|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Dit is nie toevallig nie dat die bekendmaking van die ANC se verkiesingsmanifes vroeër in Januarie saamgeval het met verskeie berigte in die media wat die landbou in 'n ongunstige lig stel.
Die landbou kan maar sy vere regskud: Die aanloop tot die verkiesing gaan 'n moeilike tyd vir dié bedryf wees. Dit lyk asof 'n deel van die ANC se propaganda om stemme te werf, gaan wees om boere verdag te maak en druk op die landbou te plaas. Dit moet lyk of dié politieke party iets daadwerkliks vir die meerderheid kiesers doen.
Dit is myns insiens ook glad nie toevallig dat 'n groep boere in die Noord-Kaap van skendings van menseregte beskuldig is in dieselfde week wat die ANC sy verkiesingsbeloftes bekend gemaak het nie. Boonop het die Beweging van Grondlose Mense die nuus gehaal met sy gesprek met die Minister van Landbou en Grondsake in Durban.
'n Mens kan net wonder waarom die hernieude dreigemente oor die landbou volg kort nadat pres. Thabo Mbeki sy vriend Robert Mugabe besoek het en Mbeki se uitspraak dat Suid-Afrika baie met Zimbabwe in gemeen het en by hom kan leer.
'n Nog erger stuk propaganda was in die tweede week van Januarie toe die SABC oor die droogte berig het. Die fokuspunt was oor plaaswerkers wat afgedank gaan word. Terselfdertyd verskyn briewe in koerante waarin mense vra waarheen die afgesette plaaswerkers moet gaan. Na die beste van my wete is dit nie wat gebeur nie en dit is net 'n voorbeeld van die verdraaiings wat in die volgende maande voorlê.
In die proses word onkundiges ook ingespan om geloofwaardigheid aan dié soort propaganda te gee. Dr. Iraj Abedian, die groep-ekonoom van Standard Bank, beweer in die SABC-TV se droogtenuusberig van 14 Januarie dat die impak van die droogte via die landbou minimaal op die ekonomie gaan wees. Staaf hy dus dat die landbou nie belangrik is nie?
Hy trap ook in 'n slaggat deur te sê dat die droogte nie 'n probleem by voedselinflasie gaan wees nie. Intussen het die mielieprys in die ses weke van begin Desember tot 15 Januarie met 45 % gestyg, dié van sonneblomme met 35 % en koring met sowat 8 %.
Hy sê ook dat die vleisprys nie behoort te styg nie, terwyl ingeligtes weet dat daar nie slagdiere in die tweede deel van die jaar gaan wees nie. Hierdie tekort kan die vleisprys lekker hoog opjaag, terwyl die swakker rand sal sorg vir heelwat duurder invoer.
Die swak landboujaar gaan net beklemtoon presies hóé belangrik die landbou vir die ekonomie is.
Dit was nie vreemd nie dat die waarde van die rand in die eerste 10 dae van Januarie skerp gedaal het van net meer as R6/dollar tot bokant die R7-vlak. Ontleders skryf dit toe aan senuagtigheid by beleggers oor die ANC se verkiesingsveldtog.
Op hierdie trant gaan die landbou baie skade ly. Ongelukkig lyk dit asof die platteland en die boerderygemeenskap een van dié teikens gaan wees. Dit is 'n maklike teiken om die aandag weg te trek van die ANC se uitstaande beloftes van werk en 'n beter lewe.
Dit sal landbou-organisasies loon om gou te besin oor maniere waarop hierdie neiging teengewerk kan word. Mbeki en die ANC se uitvoerende komitee behoort so spoedig moontlik hieroor gespreek te word.
Individuele boere sal hulle ook moet voorberei op soortgelyke gebeure, asook ander aksies waarin hulle uitgelok gaan word om te reageer.
Kwessies wat in die kollig gaan kom en wat niks goeds vir die landbou inhou nie, is allerlei aantygings oor die mishandeling en afsetting van werkers waarin geïsoleerde gevalle as die norm beskryf sal word. Aansprake op grond en dreigemente teen boere gaan toeneem.
Elke boer sal voorbereid moet wees om nie in só 'n slaggat te trap nie. Dit kan landbou-organisasies loon om 'n noodprosedure op te stel vir ondersteuning en die korrekte optrede om skade te beperk.
Die ANC hét baie gedoen om arm mense in die afgelope tien jaar op te hef. Meer as 70 % van die huishoudings in die land het toegang tot water en krag teenoor net 30 % in 1996. Die toegang tot lopende water het van 60 % van die huishoudings in 1996 tot 80 % gegroei.
Staatstoelaes aan armes het van R10 miljard aan 2,6 miljoen mense in 1996 toegeneem tot R34 miljard aan 7 miljoen mense. Besteding aan gesondheidsdienste en onderwys het ook reëel skerp toegeneem.
Intussen is ook heel goed gevaar met die makrobestuur van die ekonomie.
Die kern van die ANC se verkiesingsmanifes is geleë in die doelwitte om werk te skep en armoede drasties te verlig. In hierdie konteks is daar militantes wat sê dat een van die maklikste maniere om armoede te oorkom, is om vir elkeen 'n stukkie grond te gee dan kan hy self kos produseer (wat sommer werk verskaf) en armoede verlig.
Die militantes beskou die doelwit om 30 % van die grondbesit binne vyf jaar aan swart mense oor te dra, as heeltemal te stadig. Daarom is plaaswerkers 'n belangrike en emosionele teiken, want as die werker sy werk verloor, is hy ook sy werkplek kwyt.
Hoeveel genoteerde maatskappye voorsien maatskappybehuising aan werkers en laat hulle toe om daarin aan te bly, al werk hulle nie meer vir die maatskappy nie? Dit is mos moedswillig om die landbou alleen hiervoor uit te sonder.
Van die ANC se stappe om in die volgende vyf jaar armoede te verlig en werk te skep, is:
Ten slotte
'n Mens kan nie fout vind met die ANC se doelwitte om die ekonomie te laat groei, werk te skep en mense op te hef nie.
Die landbou se probleem is in die proses van stemwerwery, waarin militantes en die teenstanders van matigheid die krane gaan oopdraai soos wat hulle gaan poog om die menigte se steun te wen.
Dit is egter belangrik dat die landbou groot druk op pres. Mbeki en die Kabinet plaas om te sorg dat die militantes nie die wa ontspoor nie.
30 Januarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24