwat versterk het. Die argument was meestal dat die pryse van produksiemiddele deur die wisselkoers bepaal word omdat die meeste (of komponente daarvan) ingevoer word. Hierdie argument oortuig my deesdae nie meer nie.
Die tabel toon dat die pryse van produksiemiddele maar traag is om te daal. Dit is die eerste keer sedert die wisselkoers begin versterk het dat van die pryse effens daal.
Die groot sondaar is natuurlik brandstof. Ongelukkig het ek nie goeie nuus hieroor nie die prys kan selfs nog styg.
Intussen is daar heelwat kritiek uit die vakbonde en verbruikersorganisasies dat hulle nie tevrede is met die manier waarop die brandstofprys vasgestel word nie. Hulle voer aan dat die brandstofmaatskappye bevoordeel word tot nadeel van die verbruikers.
Hoewel die landbou 'n rabat kry (danksy Agri SA se harde werk), is stygende brandstofkoste 'n probleem.
Myns insiens sal boere al hoe meer kyk na produksiemetodes wat minder van energie afhanklik is. Net so sal die produksie van hernubare energie en biobrandstof uit landbouprodukte al hoe aantrekliker word. Diegene wat aandele in Sasol besit, sal goed beloon word . . .
Een van die grootste kostekomponente by veral intensiewe boerderybedrywe is die aansienlike styging in arbeidskoste oor die laaste drie jaar. Dit het tyd geword dat dié kostekomponent, wat in sommige boerderye tot soveel as 40 % van die produksiekoste is, ook gemonitor moet word. Daarby wil ek ook die produktiwiteit van arbeid insluit.
Elke boer weet dat die inkomste die laaste twee jaar skerp gedaal het en dat die landbou onder druk verkeer. As hy dit nie aan sy eie bas voel nie, sien hy dit of lees daaroor. Die syfers van die Departement van Landbou bevestig dit. Hierdie gegewens behoort egter wyer gepubliseer te word - ook deur middel van advertensies, want dit is kommerwekkend as swart vakbondleiers nog die mening uitspreek dat die landbou se winste styg en dit daar voor die wind gaan.
Hierdie inligting moet ook aan die Kabinet oorgedra word. Die Minister van Finansies het enkele weke gelede 'n opmerking oor die landbou se geldsake gemaak wat van onkunde spreek.
Die Minister van Arbeid en die ANC moet ook ingelig word.
Die feit wat al hoe meer in gesprekke na vore tree, is dat die Regering ernstig sal moet nadink oor die manier waarop nuwe boere gevestig word. Die landbou-omgewing is deesdae hoegenaamd nie meer vriendelik nie. Net dié boere met die skerpste sakesin sal dit maak.
8 Julie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24